‘n Braillewandelpad en Byderhand Karootuinverse in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin

ʼn Byderhandhoogtepunt is gewis die opening van ʼn universele braillewandelpad en die Byderhand Karootuinverse-installasie in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin in Worcester.

Die feestelike opening van die wandelpad en installasie op 30 September 2022 het saamgeval met toerismemaand en die jaarlikse byeenkoms van die Botaniese Vereninging van Suid-Afrika (BotSoc).

Alhoewel die wandelpad sedert 2014 in die vooruitsig gestel is, kon dit as gevolg van ʼn gebrek aan fondse en ander omstandighede nie vroeër realiseer nie. Met die konseptualisering van die Byderhand-Pionierprojek in 2017 het die Byderhandspan ook met personeel van die Karootuin kennis gemaak en die moontlikheid om ʼn Byderhand Karootuinverse-installasie deel van die voorgenome braillewandelpad te maak, bespreek. Die opening van die wandelpad vier jaar ná die ingebruikneming van die multisensoriese tuin by die Pionierskool (2018), getuig van die goeie samewerkingsverhouding wat oor jare gestrek het en wat tot ʼn geintegreerde en unieke braillewandelpad bygedra het.

Die wandelpad is langs die nuwe opvoedkundige sentrum in die tuin aangelê en is universeel toeganklik. Die sirkelroete van 154 meter is rolstoeltoeganklik en die steenrandjie help om besoekers met langkieries te oriënteer. Geelgeverfde hobbelstene dui inligtingsborde en gedigte langs die paadjie aan.

‘n Verskeidenheid plantspesies met pragtige geure en interessante teksture kom langs die wandelpad voor en besoekers word aangemoedig om die plante wat in verhoogde beddings uitgestal word, te hanteer. Inligtingsborde verskaf bondige feite oor onderwerpe soos die plant- en dierlewe in die karootuin. Die gevolge van klimaatsverandering kan byvoorbeeld eerstehands waargeneem word in die versameling kokerbome by die draaipunt.

Die Byderhand Karootuinverse-installasie is met die wandelpad geïntegreer en besoekers kan na die werk van 10 digters uit die omgewing luister. Die digters, onder wie twee blinde digters, William Rowland en Jacques Coetzee, het self hulle gedigte voorgelees. Die klankervaring word uitgebrei deur musiekverwerkings van die gedigte en vertalings in Engels, Duits, Portugees en isiXhosa.

Wat verdere waarde tot die wandelpad voeg, is dat die Byderhandplatform en -koppelvlak saam met die visuele en braille inligtingsborde gebruik word om inligting langs die roete beskikbaar gestel word. Dié oudiogids dra by tot toeganklikheid en die rykdom van ervarings.

Braille trail (foto: Lize
Labuscagne)

Worcester is die omgeehoofstad van Suid-Afrika. Die Pionierskool vir Siggestremdes en Innovation for the Blind (voorheen Instituut vir die Blindes), die De la Batskool vir Dowes en die Nasionale Instituut vir Dowes, is in die dorp geleë. Hierdie instansies is daarop gerig om persone met gestremdhede te bemagtig om selfvoorsienend en onafhanklik te wees en die braillewandelpad in die tuin bevestig die Karootuin se ondersteuning van hulle werk. Die braillewandelpad bied egter nie slegs nuwe ervaringsgeleenthede vir persone met gestremdhede nie, maar ook vir die duisende besoekers wat jaarliks by die tuin ontvang word.

Skandering van QR kode - Braillewandelpad (Foto Lize
Labuscagne)

Dit was ʼn groot voorreg dat dr. William Rowland, wat in 2018 die multisensoriese tuin by die Pionierskool geopen het, ook by die opening van die brailleroete teenwoordig kon wees. In sy boodskap het hy waardering uitgespreek teenoor almal wat by die projek betrokke was en die belangrikheid beklemtoon dat blinde raadgewers ingesluit moet word by soortgelyke projekte om seker te maak dat die roetes werklik toeganklik en genotvol is.

Franci Greyling
Oktober 2022

Lees ook:

ELC4 Internasionale erkenning:  ʼn Veertjie in Byderhand se hoed

Die Byderhand-Pionierprojek is opgeneem in die Electronic Literature Collection 4 (ELC4), ʼn vooraanstaande elektronieseliteratuurversameling van die Electronic Literature Organization (ELO). Die doel van hierdie versamelings is om uitstaande voorbeelde van elektroniese literatuur van ‘n internasionale gemeenskap te argiveer en bekend te stel.

Die eerste eerste ELC versameling het in 2006 verskyn, met twee verdere versamelings in 2011 en 2016. Vir die vierde versameling vir eliteratuur vanaf 2016 tot 2021, het die redaksie meer as 450 werke oorweeg en indringend bespreek voordat die finale werke gekies is. Die ELC4-versameling bestaan uit 132 literêre werke van 42 outeur nasionaliteite in 31 tale. Dat die Byderhandprojek een van die werke is, is gewis ʼn veertjie in die Byderhandhoed.


‘n Groot gedeelte van die keur- en samestellingsproses het tydens die kovid-pandemie plaasgevind. Volgens die redaksionele verklaring het die pandemie nie slegs die redaksie se werkswyse beinvloed nie, maar ook gelei tot ʼn nuwe benaderings rondom keuse van die werke vir die versameling. Met ‘n voortbou op die redaksionele inisiatiewe van die drie vorige versamelings, het die vyf ELC4-redakteurs Gelykheid, Diversiteit en Inklusiwiteit (GDI) as ‘n kernbeginsel gestel. Vir die nuwe versameling is besluit om die verwagting van modernistiese kompleksiteit (tradisioneel aan die Elektroniese Literatuurversamelings) opsy te skuif, asook om outeurskap te herbedink en werk in deelnemende kulture in te sluit waar daar geen enkele “skrywer” is nie. Die redaksie se beoordeling is ook beïnvloed deur die besef dat eliteratuur ‘n plaaslike en kultureel-spesifieke aard het en wat as elit in die een kulturele tradisie geïdentifiseer mag word, nie noodwendig in ‘n ander tradisie geldig is nie. Die benadering het onder meer daartoe gelei dat die ELC4 die grootste en mees uiteenlopende groep elit outeurs tot dusver aanbied.

Die Byderhand-Pioneer projek is in samewerking met die Pioneer Skool vir Visueel Gestremdes in Worcester ontwikkel en die verse en verhale is op die skoolterrein geïnstalleer. Aspekte soos ‘n deelnemende benadering, toeganklikheid en veeltaligheid het bygedra tot die insluiting van die Byderhand-Pioneer Tuin Poësieprojek in die versameling. Die inskrywing op die ELC4-webblad gee dan ook erkenning aan die vele medewerkers aan die projek.


Tussen die 31 tale in die ELC4-versameling, het Byderhand-Pionierprojek onder meer ‘n paar Suid-Afrikaanse tale bygedra, naamlik, Afrikaans, isiXhosa, Setswana en Suid-Afrikaanse Gebaretaal.

Die Electronic Literatature Collection 4 is op 1 Junie 2022 tydens die jaarlikse ELO-konferensie in Como, Italië bekendgestel. Die versameling is geredigeer deur Kathi Inman Berens (VSA), John Thomas Murray (VSA), Lyle Skains (New Mexico, Wallis), Rui Torres (Portugal) en Mia Zamora (VSA).

Lees meer oor versameling in die Electronic Literature Directory.

Franci Greyling
Augustus 2022