Die skep van die Tuinverse totempale – ‘n kunstenaarsblik

Die kunstenaar van die totempale vir Tuinverse, Strijdom van der Merwe, in gesprek met DJ Cloete.

totem7  totem5

  1. U is ʼn bekende landkunstenaar met ʼn lang lys van uitstallings en betrokkenheid. Hoe was u ervaring met Byderhand?

Ek was nog altyd geïnteresseerd en voorstaander van samewerking tussen die verskillende kunstedissiplines. Woordkunstenaars kan dinge in woorde sê en musikante kan dit met klanke doen en visuele kunstenaars kan dit met beelde uitdruk. Dit open altyd vir my nuwe wêrelde oor hoe die verskillende breine werk. Dit is fassinerend. So was dit dan ook die geval gewees met Byderhand.

toterm_proses1
Foto: Strijdom van der Merwe

2. Hoe het u die besluit gemaak om die gedigte in die vorms van totems voor te stel. Was slegs u by hierdie besluit betrokke of was daar ander faktore wat ʼn rol gespeel het?

Ek het al dikwels in die verlede totems gemaak, so die hele konsep of besluit was dus nie moeilik gewees nie. Ek was/is nog altyd geïnteresseerd oor die storiebetekenis van totems en wat dit alles versinnebeeld, en dink daarom was dit ʼn besluit gewees om ryk digkuns te probeer uitbeeld in die vorm van totems. Miskien was elke digter se diep denke oor die spesifieke plek ook ʼn tipe van ʼn ‘gebed’ van nadenke oor die omgewing.

  1. Watter kennis dra u van totems en hoe het dit bygedra tot die uiteindelike vorming van die totems? Het u uit ʼn spesifieke tradisie die totems geskep?

Ek het nog nooit ʼn dieptestudie gedoen van totems nie. Dit was maar nog net altyd ‘bolangs’ geïnteresseerd in wat hulle sê en wat hulle versinnebeeld. Die Australiese Aboriginale totems, waarvan ek een het, vertel stories van die persoon se geboorte tot sy sterfteplek ens. Natuurlik is daar die Noord Amerikaanse Indiaanse totems en totems as aanbiddingspale, ens. Maar ek was meer geïnteresseerd in die totemtradisie wat stories vertel eerder as die wat aanbid word. Daarom die storie-vertel-totems vir die Byderhand-projek.

  1. Wat was die proses vir die fisiese skep van die totems?

Dit was lees en lees en dink en dink oor elke gedig. Ek het letterlik maande met die gedigte in my kop rondgeloop voor ek begin het met die skep van die totems. Die besluit was dan by elkeen watter gedagtes / woorde / beelde kan ek oordra deur middel van visuele vorms. Vir my was nie elke woord van elke gedig uitbeeldbaar gewees nie. Party gedagtes het makliker hom verleen tot uitbeelding. So het ek dan sketse gemaak en weer gemaak en oor en oor geteken totdat ek by iets uitgekom het wat visueel werk, maar ook ʼn versinnebeelding is van die gedig.

totem_sketstotem_proses2  totem_proses3Skets en foto’s: Strijdom van der Merwe

  1. Baie van die totems wat u geskep het, word daar ʼn voorstelling gemaak van woorde wat meer konkreet uitgebeeld kon word. Watter invloed het die gedigte op die vorm van die totems gehad? Wat was die wisselwerking met die skep van die totems en die gedigte?

Ek dink elke totem het ek eerstens gesien as ʼn kunswerk wat moes werk volgens die standaarde van kuns: perspektief, vorm, tekstuur, balans, ens. Daarom sou die totem nie noodwendig ʼn uitbeelding wees van die presiese woorde van die gedig nie, m.a.w. beeld een is eerste op totem beeld twee tweede. Maar eerder sou ek die vorms wat visuele ontstaan het as gevolg van my lees bymekaar gesit word om ʼn visuele eenheid te vorm. Dit moes as ʼn kunswerk onafhanklik kan staan van die gedigte.

totem_stel1  totem_stel2
Foto’s : Strijdom van der Merwe

  1. Die digters het Potchefstroom as ʼn kernpunt, en grotendeels ook die botaniese tuin, as verwysing gebruik om ʼn plekspesifieke gedig te skep sodat die leser beide die gedig en die omgewing terselfdertyd kan ervaar wat ʼn moontlike beter onderdompelingseffek het. Het Potchefstroom en ook die botaniese tuin ʼn rol gespeel met die skep van die totems?

Ja, dit het beslis ʼn rol gespeel, máár die rol wat dit gespeel het, is deur middel van die woorde en die digkuns wat ek gelees het. Natuurlik was ek al in die NWU se botaniese tuin en Potchefstroom, maar ek dink nie dit maak saak nie. Deur die oë en woorde van die digters skep hulle vir my ʼn wêreld waarin ek myself kon beleef en ervaar, sonder om fisies daar hoef te wees. Dit is wat so wonderlik is van die ander dissiplines van kuns. Ek het my beleef in hulle vertellingswêreld en daaruit kon ek iets skep wat dit versinnebeeld en dus ook die plek.

  1. Die sketse met aantekeninge by wat u gemaak het vir die totems is op ʼn latere stadium by die lys van opsies gevoeg wat die leser kan sien nadat hy/sy die QR-kode geskandeer het. Tot watter mate dink u sal die gebruiker (oorkoepelende term vir leser, kyker en ervaarder) se verstaan van die totempaal verbreed as gevolg van die sketse en watter estetiese effek, dink u, het hierdie byvoeging tot die lys van opsies? Uit my persoonlike ervaring was die ooreenkomste met die gedig duideliker gemaak alhoewel dit tog voor die sketse se byvoeging ook afgelei kon word.

Ek dink die sketse help die kyker ʼn beter betekenis ervaar van die skeppingsproses. Soos ʼn digter sekerlik oor en oor skryf aan ʼn gedig so skets ons ook voordat ons by die finale besluit kom. Die vraag is dikwels: hoe werk jou kop om by so iets uit te kom ? Miskien help die sketse in ʼn minder om meerdere mate so effe die ontbloting van die proses van kreatiwiteit. Nie almal is visueel geletterd nie. En ‘spoon feeding’ kan wêrelde oopmaak vir ʼn beter verstaan.

  1. Watter impak dink u het die tegnologie op die ervaring van natuur en as landkunstenaar, dink u tegnologie moet meer geïnkorporeer word met natuurprojekte, amper ʼn groen-tegnologie tipe projek?

Tegnologie het nog altyd ʼn rol gespeel. En hoe verder die tegnologie ontwikkel, so ontwikkel die kunste ook daarmee saam. Já, beslis moet tegnologie ingespan word om ‘green art’ te help en die kyker meer bewus te maak van die natuur. Ek dink ons is ʼn visuele generasie en as tegnologie kan help om die mens weer nader aan die aarde/natuur te bring, dan já, beslis.

Mense is gewoond daaraan dat kuns in galerye gesien en ervaar word. Baie landkuns gebeur juis waar mense nie eintlik kom nie en daarom is dit so belangrik dat tegnologie ingespan word om die mens bewus te maak van dit wat geskep is maar nie noodwendig bereikbaar was om te sien nie. Dit wat in die botaniese tuin gebeur het. Byderhand, sien ek as ʼn ‘eye opener’ van hoe die oue en die nuwe ‘kyk’ gebruik kan word om verskillende mense se ervaring te stimuleer.

  1. Hoe beskou u die wisselwerking tussen die spesifieke plek en aard van die projek, die tegnologie, die gedig en dan ook die totempaal?

Ek dink dit is ʼn wonderlike ‘marriage’ tussen die verskillende dissiplines. ʼn Spesifieke plek wat by jou ʼn bewuswording word wat anders is as ander plekke – ook daarom die digters se uitbeelding daarvan en daarom die musiekkunstenaars se toonsetting daarvan en daarom my uitbeelding van die lees van die ervaring daarvan. Dit was ook vir my wonderlik om te dink dat iets soos ʼn totempaal wat ʼn eeu oue vorm van skep en storie vertel is gebruik kan word in samewerking met die nuutste tegnologie om die storie op ʼn nuwe manier weer oor te vertel. Ek glo: diep binne ons bly ons aards, ons hou van die eenvoud en die visuele sien en ervaar. Om te kan funksioneer in ʼn modern wêreld en tyd moet ons dit wat tot ons beskikking is gebruik en inspan om die stories oor te vertel en as dit nog op ʼn kreatiewe manier gedoen kan word ( Byderhand ) dan nog soveel beter.

Vir my was/is plekspesifieke kuns nog altyd die eerlikste ervaring en uitbeelding van die kreatiewe proses. Wanneer jy iets sien en ervaar is dit die omgewing se invloed wat ʼn rol speel oor hoe jy dit beleef.

http://www.strijdom.com/

totem_opstel  totem_opstel3  totem_4  totem_2  Foto’s : Franci Greyling

Gesprek: DJ Cloete met Strijdom van der Merwe
30 April 2016

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s