‘n Drieluik artikels oor die Byderhand-Pionierprojek

‘n Drieluik navorsingsartikels oor die Byderhand-Pionierprojek het onlangs in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn (Jaargang 60 No. 4-2: Desember 2020).

In ‘n redakteursnota by die artikels skryf die redakteur Ina Wolfaart-Gräbe soos volg:

“Die Byderhand-Pionierprojek, soos ’n mens al uit die naam kan vermoed, is ’n heel besonderse onderneming. Gesetel in Worcester, in die Breëriviervallei in die Wes-Kaap, behels die projek multimodale literatuurinstallasies, wat ook toeganklik is vir siggestremdes. Aan die een kant is dit as ’n voobeeld van toegepaste elektroniese literatuurstudie die neerslag van gevorderde akademiese navorsing; maar aan die ander kant het samewerkingsverhoudings met verskeie partye daartoe bygedra dat die praktiese uitvoering daarvan met groot sorg en kundigheid geskied het. Dit is, met ander woorde, soos die outeurs dit eksplisiet stel, ’n voorbeeld van ’n deelnemende projek “as praktiese toepassing van navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid”. Die totstandkoming van ’n multisensoriese tuin in Worcester en die skep van digitale literatuur, soos verhale en gedigte, word in die drie artikels in hierdie afdeling uiteengesit. Franci Greyling, Suna Verhoef en Gustaf Tempelhoff skets die totstandkoming, konseptualisering en uiteindelike volvoering van die projek. In die daaropvolgende artikels fokus Bernard Odendaal en Franci Greyling op die plasing van gedigte en verhale in die tuin. Vermeldingswaardig is die deurgaanse fokus op die kernbydrae van siggestremdes, as volwaardige vennote in die totstandkoming en beplanning van alle aspekte van die projek.

“Beskou vanuit ’n ander hoek, kan hierdie projek saamgelees word met die fokus op die kwesbaarheid van kinders in die konteks van Suid-Afrikaanse huishoudings en families. Dit illustreer, sy dit dan nie binne gesinsverband nie, hoe verbeeldingryke samewerking tussen universiteite, skole en die breër gemeenskap een tipe gestremdheid kan verlig.”

Die titels en opsommings van die drietal artikels bied ‘n blik op die inhoud daarvan:

Die Byderhand-Pionierprojek: ’n Gevallestudie van die deelnemende dinamika in die skep en toeganklikmaking van lokatiewe literatuur vir persone met siggestremdheid
Franci Greyling, Suna Verhoef en Gustaf Tempelhoff

Die artikel bied, deur ’n bespreking van die Byderhand-Pionierprojek as gevallestudie, ’n blik op die praktiese implementering van deelnemende en skeppende interdissiplinêre projekte in die Digitale Humaniora. Die Byderhand-Pionierprojek, wat lokatiewe literatuurinstallasies in Worcester in die Wes-Kaap behels, is uniek in dié opsig dat die multimodale literatuurinstallasies vir persone met siggestremdheid toeganklik is en dat persone met siggestremdheid ’n integrale rol in die totstandkoming van die projek gespeel het. Die artikel fokus op die kontekstualisering van die gevergde deelnemende benadering; op die projekkonseptualisering en -raamwerk; op die deelnemende dinamika wat die totstandkoming van die multisensoriese tuin, die skep van die digitale literatuur daarby betrokke, en die toeganklikmaking van sodanige inhoud moontlik gemaak het (koppelvlakontwerp); en op nabetragting oor en gevolgtrekkings aangaande die projekbenadering. Deelname aan die projek het die projekspan bewus gemaak van die behoeftes van persone met siggestremdheid en van die noodsaak van groter inklusiwiteit en toeganklikheid van kultuurprodukte – in die besonder soos dit ten opsigte van koppelvlakontwerp en digitale aanbieding van literatuur tot uitdrukking kom.

Manifestasies van sintuiglikheid in enkele gedigte ingesluit by twee digitale Byderhand-installasies te Worcester
Bernard Odendaal

In die Westerse tradisie word veral sig, maar ook gehoor, as ’n “hoër” sintuiglike vermoë geag. Hiertoe dra die versnelde opkoms van ’n wetenskapskultuur oor veral die afgelope twee eeue by. Beelding gebaseer op veral visuele waarneming oorheers ook in die digkuns, soos waarneembaar is in die meeste gedigte opgeneem in twee Byderhandprojek- digitale installasies by die Pionierskool en in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin te Worcester. Die tassintuig speel ’n belangrike rol in siggestremdes se verkenning van voorwerpe en ruimtes. Betasting verg beweging, sodat siggestremdes se waarnemingswyse deur beweging gekenmerk word. Analogisering van sintuiglike waarnemings (sinestesie) is nog ’n strategie wat dikwels deur hulle benut word. Meer onlangse navorsing beklemtoon dat daar, naas die uiterlike sintuie, ook intero-reseptore (vir waarneming van, byvoorbeeld, balans en beweging) is wat die mens se persepsie bepaal. Sodoende word beliggaamde belewing moontlik. Laasgenoemde dien as teenvoeter vir die kultureel en talig gemedieerde omgang met verskynsels wat, in Lacaniaanse terme, so kenmerkend die Simboliese Ordening daarvan oorheers. Vier gedigte uit die Byderhandprojek-versameling te Worcester wat in hierdie artikel bespreek word demonstreer, op verskeie wyses, bogenoemde aspekte van sintuiglikheid. Die ingeplaastheid van estetiese belewing wat hierdie geïnstalleerde tekste bemiddel, korreleer voorts met die begeerte na liggaamlike toenadering tot die Karoo-natuurverskynsels wat in die gedigte uitgedruk word.

“Wie is dan blind?” Beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid
Franci Greyling

Die artikel behels ’n ondersoek na die beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid. Die Pionierstorieversameling wat op die skoolterrein van ’n skool vir leerders met siggestremdheid geïnstalleer is, bestaan uit verhale, vertellings en gedigte deur leerders en oudleerders van die betrokke skool. In hierdie artikel word ondersoek hoe die Pionierstories as lokatiewe narratiewe moontlik insig sou kon bied in die plekervaring van die skrywers, asook sou kon bydra tot lesers se verdiepte ervaring van die plek en tot die sigbaarmaking (bewuswording) van stories, liggame en gemeenskappe. Om die Pionierstories binne dié konteks te verstaan, word ’n raamwerk saamgestel waarin die konsepte van beliggaamde ruimte en ingeplaastheid bespreek word, soos dit verband hou met die multisensoriese aard van waarneming, die ingeplaaste skryfaksie, met narratiewe van persoonlike ervaring en die ekosomatiese benadering tot gestremdheid; asook met die beliggaamde ervaring van die ingeplaaste leser-deelnemer. Vier verhale uit die versameling word aan die hand van sodanige raamwerk bespreek. Die geïntegreerde uitbeelding van die konkrete én abstrakte aspekte van plek in die Pionierstories, demonstreer die verweefde dimensies wat die ervaring van plek bepaal, die sentrale rol en agentskapfunksies van die ingeplaaste skrywer in plekskepping, asook die konkreetheid van die ervaring deur die leser-deelnemer in die betrokke lokatiewe installasie soos dit tot die verhoogde sigbaarheid van die stories, liggame en die gemeenskap bydra.

Die tydskrif met die drie artikels kan gratis afgelaai en gelees word:
http://tgwsak.co.za/wp-content/uploads/2020/12/TGW-60-4-2-DES-2020.pdf

Franci Greyling – Januarie 2021

ʼn Terugblik: Deelname aan ʼn internasionale kongres tydens die koronaviruspandemie

In 2019 is die Byderhandspan uitgenooi om in Julie 2020 by die ELO2020-kongres deel te vorm van ʼn internasionale paneelbespreking oor toegepaste digitale literatuur – ʼn geleentheid waarna ons baie uitgesien het. Die koronaviruspandemie het egter ook die aanbieding van en deelname aan kongresse ingrypend beïnvloed.

ELO (Electronic Literature Organization) is ʼn internasionale organisasie vir die fasilitering en bevordering van skryf, publikasie en lees van elektroniese literatuur. In 2017 en 2019 het Franci Greyling, Bernard Odendaal en Gustaf Tempelhoff, die kongresse in Porto, Portugal en Cork, Ierland, bygewoon waar ons veral oor ons navorsing rondom die Byderhandprojek, gesels het. Na afloop van ons paneelaanbieding oor die Byderhand-Pionierprojek by ELO2019 in Cork, is ons deur een van die direkteure van die organisasie, prof. Astrid Ensslin, uitgenooi om by die 2020 kongres in Orlando, Florida, deel te neem aan ʼn internasionale paneelbespreking oor toegepaste digitale literatuur. Dit sou ʼn besondere geleentheid wees om ons navorsing met ander te deel en ons het die uitnodiging met dank aanvaar.

Die paneel, “Applied E-Lit as Participatory Research Creation for Social Change”, het vyf navorsers van vier universiteite en van drie verskillende kontinente betrek. Die paneellede was Astrid Ensslin (University of Alberta), Rebecca Lyle Skains (Manchester Metropolitan University), Christine Wilks (Bath Spa University), Franci Greyling en Gustaf Tempelhoff (NWU). In ons aanbieding sou ons spesifiek oor die Byderhand-Pionierprojek gesels: “The Byderhand Pioneer Project: Accessible Locative Literature in a Multisensory Garden at a School for the Visually Impaired”.

Die wêreldwye pandemie het die organiseerders egter genoodsaak om die “fisiese” kongres wat reeds georganiseer was, te herbedink en alternatiewe formate te oorweeg. In wese het dit daarop neergekom dat die organiseerders twee verskillende kongresse georganiseer het. Die virtue­le formaat het bepaalde implikasies vir die programsamestelling en formaat van aan­biedings gehad, en die uiteindelike program het onder andere uit regstreekse aanbiedings (via Zoom), asinkroniese aanbiedings, en virtuele uitstallings bestaan.

Die betrokke paneel waarvan ons deel was, het twee aanbiedingsformate gekombineer, naamlik in die vorm van bydraes in die asinkroniese program, sowel as ʼn regstreekse paneelbespreking. Hiervoor moes ons die aanbieding in drie verskillende formate verpak, naamlik ʼn geskrewe weergawe van die referaat, ʼn video-weergawe van die referaat, asook ʼn virtuele paneelbespreking. Die gedagte was dat die deelnemers aan die paneel vooraf na die vollediger aanbiedings (video-opnames van ons referaataanbiedings asook die geskrewe weergawes daarvan) kan kyk. https://stars.library.ucf.edu/elo2020/live/roundtables/3/

Die aanbiedingsformaat het verskeie uitdagings gestel, veral wat betref beskikbare tegnologie, tegnologiese en ander vaardighede, netwerke en beskikbare bandwydte, en beperkte bewegingsvryheid as gevolg van inperkingsmaatreëls.

Om ʼn video-weergawe van die gesamentlike referaataanbieding te maak, het ʼn produksie op sy eie behels. Aangesien die universiteitfasiliteite ontoeganklik was, en ons ook nie in dieselfde lokaal aan die produksie kon werk nie, moes ek en Gustaf afsonderlik elkeen ons eie deel verfilm. Hierdie video-opnames moes dan met die PP-aanbiedings en ander beeldmateriaal, gekombineer en geredigeer word vir ʼn afgeronde gesamentlike aanbieding. Met Gustaf se praktiese raad, het ek my bes probeer om met die verouderde tegnologie tot my beskikking, toestelle waarvan alle funksies nie meer werk nie, en my beperkte tegnologiese vaardighede, ʼn aanvaarbare video-opname van my gedeelte van die aanbieding te maak.

As gevolg van beperkte bandwydte, was dit nie moontlik om die videomateriaal aanlyn te deel nie. Die videomateriaal moes dus op ʼn datastokkie by Gustaf besorg word – ʼn aktiwiteit wat in die grendeltyd bepaalde uitdagings gehad het. (Stel dit voor: twee gemaskerde figure wat skemeraand op ʼn verlate parkeerterrein ontmoet …) Met sy besondere tegniese vaardighede en ʼn toegeruste tuisateljee tot sy beskikking, het Gustaf ʼn afgeronde video van ons gesamentlike aanbieding gemaak, en ons kon hierdie video en die geskrewe referaat, voor die sperdatum van 30 Junie aan die organiseerders verskaf.

Die paneelaanbieding op 18 Julie het eweneens sy kwota uitdagings gehad. Die vyf paneel­lede van drie kontinente moes uit hulle eie woonplekke aan die regstreekse paneelbespre­king deelgeneem. Ook in hierdie geval, het my verouderde toestelle, lae bandwydte, en beperkte ervaring van en vaardighede met Zoomsagteware, bepaalde uitdagings gestel. Om alles te kroon, moes ons ook rekening hou met die moontlikheid van beurtkrag. Ons moes dus planne B en C gereed hê, indien daar iets sou verkeerd loop.

Ten spyte van talle uitdagings – soos beskikbare tegnologie en verskil in tydsones – het die paneelbespreking goed verloop. Ongeveer 50 mense van regoor die wêreld het die paneel bygewoon, en die terugvoer was oorwegend positief. ʼn Hele paar mense wat kommentaar in die “chat-line” bygedra het, het waardering vir die inspirerende en vernuwende gebruik van lokatiewe literatuur in die Byderhand-Pionierprojek uitgespreek.

Jeremy Hight, een van die baanbrekers in lokatiewe literatuur, het opgemerk: “Cool to see locative moved in a new direction and contexts. As an early locative narrative creator this makes me so happy and as someone who worked for many years with differently abled people, this is so exciting and inspiring.”

Ons aanbieding het ook bygedra tot die groter gesprek oor die toeganklikheid van digitale literatuur, soos blyk uit die opmerkings op die Zoom chat-line tydens die paneel, en wisselwerking op discord, die sosialemediaplatform wat vir kommunikasie tydens en na afloop van die kongres gebruik is.

Alhoewel die virtuele formaat effektief was, het ons die gebruiklike van aangesig tot aangesig gesprekke en wisselwerking met ander deelnemers baie gemis. Informele gesprekke tydens kongresse is altyd stimulerend en verrykend en ook bevorderlik vir die uitbreiding van netwerke.

Dit was inderdaad ʼn besondere geleentheid om ons navorsing op hierdie wyse, en as deel van ʼn internasionale paneel, te kon bekendstel. Die kongresargief word op die webtuiste van die UCF (University of Central Florida) gehuisves waar dit vir die algemene publiek beskikbaar is, en ons navorsing potensieel vir baie meer mense toeganklik is. https://stars.library.ucf.edu/elo2020/

Dit is egter belangrik om in ag te neem dat hierdie kort video’s van ons aanbieding en die paneelbespreking, letterlik weke se voorbereiding geverg het en groot uitdagings gestel het met betrekking tot die beskikbare tegnologie, tegnologiese vaardighede, kommunikasie, same­werking, probleemoplossing en tydsbestuur.

Die ervaring het egter opnuut die waarde van interdissiplinêre samewerking bevestig. Die Byderhandprojekte, deelname aan die internasionale paneel, en die kreatiewe hantering van die tegnologiese aanbiedings en uitdagings, sou nie moontlik gewees het sonder die vaardig­hede en bydraes van ʼn groot verskeidenheid medewerkers en deelnemers aan die Byderhand­projekte nie.

Deelname aan hierdie virtuele kongres het ʼn baie steil leerkurwe behels – ʼn ervaring waarmee ander navorsers hulle ook waarskynlik in hierdie ongewone omstandighede mee kan vereenselwig.

Franci Greyling – Julie 2020

‘n Besondere publikasie vir verdere toeganklikheid: die Byderhand-Pionierversameling

Hoe kan skrywers van die Pionierstories die versameling stories en gedigte geniet waar hulle hul ook al bevind?  Hoe kan die versameling nóg toegankliker gemaak word? Hierdie vrae was met die ontwikkeling van die Byderhand-Pionerprojek deurentyd in die span se gedagtes.

Die konsep van die Byderhandprojekte is dat die verse en stories wat met die plek verband hou, op die spesifieke plek beskikbaar gestel word en ook hier gelees word. Hierdie eerstehandse en gelyktydige ervaring van die plek en die literatuur, dra by tot die unieke leeservaring. Dit bring egter ook mee dat die skrywers wat elders in die land woon, nie mekaar se stories kan geniet nie. Ons wou ook graag, as waardering vir hulle deelname aan die projek, aan die skrywers van die Pionierstories ʼn bundel met die volledige versameling tekste skenk.

Ná die afhandeling van die projek in die multisensoriese tuin op die skoolterrein en in Blindiana Barista, kon die Byderhandspan saam met die Pionierdrukkery alternatiewe publikasiemoontlikhede ondersoek. In 2019 is die Byderhand-Pionierprojek bekend gestel in Die Pionier, ‘n tweemaandelikse publikasie van die Pionierdrukkery. ‘n QR-kode, wat toegang tot ‘n Pionierstorie verskaf het, is in elke uitgawe ingesluit. Hierdie eksperiment het gewys dat dit wel moontlik is om die tegnologie ook op dié manier te gebruik en die inhoud nog meer toeganklik te maak. Die span het daarom besluit om ‘n vollediger publikasie saam te stel.

Die resultaat van hierdie samewerking is ʼn unieke Byderhand-Pionierpublikasie wat in Maart 2020 bekendgestel is.

 

Die Byderhand-Pionierversameling bestaan uit ʼn kombinasie van brailleskrif en QR-kodes. Die inhoudsopgawe, voorwoord, instruksies, titels, skrywersname en besonderhede van die publikasie, is in braille gedruk. Op elke bladsy is twee titels geplaas met ʼn meegaande QR-kode binne-in ʼn brailleraampie. Wanneer die QR-kodes met ʼn selfoon geskandeer word, kan mens na die voorlesing of vertelling luister of die teks op die selfoonskerm lees.

Soos dit met alle aspekte van die Byderhandprojek die geval is, het die produksie van die bundel spanwerk en samewerking vereis. Die samestelling van die inhoud en ontwerp is deur Franci Greyling en Gustaf Tempelhof gedoen; die drukwerk is onder leiding van Elzaan Hendriksz deur die span van die Pionierdrukkers onderneem; en ʼn spannetjie Skryfkunsstudente het, met Quinten Pendle as braille-leser se hulp, die QR-kodes ingeplak.

 

Voorbereiding van die publikasie: Quinten Pendle, Gustaf Tempelhoff en ‘n groepie Skryfkunsstudente wat gehelp het om die QR-kodes op die regte plekke te plak.

Dit was vir ons (Franci Greyling en Gustaf Tempelhoff) een van die hoogtepunte van ons deelname aan die Byderhand-Pionierprojek om in Maart 2020, tydens ʼn besoek aan Kaapstad en Worcester, van die Pionierskrywers te ontmoet en die bundels persoonlik aan hulle te besorg.

 

Besoeke aan die skrywers en oorhandiging van die bundel: Madelene van den Berg, Hanli Stehli, Syndney Berrington, Philip Crouse, Nicky Labuschagne, en Jacques Coetzee saam met Gustaf Tempelhoff.

Uit die skrywers se reaksie was dit duidelik dat om ‘n eie bundel met die versameling stories in die hande te hou, ‘n spesiale ervaring was. Van die skrywers het veral waardering uitgespreek vir die kombinasie van tegnologie wat hulle in staat stel die ander skrywers se stories te geniet, en om die stories en verse ook met vriende en familie te deel.

“Ek geniet my boek en vind die voorlesings baie goed. Het die boek vandag werk toe gebring om vir ander te wys hoe moderne tegnologie ingespan kan word. Nogmaals dankie.” – Madelene van den Berg.

20200317_122533_1000
Die span van die Pionierdrukkery wat gehelp het met die ontwikkeling van die bundel: Schalk Hugo, Elzaan Hendriksz, Shani Little, Arne von Mollendorf saam met Gustaf Tempelhoff en Franci Greyling.

Eksemplare van die bundel is ook oorhandig aan instansies wat by die Byderhand-Pionierprojek betrokke is.

Ongelukkig het die staat van inperking die span verhoed om die bundels ook persoonlik aan skrywers wat elders in die land woon, te besorg. Ons sal egter seker maak dat elke skrywer wel op een of ander manier hulle eie bundel ontvang. Die buitengewone omstandighede a.g.v. die Covid-19 pandemie, het egter bevestig dat dié spesiale publikasie en kombinasie van tegnologie dit vir lesers op enige plek, in die gees terug kan neem na die Pionierskool en Worcester.

  • Franci Greyling – Junie 2020

Seminaar oor die Byderhand-Pionierprojek

‘n Baie geslaagde seminaar oor die Byderhand-Pionierprojek is op 9 Mei 2019 op die NWU-kampus aangebied. Die gedagte met die seminaar was om vanuit verskeie perspektiewe saam te gesels oor die projek en om navorsingsinsigte met mekaar te deel.

Die seminaar was inderdaad ‘n besondere (en gesellige) geleentheid vir die deelnemers en ander belangstellendes wat die geleentheid bygewoon het.

As deel van die verwelkoming en kontekstualisering is die kort video oor die tuin en Byderhand-Pionierprojek vertoon. Die video is die werk van Gustaf Tempelhoff en almal was dit eens dat dit ‘n baie goeie oorsig oor die projek bied en keurig saamgestel is.

Hierna het die verskillende sprekers aan die woord gekom – die groot verskeidenheid invalshoeke word in die titels van die bydraes weerspieël.

Suna Verhoef (Pionierskool vir Siggestremdes, Worcester) – “Touch, pause and engage”: die skep van ‘n multisensoriese tuin as samewerkende projek en toepassing van die Expanded Core Curriculum in ‘n skool vir leerders met siggestremdheid.

Franci Greyling (Vakgroep Skryfkuns, NWU) – Samewerking en deelname in ʼn plekspesifieke digitale literatuurprojek vir persone met siggestremdheid.

Gustaf Tempelhoff (Grafiese Ontwerp, NWU) – Koppelvlakontwerp en plekspesifieke digitale literatuur vir persone met siggestremdheid.

Bernard Odendaal (Vakgroep Skryfkuns, NWU) – Dig vir siggestremdes – aantekeninge oor enkele gedigte geskep vir die Byderhandinstallasies te Worcester.

Philip van der Merwe (Vakgroep Duits, NWU) – Die dialektiek van lewe en dood in die ‘tuinverse’ van die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin.

Paneelgesprek: Gedeelde ervarings: Pionierstories (Suna Verhoef, Franci Greyling, Gustaf Tempelhoff, Quinten Pendle en Hendrik Steyn).

Die seminaaraanbiedinge het tot baie interessante gesprekke aanleiding gegee en het bygedra tot insigte wat verder in kongresreferate en navorsingsartikels neerslag sal vind. Bowenal was die seminaar ‘n wonderlike geleentheid om nuwe vriende te maak en vriendskapsbande te versterk.
(Die seminaar en Suna Verhoef se navorsingsbesoek is moontlik gemaak deur befondsing wat van die Puk-kanselierstrust ontvang is.)


Links: Paneelbespreking oor die Pionierstories: Van links na regs op die foto is Quinten Pendle, Suna Verhoef, Hendrik Steyn, Gustaf Tempelhoff en Franci Greyling. (Foto geneem deur Elise Tempelhoff)
Regs: Quinten Pendle en Suna Verhoef in ligte luim. (Foto geneem deur Carin Pendle)


Quinten Pendle (links) en Hendrik Steyn (regs) lees die braille-instruksies wat verduidelik hoe om die QR-kodes van die Pionierstories te skandeer.

(Die Pionierdrukkery het die braille-drukwerk in die projek verskaf.)

Byderhand Pionierstories

Byderhand het die afgelope jaar in samewerking met die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester en vele ander rolspelers getree vir ’n besondere projek. Die Byderhand-Pionierskoolprojek is op 30 Augustus 2018 bekendgestel, en die Byderhand Pionierstories kan nou gelees word op die skoolgronde van die Pionierskool en ook in die koffiewinkel, Blindiana Barista.

Leerders en oud-leerders van die Pionierskool is gevra om verhale en herinneringe te deel vir die versameling van Pionierstories. Sommiges het hul ervaringe as blinde of siggestremde persone deel, terwyl ander oor hul loopbaan vertel het of herinneringe aan hul Pionierskooldae herroep het. “Die drie jaar wat ek op Worcester was, was vir my die hoogtepunt van my skoolloopbaan,” sê Madelene van der Berg. “Dit was goeie tye, en ek is bly ander mense kan nou daarin deel.”

  Pionierstories op die skoolterrein. Links is ‘n storiebordjie in “Niemandsland” en regs is ‘n bordjie langs die hoofdeur van die skoolgebou.

Hierdie stories kan gelees word deur middel van bordjies waarop die titel en naam van die skrywer in gedrukte teks en ook in braille aangebring is. Die braille-teks vir al die bordjies is gedruk met behulp van Pionierdrukkers in Worcester. Getrou aan die plekspesifieke aard van Byderhand, is die bordjies op plekke by die skool aangebring waaroor daar in die storie vertel word: stories oor musiek en koorsang in by die ouditorium opgesit, en koshuisvertellinge is voor die ingange van die koshuis op die gronde te lees. Die versameling bestaan uit 27 stories en verse deur 23 skrywers/vertellers.

     Skrywers om die tafel: Links lees dr. William Rowland instruksies in braille;  regs luister Quinten Pendle en Gustaf Tempelhoff saam na Quinten se storie.

Die skrywers is op die openingsdag genooi om vir die eerste keer na hul stories te luister by ’n kleiner bekendstellingsfunksie by Blindiana Barista. Die Pionierstories sal ook in hierdie restaurant, by die Innovation for the Blind (Instituut vir die blindes), beskikbaar wees vir die mense van die Worcester-gemeenskap om te lees.


Links lê Philip Crouse se gidshond neffens haar eienaar. Regs gesels Gustaf en Nicky Labuschagne oor die toeganklikheid van die koppelvlak.

“In hierdie spesifieke projek sien ek in die eerste plek ’n geleentheid vir gestremde persone om werklikwaar ’n kreatiewe bydrae te lewer tot hulle eie gemeenskappe,” sê Philip Crouse, ook een van die skrywers. “Ook om die breër gemeenskap te beïnvloed deur hulle digkuns en letterkuns.” Philip is die koӧrdineerder van die Tegnologiesentrum van die Innovation for the Blind, en het ’n groot rol gespeel in die toetsfase van die nuwe digitale koppelvlak en hoe om dit vir blindes toeganklik te maak. Sy hulp was van onskatbare waarde vir die multimedia-ontwerper van Byderhand, Gustaf Tempelhoff. Philip noem dat daar nog baie toekomstige moontlikhede uit die projek kan spruit. “Ek dink hierdie is regtigwaar ’n ‘pionier’ – mind the pun – in baie opsigte, en ek dink dis ’n goeie sinergie tussen kuns, tegnologie, die verlede, die toekoms en wat ook al moontlik is in die toekoms.”


Pionierstories in Blindiana Barista. Links: ‘n storiebordjie en selfoon met die storie; regs verwelkom ‘n plakkaat by die deur die besoekers.

Die Pionierstories dien as die literêre nalatenskap van die skrywers, as inspirasie vir huidige en toekomstige Pionierskoolleerders. Deur die stories word daar nou ook vir die jong generasie ’n platform geskep om oor die nalatenskap van vorige leerders te leer. “Ek dink daar is ’n geneigdheid nou dat… elke geslag vergeet die vorige geslag en verloor daardie draad van die geskiedenis van hierdie skool, wat verrykend is en wat deel van jou erfenis is,” sê Dr. William Rowland. Hy is ’n bekende digter en leiersfiguur in die internasionale blinde gemeenskap en ook ’n oud-Pionierskoolleerder. “En dit is hoekom hierdie projek belangrik is. Dit gaan die vorige geslagte aan die huidige geslag en komende geslagte bind.”


Bestel ‘n Pionierstorie saam met jou koffie in Blindina Barista. Links rangskik Rouxné die storiebordjies; regs bedien Annemarie ‘n storie.

Die Pionierstories is nou ’n permanente instelling by die skool en in Blindiana Barista.

  • Rouxné van der Westhuizen – Oktober 2018

Byderhand-Pionierskool: ‘n Luisterryke bekendstelling

Die Byderhand-Pionierskoolprojek is op 30 Augustus 2018 luisterryk bekendgestel met die opening van die multisensoriese tuin by die Pionierskool.

Byderhand, ʼn interdissiplinêre kreatiewe en navorsingprojek, bied interaktiewe leeservarings waardeur plek en literatuur op ‘n nuwe manier ervaar kan word. Die projek in samewerking met die Pionierskool vir Siggestremdes, bestaan uit drie dele, naamlik Pionierstories, Tuinverse en Karootuinverse. Skrywers en kunstenaars in die projek sluit bekende digters, asook leerders, oudleerders en personeel van die Pionierskool in.

Met die projek by die Pionierskool het die span spesifiek navorsing gedoen om te verseker dat die projek toeganklik is vir siggestremde persone. Om in dié doel te slaag, word ʼn kombinasie van media gebruik. Al die stories en gedigte is opgeneem en kan via slimfone of tablette ervaar word. Dit is hierdie ouditiewe komponent wat die Byderhandprojek so toeganklik maak vir mense met sigsverlies, soos dit ook duidelik blyk uit die entoesiastiese ontvangs van die projek.

Die konkrete en digitale koppelvlakke (“interfaces”) bestaan uit braille-instruksies, bordjies met QR-kodes en ʼn digitale koppelvlak waarin van spraaktegnologie gebruik gemaak word. Die koppelvlakontwerpe is die werk van Gustaf Tempelhoff, die multimedia-ontwerper in die span. Gustaf doen sy  sy meestersgraadstudie in Grafiese Ontwerp binne die projek. Die brailledrukwerk is deur die Pionierdrukkery gedoen.

Tuinverse: Besoekers kuier onder skadubome by die multisensoriese tuin. Regs is bordjies wat die tuinverse aandui en plantinligting verskaf.

Die multisensoriese tuin op die skoolterrein is ontwikkel deur die Pionierskool en Hoërskool Brackenfell as deel van die ATKV se Handevatprojek, en afgerond in samewerking met die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin, Afrikaans.com en Byderhand. Die tuin bied aan leerders ʼn besondere multisensoriese ervaring: die plante in die tuin is gekies met die fokus op reuk en tas; die paadjies is uitgelê met verskillende teksture; buitelug-musiekinstrumente van herwonne materiaal nooi die leerders uit om saam te speel en musiek te maak, en ʼn muurskildery deur Afrikaans.com, met idiome wat met klank te doen het, rond die tuin af. Byderhand se bydrae tot die multisensoriese tuin is 10 tuinverse en kinderverse deur William Rowland, Hans du Plessis, Bernard Odendaal, Daniel Hugo, Floris A. Brown en Franci Greyling. Van die verse word aangevul deur musiekverwerkings, vertalings en tipografiese animasies sodat die leerders werk op ʼn verskeidenheid maniere kan ervaar.

  Pionierstories: Links luister Reinette Popplestone en Rouxné van der Westhuizen in Blindiana Barista na Reinette se storie. Regs is een van die Pionierstoriebordjies op die skoolterrein.

Die tweede gedeelte van die projek, Pionierstories, is geskryf en vertel deur leerders, oudleerders en personeel van die Pionierskool sowel as visueelgestremde persone van die Worcestergemeenskap. Hierdie stories kan ervaar word in Blindiana Barista, ʼn koffiewinkel, by die Innovation for the Blind (Instituut vir die Blindes) in Worcester. Skrywers in dié projek het ʼn gesellige bekendstellings­geleentheid in Blindiana Barista bygewoon. Joseph Matheatau, koffiewinkel se blinde barista, se vertelling is deel van die storieversameling. Die Pionierstories is ook op die skoolterrein aangebring by die plekke waar die verhale afspeel, sodoende bied dit aan die leerders ʼn plekspesifieke en konkrete ervaring.


Karootuinverse: Links verduidelik Werner Voigt, kurator van die botaniese tuin, een en ander oor die beplande brailleroete. Regs waaier die wolke oor die tuinlandskap.

ʼn Derde gedeelte van die projek in Worcester word samewerking met die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin onderneem. Digters met ʼn verbintenis met Worcester en die Breëriviervallei is genooi om gedigte oor die omgewing te skryf. Hierdie gedigte word deel van die nuwe brailleroete wat tans in die tuin ontwikkel word. Die gedigte deur 10 skrywers waar onder Diana Ferrus, William Rowland, Daniel Hugo en David Kramer is o.a. vertaal in Engels, Portugees en Duits. Hierdie projek is tydens ʼn skemerkelk-geleentheid in die botaniese tuin bekendgestel waartydens gaste na die gedigte soos voorgelees deur die digters, geluister het. Die gaste was dit eens dat die kombinasie van karoolandskap en die gedigte ʼn besondere ervaring vir besoekers aan die tuin sal bied.

Hierdie uitdagende projek was en is steeds vir die Byderhandspan ʼn besondere verrykende ervaring en die projek sal deel bly van die vakgroep Skryfkuns se voortgesette navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid.

“Byderhand” word onderneem binne die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Die projek is ʼn goeie voorbeeld van ʼn skeppende projek in die digitale humaniora (Digital Humanities).

  • Franci Greyling – September 2018