Dit is seker een van die grootste uitdagings om jongmense te oortuig om meer te lees. Dit is ook nie iets wat net in die digitale era voorkom nie, maar ‘n probleem wat al vir eeue strek. So duik die vraag dan nou op: Hoe kry jy jongmense van die digitale era om meer te lees? Gebruik ‘n digitale platform, natuurlik.
Die Dwaalverhaal is ‘n plek-spesifieke narratief wat afspeel op die gronde van HTS (Hoër Tegniese Skool) Potchefstroom waar die ATKV-tienertoneel tydens Aardklop plaasvind. Die narratief is deur Prof Hans du Plessis geskryf en met die titel Die Misverstand, kweek hy ‘n nuuskierigheid in die leser wat duidelik die leser op ‘n avontuur wil stuur.
Die narratief word gekoppel met video-segmente wat die karakters en die plekke voorstel. Ons videograaf en grafiese ontwerper, Gustaf Tempelhoff, het die verfilm en geredigeer. Die video vervang nie die narratief nie, maar vul die narratief aan en betrek die lesers by die ontwikkeling van karakters en die ruimte. Die gebruik van verskillende media met die digitale verhaal maak dit multimodaal op ‘n manier wat interessant, uniek, en hopelik effektief is.
Interaktiewe, plek-spesifieke, multimodale storievertel – dit is omtrent ‘n mondvol terme wat dalk nie lekker sin maak nie. Die Dwaalverhaal vat al hierdie terme en verduidelik dit op ‘n eenvoudiger manier. Elke plek op die gronde van hierdie historiese hoërskool, wat deel vorm van die storie, is geïntegreer met die verhaal. Sodoende kan die leser die omgewing waarneem en self deel word van die ruimte waar die gebeure afspeel. Die verhaal is opgedeel in agt afsonderlike plekke waar die narratief afspeel en so ‘n geheel vorm.
Die Misverstand gaan oor twee karakters, Bea Malan en Marni Botha, wat vriende word nadat Bea saam met haar ma Potchefstroom toe trek. Die twee se nuutgevonde vriendskap is tog bietjie vreemd en deur saam op ‘n avontuur te gaan, ontdek hulle ‘n geheim oor die skool se geskiedenis en maak ‘n interessante nuwe maatjie.
Met die proeflopie was dit duidelik dat die lesers hulself in die storie ingelees het. Elkeen was so opgewonde om die volgende hoofstuk (by die volgende plek) te lees, dat hulle selfs mekaar gestoei het om die QR-kodes te skandeer.*
Die deelnemers het hulself verdiep in die verhaal. Hulle het by elke plek wat deel van die verhaal vorm, meer en meer met karakters geïdentifiseer en so die storie gevolg en kinderlik geniet.
Die Dwaalverhaal is definitief ‘n unieke geleentheid om ‘n narratief op ‘n vreemde/alternatiewe manier te beleef: om jouself in die verhaal in te lees en die ruimte ten volle te begryp.
* Geen jongmense of digitale toestelle is in die produksie van die Dwaalverhaal beseer nie.
- Marcé Bester – Dwaalverhaal-kunsregisseur en assistent