‘n Braillewandelpad en Byderhand Karootuinverse in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin

ʼn Byderhandhoogtepunt is gewis die opening van ʼn universele braillewandelpad en die Byderhand Karootuinverse-installasie in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin in Worcester.

Die feestelike opening van die wandelpad en installasie op 30 September 2022 het saamgeval met toerismemaand en die jaarlikse byeenkoms van die Botaniese Vereninging van Suid-Afrika (BotSoc).

Alhoewel die wandelpad sedert 2014 in die vooruitsig gestel is, kon dit as gevolg van ʼn gebrek aan fondse en ander omstandighede nie vroeër realiseer nie. Met die konseptualisering van die Byderhand-Pionierprojek in 2017 het die Byderhandspan ook met personeel van die Karootuin kennis gemaak en die moontlikheid om ʼn Byderhand Karootuinverse-installasie deel van die voorgenome braillewandelpad te maak, bespreek. Die opening van die wandelpad vier jaar ná die ingebruikneming van die multisensoriese tuin by die Pionierskool (2018), getuig van die goeie samewerkingsverhouding wat oor jare gestrek het en wat tot ʼn geintegreerde en unieke braillewandelpad bygedra het.

Die wandelpad is langs die nuwe opvoedkundige sentrum in die tuin aangelê en is universeel toeganklik. Die sirkelroete van 154 meter is rolstoeltoeganklik en die steenrandjie help om besoekers met langkieries te oriënteer. Geelgeverfde hobbelstene dui inligtingsborde en gedigte langs die paadjie aan.

‘n Verskeidenheid plantspesies met pragtige geure en interessante teksture kom langs die wandelpad voor en besoekers word aangemoedig om die plante wat in verhoogde beddings uitgestal word, te hanteer. Inligtingsborde verskaf bondige feite oor onderwerpe soos die plant- en dierlewe in die karootuin. Die gevolge van klimaatsverandering kan byvoorbeeld eerstehands waargeneem word in die versameling kokerbome by die draaipunt.

Die Byderhand Karootuinverse-installasie is met die wandelpad geïntegreer en besoekers kan na die werk van 10 digters uit die omgewing luister. Die digters, onder wie twee blinde digters, William Rowland en Jacques Coetzee, het self hulle gedigte voorgelees. Die klankervaring word uitgebrei deur musiekverwerkings van die gedigte en vertalings in Engels, Duits, Portugees en isiXhosa.

Wat verdere waarde tot die wandelpad voeg, is dat die Byderhandplatform en -koppelvlak saam met die visuele en braille inligtingsborde gebruik word om inligting langs die roete beskikbaar gestel word. Dié oudiogids dra by tot toeganklikheid en die rykdom van ervarings.

Braille trail (foto: Lize
Labuscagne)

Worcester is die omgeehoofstad van Suid-Afrika. Die Pionierskool vir Siggestremdes en Innovation for the Blind (voorheen Instituut vir die Blindes), die De la Batskool vir Dowes en die Nasionale Instituut vir Dowes, is in die dorp geleë. Hierdie instansies is daarop gerig om persone met gestremdhede te bemagtig om selfvoorsienend en onafhanklik te wees en die braillewandelpad in die tuin bevestig die Karootuin se ondersteuning van hulle werk. Die braillewandelpad bied egter nie slegs nuwe ervaringsgeleenthede vir persone met gestremdhede nie, maar ook vir die duisende besoekers wat jaarliks by die tuin ontvang word.

Skandering van QR kode - Braillewandelpad (Foto Lize
Labuscagne)

Dit was ʼn groot voorreg dat dr. William Rowland, wat in 2018 die multisensoriese tuin by die Pionierskool geopen het, ook by die opening van die brailleroete teenwoordig kon wees. In sy boodskap het hy waardering uitgespreek teenoor almal wat by die projek betrokke was en die belangrikheid beklemtoon dat blinde raadgewers ingesluit moet word by soortgelyke projekte om seker te maak dat die roetes werklik toeganklik en genotvol is.

Franci Greyling
Oktober 2022

Lees ook:

Lewer kommentaar