‘n Drieluik artikels oor die Byderhand-Pionierprojek

‘n Drieluik navorsingsartikels oor die Byderhand-Pionierprojek het onlangs in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn (Jaargang 60 No. 4-2: Desember 2020).

In ‘n redakteursnota by die artikels skryf die redakteur Ina Wolfaart-Gräbe soos volg:

“Die Byderhand-Pionierprojek, soos ’n mens al uit die naam kan vermoed, is ’n heel besonderse onderneming. Gesetel in Worcester, in die Breëriviervallei in die Wes-Kaap, behels die projek multimodale literatuurinstallasies, wat ook toeganklik is vir siggestremdes. Aan die een kant is dit as ’n voobeeld van toegepaste elektroniese literatuurstudie die neerslag van gevorderde akademiese navorsing; maar aan die ander kant het samewerkingsverhoudings met verskeie partye daartoe bygedra dat die praktiese uitvoering daarvan met groot sorg en kundigheid geskied het. Dit is, met ander woorde, soos die outeurs dit eksplisiet stel, ’n voorbeeld van ’n deelnemende projek “as praktiese toepassing van navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid”. Die totstandkoming van ’n multisensoriese tuin in Worcester en die skep van digitale literatuur, soos verhale en gedigte, word in die drie artikels in hierdie afdeling uiteengesit. Franci Greyling, Suna Verhoef en Gustaf Tempelhoff skets die totstandkoming, konseptualisering en uiteindelike volvoering van die projek. In die daaropvolgende artikels fokus Bernard Odendaal en Franci Greyling op die plasing van gedigte en verhale in die tuin. Vermeldingswaardig is die deurgaanse fokus op die kernbydrae van siggestremdes, as volwaardige vennote in die totstandkoming en beplanning van alle aspekte van die projek.

“Beskou vanuit ’n ander hoek, kan hierdie projek saamgelees word met die fokus op die kwesbaarheid van kinders in die konteks van Suid-Afrikaanse huishoudings en families. Dit illustreer, sy dit dan nie binne gesinsverband nie, hoe verbeeldingryke samewerking tussen universiteite, skole en die breër gemeenskap een tipe gestremdheid kan verlig.”

Die titels en opsommings van die drietal artikels bied ‘n blik op die inhoud daarvan:

Die Byderhand-Pionierprojek: ’n Gevallestudie van die deelnemende dinamika in die skep en toeganklikmaking van lokatiewe literatuur vir persone met siggestremdheid
Franci Greyling, Suna Verhoef en Gustaf Tempelhoff

Die artikel bied, deur ’n bespreking van die Byderhand-Pionierprojek as gevallestudie, ’n blik op die praktiese implementering van deelnemende en skeppende interdissiplinêre projekte in die Digitale Humaniora. Die Byderhand-Pionierprojek, wat lokatiewe literatuurinstallasies in Worcester in die Wes-Kaap behels, is uniek in dié opsig dat die multimodale literatuurinstallasies vir persone met siggestremdheid toeganklik is en dat persone met siggestremdheid ’n integrale rol in die totstandkoming van die projek gespeel het. Die artikel fokus op die kontekstualisering van die gevergde deelnemende benadering; op die projekkonseptualisering en -raamwerk; op die deelnemende dinamika wat die totstandkoming van die multisensoriese tuin, die skep van die digitale literatuur daarby betrokke, en die toeganklikmaking van sodanige inhoud moontlik gemaak het (koppelvlakontwerp); en op nabetragting oor en gevolgtrekkings aangaande die projekbenadering. Deelname aan die projek het die projekspan bewus gemaak van die behoeftes van persone met siggestremdheid en van die noodsaak van groter inklusiwiteit en toeganklikheid van kultuurprodukte – in die besonder soos dit ten opsigte van koppelvlakontwerp en digitale aanbieding van literatuur tot uitdrukking kom.

Manifestasies van sintuiglikheid in enkele gedigte ingesluit by twee digitale Byderhand-installasies te Worcester
Bernard Odendaal

In die Westerse tradisie word veral sig, maar ook gehoor, as ’n “hoër” sintuiglike vermoë geag. Hiertoe dra die versnelde opkoms van ’n wetenskapskultuur oor veral die afgelope twee eeue by. Beelding gebaseer op veral visuele waarneming oorheers ook in die digkuns, soos waarneembaar is in die meeste gedigte opgeneem in twee Byderhandprojek- digitale installasies by die Pionierskool en in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin te Worcester. Die tassintuig speel ’n belangrike rol in siggestremdes se verkenning van voorwerpe en ruimtes. Betasting verg beweging, sodat siggestremdes se waarnemingswyse deur beweging gekenmerk word. Analogisering van sintuiglike waarnemings (sinestesie) is nog ’n strategie wat dikwels deur hulle benut word. Meer onlangse navorsing beklemtoon dat daar, naas die uiterlike sintuie, ook intero-reseptore (vir waarneming van, byvoorbeeld, balans en beweging) is wat die mens se persepsie bepaal. Sodoende word beliggaamde belewing moontlik. Laasgenoemde dien as teenvoeter vir die kultureel en talig gemedieerde omgang met verskynsels wat, in Lacaniaanse terme, so kenmerkend die Simboliese Ordening daarvan oorheers. Vier gedigte uit die Byderhandprojek-versameling te Worcester wat in hierdie artikel bespreek word demonstreer, op verskeie wyses, bogenoemde aspekte van sintuiglikheid. Die ingeplaastheid van estetiese belewing wat hierdie geïnstalleerde tekste bemiddel, korreleer voorts met die begeerte na liggaamlike toenadering tot die Karoo-natuurverskynsels wat in die gedigte uitgedruk word.

“Wie is dan blind?” Beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid
Franci Greyling

Die artikel behels ’n ondersoek na die beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid. Die Pionierstorieversameling wat op die skoolterrein van ’n skool vir leerders met siggestremdheid geïnstalleer is, bestaan uit verhale, vertellings en gedigte deur leerders en oudleerders van die betrokke skool. In hierdie artikel word ondersoek hoe die Pionierstories as lokatiewe narratiewe moontlik insig sou kon bied in die plekervaring van die skrywers, asook sou kon bydra tot lesers se verdiepte ervaring van die plek en tot die sigbaarmaking (bewuswording) van stories, liggame en gemeenskappe. Om die Pionierstories binne dié konteks te verstaan, word ’n raamwerk saamgestel waarin die konsepte van beliggaamde ruimte en ingeplaastheid bespreek word, soos dit verband hou met die multisensoriese aard van waarneming, die ingeplaaste skryfaksie, met narratiewe van persoonlike ervaring en die ekosomatiese benadering tot gestremdheid; asook met die beliggaamde ervaring van die ingeplaaste leser-deelnemer. Vier verhale uit die versameling word aan die hand van sodanige raamwerk bespreek. Die geïntegreerde uitbeelding van die konkrete én abstrakte aspekte van plek in die Pionierstories, demonstreer die verweefde dimensies wat die ervaring van plek bepaal, die sentrale rol en agentskapfunksies van die ingeplaaste skrywer in plekskepping, asook die konkreetheid van die ervaring deur die leser-deelnemer in die betrokke lokatiewe installasie soos dit tot die verhoogde sigbaarheid van die stories, liggame en die gemeenskap bydra.

Die tydskrif met die drie artikels kan gratis afgelaai en gelees word:
http://tgwsak.co.za/wp-content/uploads/2020/12/TGW-60-4-2-DES-2020.pdf

Franci Greyling – Januarie 2021

Byderhand tuinverse langs die Mooirivier

Die Byderhand Tuinverseprojekte bied sedert 2015 unieke interaktiewe leeservarings vir poësie- en natuurliefhebbers deurdat hulle gedigte oor die omgewing in die natuur kan ervaar. Byderhandinstallasies is reeds deel van die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom, die Digterstuin by die Breytenbachsentrum in Wellington, en die multisensoriese tuin by die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester. Die inperkingsmaatreëls as gevolg van die koronaviruspandemie, het hierdie buiteluginstallasies ontoeganklik gemaak – en daarmee saam ook die geleentheid om die tuinverse te geniet.

President Cyril Ramaphosa het op 23 Maart aangekondig dat die land vanaf 26 Maart vir 21 dae in ‘n staat van inperking sal wees; die nasionale staat van inperking is later tot 30 April verleng. Alle openbare plekke soos universiteite, skole, parke en tuine is gesluit. In hierdie tyd was almal tot hulle wonings of erwe beperk en kon mens slegs die huis verlaat vir noodsaaklike aankope. Vanaf 1 Mei is die inperking na vlak 4 verlaag – tydens hierdie vlak mog mens tussen 06:00 en 09:00 in die omgewing stap, mits dit binne ‘n radius van 5km van jou woonplek is.

Vanaf 1 Junie is die nasionale beperkings na vlak 3 verlaag en kon mens enige tyd tussen tussen 06:00 en 18:00 buite wees. Openbare parke was egter steeds gesluit. In dié tyd was die rivieroewer langs Van Rooystraat in Potchefstroom ‘n uitkoms vir baie mense. Die sogenaamde “Gimmiesgat” bied met die oop ruimtes, natuurlike paadjies tussen die bosse, en die kabbelende Mooirivier, vir jonk en oud ‘n plek om te ontspan en te herlaai.

Die Byderhandspan het daarom besluit om, in samewerking van die Owersig-inwonersvereniging, die verse vir ʼn wyle hulle stories langs die rivier te kom laat vertel. Met ‘n nuwe omgewing en konteks in gedagte, het ons ‘n keuse van verse uit die bestaande installasies gemaak. Vanselfsprekend sou TT Cloete se gedig, “Potchefstroom”, deel van die versameling wees. Ook ander tuinverse uit die NWU Botansies Tuin kon betreklik maklik na die nuwe omgewing verplaas, terwyl ander vanweë hulle plekspesifiekheid, nie hier kon werk nie. Twee gedigte uit die Digterstuinversameling het ook goed in die nuwe konteks gepas, naamlik “Die digter se tuin” (Daniel Hugo) en “Het avondmaal” – ‘n gedig van Alfred Schaffer wat in die tyd van die koronaviruspandemie nuwe betekenis gekry het. William Rowland se gedig “Die huis waar ek woon”, is geleen uit die Pionierversameling. Vyftien kinderverse is deel gemaak van die versameling.

Die kaartjies met die QR-kodes is aan die bome opgehang en inligtingstukke oor die projek is op prominente plekke aangebring.

Die installasie kon vanaf 1 Julie 2020, op die 98ste dag van inperking, langs die Mooirivier in Oewersig geniet word.

Franci Greyling – September 2020

Die projek bied besoekers die geleentheid aan om taal, woorde en die natuur bymekaar te bring. Hierdie konsep het parkbesoekers se belangstelling geprikkel en hul aandag gelok. Kinders sien dit as ‘n skattejag en hardloop van kaartjie tot kaartjie op soek na die volgende gedig. Hul ouers kry deur hierdie geleentheid ‘n kans om onbewustelik vir hul kinders te leer oor taal en die natuur; en op so manier dat dit vir die kinders voel of asof hulle speel. (Jonathan Birch)

“Byderhand” – so ‘n mooi uitdrukking en kyk hoe kreatief het hulle dit hier in Potchefstroom ingespan. Jy kry hierdie gedigte byderhand op die bome op jou selfoon as jy jou selfoon in die hand het. TT Cloete en ander se stemme wat self hulle gedigte voorlees in verskeie Afrikatale. Hoe oorspronklik is die mens nie! So ‘n lekker verrassing vir my op lentedag. Dankie julle Potchefstromers. (Annalien Burger, Facebook” Ek reis deur my pragtige land … Suid-Afrika)

Byderhand-Pionierskool: ‘n Luisterryke bekendstelling

Die Byderhand-Pionierskoolprojek is op 30 Augustus 2018 luisterryk bekendgestel met die opening van die multisensoriese tuin by die Pionierskool.

Byderhand, ʼn interdissiplinêre kreatiewe en navorsingprojek, bied interaktiewe leeservarings waardeur plek en literatuur op ‘n nuwe manier ervaar kan word. Die projek in samewerking met die Pionierskool vir Siggestremdes, bestaan uit drie dele, naamlik Pionierstories, Tuinverse en Karootuinverse. Skrywers en kunstenaars in die projek sluit bekende digters, asook leerders, oudleerders en personeel van die Pionierskool in.

Met die projek by die Pionierskool het die span spesifiek navorsing gedoen om te verseker dat die projek toeganklik is vir siggestremde persone. Om in dié doel te slaag, word ʼn kombinasie van media gebruik. Al die stories en gedigte is opgeneem en kan via slimfone of tablette ervaar word. Dit is hierdie ouditiewe komponent wat die Byderhandprojek so toeganklik maak vir mense met sigsverlies, soos dit ook duidelik blyk uit die entoesiastiese ontvangs van die projek.

Die konkrete en digitale koppelvlakke (“interfaces”) bestaan uit braille-instruksies, bordjies met QR-kodes en ʼn digitale koppelvlak waarin van spraaktegnologie gebruik gemaak word. Die koppelvlakontwerpe is die werk van Gustaf Tempelhoff, die multimedia-ontwerper in die span. Gustaf doen sy  sy meestersgraadstudie in Grafiese Ontwerp binne die projek. Die brailledrukwerk is deur die Pionierdrukkery gedoen.

Tuinverse: Besoekers kuier onder skadubome by die multisensoriese tuin. Regs is bordjies wat die tuinverse aandui en plantinligting verskaf.

Die multisensoriese tuin op die skoolterrein is ontwikkel deur die Pionierskool en Hoërskool Brackenfell as deel van die ATKV se Handevatprojek, en afgerond in samewerking met die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin, Afrikaans.com en Byderhand. Die tuin bied aan leerders ʼn besondere multisensoriese ervaring: die plante in die tuin is gekies met die fokus op reuk en tas; die paadjies is uitgelê met verskillende teksture; buitelug-musiekinstrumente van herwonne materiaal nooi die leerders uit om saam te speel en musiek te maak, en ʼn muurskildery deur Afrikaans.com, met idiome wat met klank te doen het, rond die tuin af. Byderhand se bydrae tot die multisensoriese tuin is 10 tuinverse en kinderverse deur William Rowland, Hans du Plessis, Bernard Odendaal, Daniel Hugo, Floris A. Brown en Franci Greyling. Van die verse word aangevul deur musiekverwerkings, vertalings en tipografiese animasies sodat die leerders werk op ʼn verskeidenheid maniere kan ervaar.

  Pionierstories: Links luister Reinette Popplestone en Rouxné van der Westhuizen in Blindiana Barista na Reinette se storie. Regs is een van die Pionierstoriebordjies op die skoolterrein.

Die tweede gedeelte van die projek, Pionierstories, is geskryf en vertel deur leerders, oudleerders en personeel van die Pionierskool sowel as visueelgestremde persone van die Worcestergemeenskap. Hierdie stories kan ervaar word in Blindiana Barista, ʼn koffiewinkel, by die Innovation for the Blind (Instituut vir die Blindes) in Worcester. Skrywers in dié projek het ʼn gesellige bekendstellings­geleentheid in Blindiana Barista bygewoon. Joseph Matheatau, koffiewinkel se blinde barista, se vertelling is deel van die storieversameling. Die Pionierstories is ook op die skoolterrein aangebring by die plekke waar die verhale afspeel, sodoende bied dit aan die leerders ʼn plekspesifieke en konkrete ervaring.


Karootuinverse: Links verduidelik Werner Voigt, kurator van die botaniese tuin, een en ander oor die beplande brailleroete. Regs waaier die wolke oor die tuinlandskap.

ʼn Derde gedeelte van die projek in Worcester word samewerking met die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin onderneem. Digters met ʼn verbintenis met Worcester en die Breëriviervallei is genooi om gedigte oor die omgewing te skryf. Hierdie gedigte word deel van die nuwe brailleroete wat tans in die tuin ontwikkel word. Die gedigte deur 10 skrywers waar onder Diana Ferrus, William Rowland, Daniel Hugo en David Kramer is o.a. vertaal in Engels, Portugees en Duits. Hierdie projek is tydens ʼn skemerkelk-geleentheid in die botaniese tuin bekendgestel waartydens gaste na die gedigte soos voorgelees deur die digters, geluister het. Die gaste was dit eens dat die kombinasie van karoolandskap en die gedigte ʼn besondere ervaring vir besoekers aan die tuin sal bied.

Hierdie uitdagende projek was en is steeds vir die Byderhandspan ʼn besondere verrykende ervaring en die projek sal deel bly van die vakgroep Skryfkuns se voortgesette navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid.

“Byderhand” word onderneem binne die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Die projek is ʼn goeie voorbeeld van ʼn skeppende projek in die digitale humaniora (Digital Humanities).

  • Franci Greyling – September 2018

“Hier in die tuin…” – SETH: ‘n eerstehandse ervaring

“Hier in die tuin
waar jy kan ontsnap
waar bome jou vriende word
en voëltjies jou geselskap.”


In September 2017 het ons ʼn Byderhandsessie vir die graad 9-groep van die SETH-akademie aangebied waartydens hulle die tuinverse in die NWU-Botaniese Tuin eerstehands ervaar het.

Die SETH-akademie (Wetenskap, Ingenieurswese, Tegnologie en Gesondheid) is ʼn gesamentlike inisiatief van die Noordwes Departement van Basiese Onderrig, die Noordwes-Universiteit en die bedryf om leerders voor te berei vir tersiêre opleiding in beroepe met skaars vaardighede.

In die program wat in samewerking met die Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom aangebied word, word talentvolle leerders geïdentifiseer en van graad 8 tot 12 voorberei vir professionele beroepe in diverse rigtings soos ingenieurswese, wetenskap, medisyne, finansies, ekonomie en wiskunde- en wetenskaponderrig. Leerders word een middag elke week deur interessante en uitdagende lesings en praktiese aktiwiteite aan ʼn verskeidenheid dissiplines en vaardighede bekendgestel. In 2017 was die SETH-program op ʼn probleemgebaseerde benadering geskoei met die leerders wat aktief betrokke was in die sessies. Klem is geplaas daarop om leerders toe te rus met vaardighede en ʼn instelling tot samewerkende leer, interdissiplinêre samewerking en beroepskennis. Daar is ook besluit om meer aandag aan die ontwikkeling van die taalkomponent vir graad 8 en 9-leerders te gee.

Die Byderhandsessie met die leerders het juis by die taalkomponent aangesluit.

 
Die sessie is ingelei met ʼn kort inleiding oor tegnologiese verandering, multimodaliteit, digitale literatuur en nuwe skeppende moontlikhede vir skrywers en kunstenaars, plekspesifieke digitale literatuur en interdissiplinêre samewerking. Die groep is spesifiek aan die Byderhand Tuinverse bekendgestel.

Franci Greyling het vertel hoe sy te werk gegaan het om versies te skryf wat by spesifieke plekke in die tuin pas, wat die produksieproses behels het en hoe verskillende persone se vaardighede bygedra het tot die eindproduk (stemkunstenaars, animeerders, multimedia ontwerpers, komponiste en musikante en vertalers). So tussenin is ʼn klompie skryfwenke verskaf.

Gustaf Tempelhoff (multimedia-ontwerper) het gesels oor sy belangrike aandeel in die projek (ontwerp van projekidentiteit, platform-, web- en koppelvlak-ontwerp, verspreiding, ens) en ook verduidelik wat ʼn QR-kode is en hoe die QR-leser werk, hoe die koppelvlak lyk en wat die verskillende weergawes van die tuinverse behels.

     
Met ʼn aktiwiteitsboekie in die hand (in Afrikaans, Engels en Setswana) het leerders die tuin ontdek, die tuinverse ervaar, self waargeneem, hulle eie tuinverse geskryf… en sommer net ontspan.

“Hier in die tuin
Word elke sintuig geprikkel:
Lowergroen plante, orals te sien
Kleurryke voëls, hul skoonheid verdien,
Lewegewende water wat jou siel verfris
Gee jou sommer ook ʼn lewenslus.”

k_DSCN7894  k_DSCN7898
As deel van die refleksie oor die sessie het die leerders elektronies terugvoer oor die projek gegee en ook hulle eie tuinverse ingesleutel.

Uit die terugvoer is dit duidelik dat almal die sessie geniet het, nuwe energie in die tuin gekry het … en boonop aan die dink en die dig gesit is.

  • “It was amazing how we can use technology for so much more than just social media.”
  • “Baie uniek en lekker. Dit was ‘n baie waardevolle sessie vir my.”
  • “It was calming and it felt as if I was in touch with nature.”
  • “Die tuin het my gemaklik en ontspanne laat voel.”
  • “It’s the most creative thing I’ve seen this year. I’m still in shock.”
  • “Die omgewing is baie lekker om te ontspan en gedigte te skryf.”
  • “I enjoyed the experience because I got to explore the garden and immerse myself in the session.”
  • “Ek het dit baie geniet veral omdat ek ʼn buitelug meisie is! Dit was lekker om te sien wie eintlik die gedigte geskryf het en waar hulle inspirasie vandaan gekom het.”
  • “It was truly exceptional as I got to detox my system with nature and being poetic about was like a remedy to my technological addiction.”

  k_DSCN7865
“Hier in die tuin
Kan jy jouself weer vind.
Jy kry tyd om te dink.
Maar ek waarsku jou nou:
Die gras so groen
Die water so blou,
Dit gaan nog vernietig word
Deur my en jou!”
(Karin Kooij; 15 – ‘n Tuinvers geskryf tydens die sessie)

“Ssshhh,
I hear the water singing
What a wonderful lullaby
A beautiful melody
Eases the soul and soothes the heart
Therapy
Serenity like hearing a baby’s laugh after a long tiring day
I hear the water singing
Sssshhhhh
What a peaceful melody.”
(Tlotliso Lebitsa; 15 – ‘n Tuinvers geskryf tydens die sessie)

  • Franci Greyling – Januarie 2018

Tuin van digters, Breytenbachsentrum, Wellington

Die versameling gedigte in die Digterstuin van die Breytenbachsentrum in Wellington is tydens die Fees van Digters (16-18 September 2016) met ‘n nuwe toevoeging uitgebrei. Nou kan besoekers aan die tuin benewens gedigte op interessante mediums soos teëls, uithangborde en beeldhouwerke, ook digitale gedigte ervaar: Byderhand Digterstuin.

copy_dscn5200_1000  copy-dscn5189_1000
Die Byderhandspan is n.a.v. die Tuinverse in die NWU-Botaniese Tuin genader om nuwe tuinverse vir Tuin van digters te skep. Hierdie uitnodiging bied ook ‘n gulde geleentheid om die navorsing oor plekspesfieke digitale literatuur na ander plekke uit te brei.

Theo Kemp, die uitvoerende bestuurder van die sentrum, het vyf Kaapse digters uitgenooi om deel te word van die projek: Danie Marais, Alfred Schaffer, Zandra Bezuidenhout, Hennie Nortjé en Daniel Hugo. Liam Longland, Ricardo Liut, Cherié Cordier en Philip van Heerden was verantwoordelik vir die treffende animasies van die gedigte. Die QR-kodes van gedigte is op die bankies in die tuin aangebring – elkeen op ‘n plek waar die gedig en die omgewing die beste in gesprek kan tree.

alfredschaffer_1000  copy-dscn5132_1000
Alfred Schaffer se gedig, Die Aandete / Het Avondmaal

 a_hennienortje  copy_dscn5193_1000
Hennie Nortjé met Swartbas – reg by die swartbas wat hy in die tuin geplant het

copy-dscn5249_1000  copy_dscn5222_1000
Daniel Hugo en Die digter se tuin – en gesellige digters in die tuin

copy-dscn5224_1000  copy-dscn5230_1000
Danie Marais met Toy Story 

copy-dscn5169_1000  tuin_1000
Twee kinderverse van Franci Greyling kan ook in die tuin ontdek word: Met die voëls praat en Tuinmaak

Die Fees van Digters vind jaarliks plaas naby die verjaarsdag van Breyten Breytenbach (16 September.) Vanjaar is drie dae lank fees gevier met ‘n uitgebreide program wat vir ieder en elk voorsiening gemaak het.

Die digters het hulle gedigte voorgelees by die gesprek oor digitale literatuur wat as deel van die feesprogram in die woordtent aangebied is. Met: Bernard Odendaal, Diek Grobler, Yves T’Sjoen en Franci Greyling (gespreksleier); voorlesings deur Danie Marais, Alfred Schaffer, Zandra Bezuidenhout en Hennie Nortjé. Byderhand is ‘n projek van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) waarin digitale digkuns en die natuur op vindingryke manier bymekaar uitkom, deurdat jy op jou slimfoon, via ‘n strepieskode in die natuur aangebring, ‘n gedig kan aflaai wat met die tuingegewe te doen het. Hierdie projek is met groot sukses in die NWU se Botaniese Tuin aangebied tydens die Aardklop-fees in 2015. Enkele splinternuwe tuinverse is vir die Tuin van Digters geskryf en digitaal bewerk. Filmverse is op sy beurt ‘n projek waarin digters se verse tot animasiefilms verwerk word. Betrokkenes by beide projekte kom gesels oor wat digitale digkuns behels en hoe ons vergelyk met wat in Europa gebeur. Van die digters wie se werke opgeneem is vir die Byderhand-projek, kom lees hul werk voor. Besoek Byderhand se Digterstuin blad en laai die QR-leser op jou slimfoon hier af om die Byderhand kodes in die tuin te kan benut. 16:45 | 60 min. | Woordtent

copy-dscn5124_1000  copy_dscn5143_1000   Byderhand: Bernard Odendaal. Die Byderhandspan is veelsydige planmakers – Gustaf Tempelhoff en Daniel Hugo in hulle “ateljee” besig met die opname van Daniel se gedig.

bb_banier

  • Franci Greyling – September 2016

Die skep van die Tuinverse totempale – ‘n kunstenaarsblik

Die kunstenaar van die totempale vir Tuinverse, Strijdom van der Merwe, in gesprek met DJ Cloete.

totem7  totem5

  1. U is ʼn bekende landkunstenaar met ʼn lang lys van uitstallings en betrokkenheid. Hoe was u ervaring met Byderhand?

Ek was nog altyd geïnteresseerd en voorstaander van samewerking tussen die verskillende kunstedissiplines. Woordkunstenaars kan dinge in woorde sê en musikante kan dit met klanke doen en visuele kunstenaars kan dit met beelde uitdruk. Dit open altyd vir my nuwe wêrelde oor hoe die verskillende breine werk. Dit is fassinerend. So was dit dan ook die geval gewees met Byderhand.

toterm_proses1
Foto: Strijdom van der Merwe

2. Hoe het u die besluit gemaak om die gedigte in die vorms van totems voor te stel. Was slegs u by hierdie besluit betrokke of was daar ander faktore wat ʼn rol gespeel het?

Ek het al dikwels in die verlede totems gemaak, so die hele konsep of besluit was dus nie moeilik gewees nie. Ek was/is nog altyd geïnteresseerd oor die storiebetekenis van totems en wat dit alles versinnebeeld, en dink daarom was dit ʼn besluit gewees om ryk digkuns te probeer uitbeeld in die vorm van totems. Miskien was elke digter se diep denke oor die spesifieke plek ook ʼn tipe van ʼn ‘gebed’ van nadenke oor die omgewing.

  1. Watter kennis dra u van totems en hoe het dit bygedra tot die uiteindelike vorming van die totems? Het u uit ʼn spesifieke tradisie die totems geskep?

Ek het nog nooit ʼn dieptestudie gedoen van totems nie. Dit was maar nog net altyd ‘bolangs’ geïnteresseerd in wat hulle sê en wat hulle versinnebeeld. Die Australiese Aboriginale totems, waarvan ek een het, vertel stories van die persoon se geboorte tot sy sterfteplek ens. Natuurlik is daar die Noord Amerikaanse Indiaanse totems en totems as aanbiddingspale, ens. Maar ek was meer geïnteresseerd in die totemtradisie wat stories vertel eerder as die wat aanbid word. Daarom die storie-vertel-totems vir die Byderhand-projek.

  1. Wat was die proses vir die fisiese skep van die totems?

Dit was lees en lees en dink en dink oor elke gedig. Ek het letterlik maande met die gedigte in my kop rondgeloop voor ek begin het met die skep van die totems. Die besluit was dan by elkeen watter gedagtes / woorde / beelde kan ek oordra deur middel van visuele vorms. Vir my was nie elke woord van elke gedig uitbeeldbaar gewees nie. Party gedagtes het makliker hom verleen tot uitbeelding. So het ek dan sketse gemaak en weer gemaak en oor en oor geteken totdat ek by iets uitgekom het wat visueel werk, maar ook ʼn versinnebeelding is van die gedig.

totem_sketstotem_proses2  totem_proses3Skets en foto’s: Strijdom van der Merwe

  1. Baie van die totems wat u geskep het, word daar ʼn voorstelling gemaak van woorde wat meer konkreet uitgebeeld kon word. Watter invloed het die gedigte op die vorm van die totems gehad? Wat was die wisselwerking met die skep van die totems en die gedigte?

Ek dink elke totem het ek eerstens gesien as ʼn kunswerk wat moes werk volgens die standaarde van kuns: perspektief, vorm, tekstuur, balans, ens. Daarom sou die totem nie noodwendig ʼn uitbeelding wees van die presiese woorde van die gedig nie, m.a.w. beeld een is eerste op totem beeld twee tweede. Maar eerder sou ek die vorms wat visuele ontstaan het as gevolg van my lees bymekaar gesit word om ʼn visuele eenheid te vorm. Dit moes as ʼn kunswerk onafhanklik kan staan van die gedigte.

totem_stel1  totem_stel2
Foto’s : Strijdom van der Merwe

  1. Die digters het Potchefstroom as ʼn kernpunt, en grotendeels ook die botaniese tuin, as verwysing gebruik om ʼn plekspesifieke gedig te skep sodat die leser beide die gedig en die omgewing terselfdertyd kan ervaar wat ʼn moontlike beter onderdompelingseffek het. Het Potchefstroom en ook die botaniese tuin ʼn rol gespeel met die skep van die totems?

Ja, dit het beslis ʼn rol gespeel, máár die rol wat dit gespeel het, is deur middel van die woorde en die digkuns wat ek gelees het. Natuurlik was ek al in die NWU se botaniese tuin en Potchefstroom, maar ek dink nie dit maak saak nie. Deur die oë en woorde van die digters skep hulle vir my ʼn wêreld waarin ek myself kon beleef en ervaar, sonder om fisies daar hoef te wees. Dit is wat so wonderlik is van die ander dissiplines van kuns. Ek het my beleef in hulle vertellingswêreld en daaruit kon ek iets skep wat dit versinnebeeld en dus ook die plek.

  1. Die sketse met aantekeninge by wat u gemaak het vir die totems is op ʼn latere stadium by die lys van opsies gevoeg wat die leser kan sien nadat hy/sy die QR-kode geskandeer het. Tot watter mate dink u sal die gebruiker (oorkoepelende term vir leser, kyker en ervaarder) se verstaan van die totempaal verbreed as gevolg van die sketse en watter estetiese effek, dink u, het hierdie byvoeging tot die lys van opsies? Uit my persoonlike ervaring was die ooreenkomste met die gedig duideliker gemaak alhoewel dit tog voor die sketse se byvoeging ook afgelei kon word.

Ek dink die sketse help die kyker ʼn beter betekenis ervaar van die skeppingsproses. Soos ʼn digter sekerlik oor en oor skryf aan ʼn gedig so skets ons ook voordat ons by die finale besluit kom. Die vraag is dikwels: hoe werk jou kop om by so iets uit te kom ? Miskien help die sketse in ʼn minder om meerdere mate so effe die ontbloting van die proses van kreatiwiteit. Nie almal is visueel geletterd nie. En ‘spoon feeding’ kan wêrelde oopmaak vir ʼn beter verstaan.

  1. Watter impak dink u het die tegnologie op die ervaring van natuur en as landkunstenaar, dink u tegnologie moet meer geïnkorporeer word met natuurprojekte, amper ʼn groen-tegnologie tipe projek?

Tegnologie het nog altyd ʼn rol gespeel. En hoe verder die tegnologie ontwikkel, so ontwikkel die kunste ook daarmee saam. Já, beslis moet tegnologie ingespan word om ‘green art’ te help en die kyker meer bewus te maak van die natuur. Ek dink ons is ʼn visuele generasie en as tegnologie kan help om die mens weer nader aan die aarde/natuur te bring, dan já, beslis.

Mense is gewoond daaraan dat kuns in galerye gesien en ervaar word. Baie landkuns gebeur juis waar mense nie eintlik kom nie en daarom is dit so belangrik dat tegnologie ingespan word om die mens bewus te maak van dit wat geskep is maar nie noodwendig bereikbaar was om te sien nie. Dit wat in die botaniese tuin gebeur het. Byderhand, sien ek as ʼn ‘eye opener’ van hoe die oue en die nuwe ‘kyk’ gebruik kan word om verskillende mense se ervaring te stimuleer.

  1. Hoe beskou u die wisselwerking tussen die spesifieke plek en aard van die projek, die tegnologie, die gedig en dan ook die totempaal?

Ek dink dit is ʼn wonderlike ‘marriage’ tussen die verskillende dissiplines. ʼn Spesifieke plek wat by jou ʼn bewuswording word wat anders is as ander plekke – ook daarom die digters se uitbeelding daarvan en daarom die musiekkunstenaars se toonsetting daarvan en daarom my uitbeelding van die lees van die ervaring daarvan. Dit was ook vir my wonderlik om te dink dat iets soos ʼn totempaal wat ʼn eeu oue vorm van skep en storie vertel is gebruik kan word in samewerking met die nuutste tegnologie om die storie op ʼn nuwe manier weer oor te vertel. Ek glo: diep binne ons bly ons aards, ons hou van die eenvoud en die visuele sien en ervaar. Om te kan funksioneer in ʼn modern wêreld en tyd moet ons dit wat tot ons beskikking is gebruik en inspan om die stories oor te vertel en as dit nog op ʼn kreatiewe manier gedoen kan word ( Byderhand ) dan nog soveel beter.

Vir my was/is plekspesifieke kuns nog altyd die eerlikste ervaring en uitbeelding van die kreatiewe proses. Wanneer jy iets sien en ervaar is dit die omgewing se invloed wat ʼn rol speel oor hoe jy dit beleef.

http://www.strijdom.com/

totem_opstel  totem_opstel3  totem_4  totem_2  Foto’s : Franci Greyling

Gesprek: DJ Cloete met Strijdom van der Merwe
30 April 2016

Garden Poetry – 2 gardens 2 experience(s) 2 connect

Byderhand Tuinverse (At hand: Garden Poetry) is a site specific digital literature project by the North-West University, Potchefstroom, South-Africa. In this project fifteen Afrikaans poets wrote poems and children’s poetry for the NWU Botanical Gardens in Potchefstroom. The poems are read by the poets and complemented with typographic animations and musical arrangements, as well as 15 totem poles with motives from the poems by the world acclaimed land artist Strijdom van der Merwe. 

A selection from At hand: Garden Poetry  was displayed as an example of e-literature as part of the Introduction to Electronic Literature course at the DHSI (6-10 June 2016), University of Victoria, British Columbia, Canada.

2 gardens, 2 continents, 2 hemispheres – 2 experience(s), 2 connect.

A few examples of Garden Poetry in the garden of the University of Victoria:
Copy - DSCN4526  Dscn4208Copy - DSCN4531  Dscn4528Franci Greyling: Met die voëls praat (Talking to the birds)Dscn4535  Copy - DSCN4540
Copy - DSCN4511
  Dscn4440
TT Cloete: Potchefstroom
20160612_222808  Dscn4501

The installation in the NWU Botanical Gardens, Potchefstroom:
some of the poets with art work by Strijdom van der Merwe:

digter_franciGreyling  t_fg2
Franci Greyling: Wie kwetter so?  (with TT Cloete: Potchefstroom)digter_Bernard Odendaal  digter_t_BernardOdendaalBernard Odendaal: Paddaluisterbankie, Botaniese Tuin, Potchefstroomdigter_Heilna du Plooy  digter_t_HeilnaduPlooyHeilna du Plooy: Binneblik
digter_Hans du Plessis   digter_hansduplessis_tHans du Plessis: Botaniesetuinsonnet
digter_heinviljoen_2  digters_heinviljoen_t
Hein Viljoen: Onder die soetdoring
digters_johanmyburg_b  digter_johanmyburg_tJohan Myburg: Mater Hortensis
digter_Adri Breed  digters_abreed_t
Adri Breed: Skryfopdrag
digter_jansenvermeulen  digter_jansenvermeulen_t
Jansen Vermeulen: Tuinwerker: ‘n skets
digter_ruan_fourie  digter_ruanfourie_2
Ruan Fourie: verlieskuns
digter_carinavdwalt  carina_vdwalt4Carina van der Walt: hoe Eybers & Tutu kyk
digters_susansmith  digter_susansmith_tSusan Smith: By die soetdoring
kunstenaars_chrisvanniekerk
Chris van Niekerk, curator of the NWU Botanical Garden

Tuinverse leef voort op selfone en rekenaars van studente

Skryfkunsstudente van die Noordwes-Universiteit doen in die eerste semester van hulle tweedejaarstudie ’n module in die skryf van gedigte.

Een van hulle eerste opdragte is om ’n liriese gedig te skryf. Tipies van ’n liriese gedig is die vertolking van die emosies of besinnings wat die “ek” van die gedig self ervaar. Dit gaan heel dikwels oor die stemminge wat by die liriese subjek (die “ek”) opkom by die aanskoue van mense, gebeure of natuurverskynsels.

Die meerderheid van die gedigte wat in die Tuinverse-digitale-installasie in die Noordwes-Universiteit se Botaniese Tuin te sien en aan te hoor is, is juis kenmerkend liries van aard (vertel byvoorbeeld nie ’n verhaal nie). Dié installasie was deel van die Byderhand-leesfeesprojek wat in September 2015 op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees geloods is, en die ATKV-Aartvark-prys vir Grensverskuiwende Werk gekry het na afloop van die kunstefees.

bt_skrk211_k

’n Ideale geleentheid het sodoende vroeg in vanjaar se tweedejaarsmodule in Skryfkuns ontstaan vir die studentedigters om as ’t ware ’n klas oor liriese natuurpoësie in die Botaniese Tuin te gaan beleef.

bt_skrk211_2_k

Deur die QR-kodes wat oral by wyse van plakkers op bankies in die Botaniese Tuin aangebring is, met ’n QR-leser op hulle selfone af te tas, kon hulle digitaal toegang kry tot die installasiegedigte (wat ook kinderverse ingesluit het). Hulle kon die tuinverse lees, na voordragte of toonsettings daarvan luister, of kyk hoe die gedigte digitaal geanimeer en gemanipuleer is. Al die Tuinverse het, soos die installasietitel al sê, met die NWU se Botaniese Tuin en die verskynsels daarin te doen gehad.

bt_skrk211_3_k

Daarna was dit tyd vir die studente om elk self ’n liriese gedig te gaan skryf. Ook in hulle gedigte moes daar iets van die (botaniese) tuingegewe ter sprake kom.

bt_skrk211_4_k
bt_skrk211_5_k

  • Bernard Odendaal
    Februarie 2016

Fotobeeld: Tuinverse digters en kunstenaars

‘n Fotobeeld van die Tuinverse digters en kunstenaars in die Botaniese Tuin.

digter_franciGreyling
Strijdom van der Merwe se eerste twee totempale in die Botaniese Tuin by Potchefstroom (TT Cloete) en Wie kwetter so? (Franci Greyling)

digter_Bernard Odendaal  digter_t_BernardOdendaal
Bernard Odendaal, subprojekleier Tuinverse: Paddaluisterbankie, Botaniese Tuin, Potchefstroom

digter_Heilna du Plooy  digter_t_HeilnaduPlooy
Heilna du Plooy: Binneblik

digter_Hans du Plessis   digter_hansduplessis_t
Hans du Plessis: Botaniesetuinsonnet

digter_heinviljoen_2  digters_heinviljoen_t
Hein Viljoen: Onder die soetdoring

digters_johanmyburg_b  digter_johanmyburg_t
Johan Myburg: Mater Hortensis

digter_Adri Breed  digters_abreed_t
Adri Breed: Skryfopdrag

digter_jansenvermeulen  digter_jansenvermeulen_t
Jansen Vermeulen: Tuinwerker: ‘n skets

digter_ruan_fourie  digter_ruanfourie_2
Ruan Fourie: verlieskuns

digter_carinavdwalt  carina_vdwalt4
Carina van der Walt: hoe Eybers & Tutu kyk

dscn4974_1000  dscn4968_k
Ihette Jacobs: Tuin van aardse luste 

digters_susansmith  digter_susansmith_t
Susan Smith: By die soetdoring

 kunstenaars_lindiliam  kunstenaars_lindiliam2
Kunstenaars, JW Longland en Lindi Nel – grafiese animasie van die tuinversies

kunstenaars_chrisvanniekerk
Chris van Niekerk, kurator van die botaniese tuin.

kunstenaars_Juansteyn
Juan Steyn, wat as inligtingstegnoloog die Byderhand-netwerk in plek gekry het.