Rusplekstories-skryfkompetisie saam met De Jonge Akker

Studente en personeel van die NWU word genooi om deel te neem aan die Byderhand en De Jonge Akker Rusplekstories-skryfkompetisie 2018.
– ‘n Projek deur die Vakgroep Skryfkuns.

rus_banner

Besoek De Jonge Akker en lees ‘n Rusplekstorie op jou selfoon.

Skryf ‘n kortverhaal wat op die kampus of elders in Potchefstroom afspeel en lees jou eie verhaal in De Jonge Akker!

  1. Daar is ses kategorieë/temas wat aandui waar die verhaalgebeure moet afspeel, naamlik: De Jonge Akker; Studentesentrum; die kampus; die Bult; die akkerlaan; Potchefstroom.
  2. Die skryfkompetisie word vanjaar (2018) drie keer aangebied. Sluitingsdatums vir elke afsonderlike rondte: 30 April; 30 Junie; 30 Augustus.
  3. Kortverhale mag hoogstens 1500 woorde wees.
  4. Inskrywings kan in Afrikaans of Engels wees.
  5. Inskrywings moet getik wees en elektronies ingestuur word aan skryf2018@byderhand.net met die onderwerp duidelik gemerk as “Skryfkompetisie”, gevolg deur die skrywer se naam.
  6. Verhaalinskrywings moet foto (kop en skouers) en ’n kort biografiese beskrywing van die skrywer en verbintenis met Potchefstroom insluit (nie meer as 100 woorde nie). (Sien Byderhand Rusplekstories vir voorbeelde.)
  7. Wenverhale word opgeneem in die Byderhand-versameling en kan in De Jonge Akker gelees word. Skrywers van die wenverhale ontvang ook ‘n etebewys van De Jonge Akker.
  8. Pryse en plasings op die Byderhand-webruimte word slegs toegeken as die inskrywings se gehalte dit regverdig.
  9. Geen kommentaar word op individuele inskrywings gelewer nie.
  10. Die organiseerders sal met die skrywer in verbinding tree indien ’n kortverhaal goedgekeur word of aangewys word as ’n wenner.
  11. Die organiseerders behou die reg om verhale voorwaardelik goed te keur. Dit wil sê voorstelle ter verbetering kan gemaak word, waarna skrywers verhale opnuut kan instuur. Die organiseerdeers behou die reg om nuwe verhaalweergawes steeds af te keur.
  12. Redigering van aanvaarde verhale word in samewerking met die individuele skrywers behartig.
  13. Die skrywer behou kopiereg van die verhaal.
  14. Kragtens die Wet op Outeursreg is enige vorm van plagiaat ’n strafbare kriminele oortreding.
  15. Skrywers gee aan die organiseerders (Byderhand) die reg tot reproduksie van die verhale in enige media (bv. teks, foto’s, klank, bewegende beelde, digitaal, ens.) en die reg om dit te publiseer in toepaslike publikasies, insluitend maar nie beperk tot katalogi, interaktiewe DVD, tydskrifte, koerante, die Internet, en ander publikasies wat uit die projek mag voortvloei. Erkenning sal deurgaans aan die skrywer van die werk gegee word.
  16. Skrywers gee aan die organiseerders die reg om die verhale vir akademiese en navorsingsdoeleindes te gebruik. Erkenning sal deurgaans aan die skrywer van die werk gegee word.
  17. Byderhand is ‘n interdissiplinêre navorsings en kreatiewe projek onder leiding van die Vakgroep Skryfkuns, NWU. Vir meer inligting oor die projek, besoek die webtuiste: www.byderhand.net
  18. Navrae: skryf2018@byderhand.net

  

Rusplekstories in De Jonge Akker

Wie hou nie daarvan om ʼn storie te lees met ʼn beker koffie in die hand nie? Besoekers aan die gewilde De Jonge Akker koffiewinkel op die NWU Potchefstroomkampus, kan nou terugsit en ʼn kortverhaal of kinderstorie op hulle selfone geniet. Wat die verhale nog meer besonders maak is dat die gebeure in Potchefstroom afspeel.

Met die vriendelike samewerking van De Jonge Akker, is die Rusplekstories sedert die middel van Augustus 2016  in dié gesellige koffiewinkel beskikbaar.

  

Die gedagte van plekspesifieke digitale literatuur is dat die werk op ʼn plek gelees word wat op een of ander wyse met die werk verband hou. ʼn Koffiewinkel in die hart van die kampus is daarom ʼn ideale plek om verhale te lees wat op die kampus, die Bult en in die dorp afspeel.

Die groot verskeidenheid verhale sluit in ligte liefdesverhale, verhoudingsverhale, herinneringsketse, ʼn speurverhaal, asook verhale met ʼn meer literêre strekking. Die jonges van gees sal ook plesier hê in ʼn sestal kinderstories.

Van die skrywers in die projek is bekende gesigte op die kampus, soos Duane Aslett (dosent in forensiese rekeningkunde en koshuisvader van Veritas), Nelia Engelbrecht (redakteur van Eish!), en Sophia Kapp (voormalige dosent in vertaalkunde en tans taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans). Die prettige kinderstorie, Melkskommels vir Minki, is die werk van sanger Deon Meiring en die kinderboekillustreerder, Zinelda McDonald. Ander bekende skrywers en name is Harry Kalmer, Helene de Kock, Martie Swanepoel, Carié Maas, Marlize Hobbs, Frederick J. Botha en Susan Lombaard. Heelparty van die skrywers en kunstenaars is reeds vir hulle werk bekroon. Die versameling verhale sluit ook werk van jonger skrywers en voormalige en huidige skryfkunsstudente in.

  

Om die verhaal te kan lees, skandeer mens die QR-kode binne die spyskaart – en die verhaal verskyn in ʼn oogwink op jou selfoonskerm. Daar is ook ʼn gemaklike leerbanke waar mens tussen regte boeke, verhale in ʼn nuwe formaat kan ervaar. WiFi is in De Jonge Akker beskikbaar.

Die Rusplekstories is deel van ʼn plekspesifieke digitale literatuurprojek van die Vakgroep Skryfkuns. Byderhand 2015 is as deel van die  Woordkunsprogram by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees aangebied. In die projek wat uit vier subprojekte bestaan het, is skrywers en kunstenaars met ʼn Potchefstroomverbintenis genooi om werk spesiaal vir Byderhand te skep. Vier subprojekte was deel van die produksie, naamlik Tuinverse in die Botaniese Tuin, Rusplekstories by die Boeke-Oase, ʼn Dwaalverhaal by die Hoër Tegniese Skool en Taxistrips op die FNB-pendelroete.

Rusplekstories in die Boeke-oase

‘n Kortverhaal saam met ‘n koppie koffie, ‘n kinderverhaal saam met ‘n koeldrank … Dit is die ervaring wat lesers kan verwag van Rusplekstories in die Boeke-oase.

Die Boeke-oase is die Aardklopkuierplek vir boekliefhebbers. Vir die duur van die fees word die Bennie Pienaarsaal in ‘n boekwinkel, gespreksruimte en opslaanrestourant omskep. Dit is hier waar Rusplekstories in samewerking met die ATKV aangebied word. ‘n Opwindende nuwe koffiewinkel op die Bult, Station Coffee Co., behartig vanjaar die restourant in die binnehof. (Die Bennie Pienaarsaal of Gebou B2, NWU is in Hoffmanstraat oorkant die park op die Bult.)

 bult_park      boeke_oase_voorboeke_oase_winkel      boeke_oase_restourant

Die versoek aan die skrywers was om ‘n bydrae te lewer in die vorm van ‘n kortverhaal of kinderverhaal wat in Potchefstroom of omgewing afspeel. Die Rusplekstoriesskrywers, wat almal een of ander verbintenis met Potchefstroom het, sluit gevestigde sowel as jong skrywers in. Onder die bekende en bekroonde skrywers is mense soos Sophia Kapp, Hans du Plessis, Leon de Villiers, Harry Kalmer, Marlize Hobbs en Helene de Kock. ‘n Hele paar van die skrywers is oudstudente in Skryfkuns, soos onder andere Frederick J. Botha, Susan Lourens, Deon Meiring, Leonora van Rooyen en Anneretha Grobler.

‘n Interessante verskeidenheid kortverhale wag op die leser – dit sluit in liefdesverhale soos dié deur Nelia Engelbrecht en Helene de Kock tot meer literêre kortverhale deur skrywers soos Roela Hattingh en Harry Kalmer. Verder is daar ‘n misdaadverhaal, verhoudingsverhale, verhale oor die ouderdom en afskeid – verhale oor mense, plekke en ervarings in Potchefstroom.

Vir kinders is daar ‘n handvol oorspronklike kinderstories deur skrywers en kunstenaars soos Flip Hattingh, Leon de Villiers, Deon Meiring en Zinelda McDonald.

Die inligting van die skrywers by Rusplekstories op die webtuiste verklap iets van die skrywers se belangstelling in en verbintenis met Potchefstroom:

“Potchefstroom is veral die plek waar ek begin dink het. Dis hier waar my vrae plek gemaak het vir onaanvaarbare antwoorde. Oomblikke wat soos foto’s opduik: piekniek en grootdoop in die Mooirivier; kerkkruipery; ja-stemme, massavergaderings, maaskaaskoekies van Turkstra; Thalia; kaalvoetloop oor die kampus; toweragtige verbintenis met taal en tydgenote.” (Roela Hattingh)

“Marlize was ses jaar lank ‘n maatskaplike werker in Potchefstroom waar sy Potch Multisorg se Psigiatriese afdeling intiem leer ken het … en daardeur natuurlik die mense van die dorp.” (Marlize Hobbs)

“Hans du Plessis was tussen 1981 en 2011 aan die Potchefstroomkampus van die NWU verbonde, eers as professor in Afrikaanse taalkunde en sedert 1990 as direkteur van die ATKV-skryfskool van die NWU. Hy het reeds ses digbundels en nege romans gepubliseer. Heelparty van die romans speel in Potchefstroom en omgewing af.”

“Harry Kalmer is die skrywer van 23 toneelstukke en nege boeke prosa. Tussen 1999 en 2012 is 13 van sy toneelstukke by Aardklop gesien. Hy was die eerste wenner van die Ashanti Gold Aardklop prys.”

“Die meeste van Leon de Villiers se skryfwerk (kinder en jeugboeke soos onder andere Erik en die kiddodinges, Droomoogdiepgrawer en Maroelaboomstories), het in en om Potchefstroom gebeur waar hy tussen 1997 en 2009 gewoon het. Leon het steeds `n naweekplasie in die Vredefortkoepel digby Potch. Leon se jeugboek Die pro, is in 2015 verfilm en vertoon binnekort op die silwerdoek.”

Deon Meiring is liedjieskrywer, sanger en kitaarspeler in die groepe Glaskas en Dans Dans Lisa en het in September 2014 sy solo debuut gemaak met sy kortspeler “Die Slaapkamersessies”. Vir die projek het hy saamgespan met Zinelda McDonald wat tydens haar studies in Grafiese Ontwerp aan die NWU se Potchefstroomkampus haar liefde vir kinderboekillustrasie ontdek het.

So maak mens om die verhale in die Boeke-oase te kan lees:

1) Bestel iets te drinke
2) Vra die kelner vir ‘n Rusplekstorie QR-kode
3) Skandeer die QR-kode met ‘n QR-leser op jou selfoon
4) Lekker lees!

  • Franci Greyling