‘n Besondere publikasie vir verdere toeganklikheid: die Byderhand-Pionierversameling

Hoe kan skrywers van die Pionierstories die versameling stories en gedigte geniet waar hulle hul ook al bevind?  Hoe kan die versameling nóg toegankliker gemaak word? Hierdie vrae was met die ontwikkeling van die Byderhand-Pionerprojek deurentyd in die span se gedagtes.

Die konsep van die Byderhandprojekte is dat die verse en stories wat met die plek verband hou, op die spesifieke plek beskikbaar gestel word en ook hier gelees word. Hierdie eerstehandse en gelyktydige ervaring van die plek en die literatuur, dra by tot die unieke leeservaring. Dit bring egter ook mee dat die skrywers wat elders in die land woon, nie mekaar se stories kan geniet nie. Ons wou ook graag, as waardering vir hulle deelname aan die projek, aan die skrywers van die Pionierstories ʼn bundel met die volledige versameling tekste skenk.

Ná die afhandeling van die projek in die multisensoriese tuin op die skoolterrein en in Blindiana Barista, kon die Byderhandspan saam met die Pionierdrukkery alternatiewe publikasiemoontlikhede ondersoek. In 2019 is die Byderhand-Pionierprojek bekend gestel in Die Pionier, ‘n tweemaandelikse publikasie van die Pionierdrukkery. ‘n QR-kode, wat toegang tot ‘n Pionierstorie verskaf het, is in elke uitgawe ingesluit. Hierdie eksperiment het gewys dat dit wel moontlik is om die tegnologie ook op dié manier te gebruik en die inhoud nog meer toeganklik te maak. Die span het daarom besluit om ‘n vollediger publikasie saam te stel.

Die resultaat van hierdie samewerking is ʼn unieke Byderhand-Pionierpublikasie wat in Maart 2020 bekendgestel is.

 

Die Byderhand-Pionierversameling bestaan uit ʼn kombinasie van brailleskrif en QR-kodes. Die inhoudsopgawe, voorwoord, instruksies, titels, skrywersname en besonderhede van die publikasie, is in braille gedruk. Op elke bladsy is twee titels geplaas met ʼn meegaande QR-kode binne-in ʼn brailleraampie. Wanneer die QR-kodes met ʼn selfoon geskandeer word, kan mens na die voorlesing of vertelling luister of die teks op die selfoonskerm lees.

Soos dit met alle aspekte van die Byderhandprojek die geval is, het die produksie van die bundel spanwerk en samewerking vereis. Die samestelling van die inhoud en ontwerp is deur Franci Greyling en Gustaf Tempelhof gedoen; die drukwerk is onder leiding van Elzaan Hendriksz deur die span van die Pionierdrukkers onderneem; en ʼn spannetjie Skryfkunsstudente het, met Quinten Pendle as braille-leser se hulp, die QR-kodes ingeplak.

 

Voorbereiding van die publikasie: Quinten Pendle, Gustaf Tempelhoff en ‘n groepie Skryfkunsstudente wat gehelp het om die QR-kodes op die regte plekke te plak.

Dit was vir ons (Franci Greyling en Gustaf Tempelhoff) een van die hoogtepunte van ons deelname aan die Byderhand-Pionierprojek om in Maart 2020, tydens ʼn besoek aan Kaapstad en Worcester, van die Pionierskrywers te ontmoet en die bundels persoonlik aan hulle te besorg.

 

Besoeke aan die skrywers en oorhandiging van die bundel: Madelene van den Berg, Hanli Stehli, Syndney Berrington, Philip Crouse, Nicky Labuschagne, en Jacques Coetzee saam met Gustaf Tempelhoff.

Uit die skrywers se reaksie was dit duidelik dat om ‘n eie bundel met die versameling stories in die hande te hou, ‘n spesiale ervaring was. Van die skrywers het veral waardering uitgespreek vir die kombinasie van tegnologie wat hulle in staat stel die ander skrywers se stories te geniet, en om die stories en verse ook met vriende en familie te deel.

“Ek geniet my boek en vind die voorlesings baie goed. Het die boek vandag werk toe gebring om vir ander te wys hoe moderne tegnologie ingespan kan word. Nogmaals dankie.” – Madelene van den Berg.

20200317_122533_1000
Die span van die Pionierdrukkery wat gehelp het met die ontwikkeling van die bundel: Schalk Hugo, Elzaan Hendriksz, Shani Little, Arne von Mollendorf saam met Gustaf Tempelhoff en Franci Greyling.

Eksemplare van die bundel is ook oorhandig aan instansies wat by die Byderhand-Pionierprojek betrokke is.

Ongelukkig het die staat van inperking die span verhoed om die bundels ook persoonlik aan skrywers wat elders in die land woon, te besorg. Ons sal egter seker maak dat elke skrywer wel op een of ander manier hulle eie bundel ontvang. Die buitengewone omstandighede a.g.v. die Covid-19 pandemie, het egter bevestig dat dié spesiale publikasie en kombinasie van tegnologie dit vir lesers op enige plek, in die gees terug kan neem na die Pionierskool en Worcester.

  • Franci Greyling – Junie 2020

Nuwe perspektiewe – “peripheries” ELO 2019, Cork

Ek sit in ‘n lokaal en luister aandagtig na ‘n navorser wat verduidelik hoe ‘n rekenaar ‘n reeks boeke geskryf het. My opinie en gedagte is dat niemand so ‘n boek sou lees nie, en as dit wel gelees word, sal mense weet dit is nie deur ‘n mens geskryf nie. Tot my verbasing maak sy haar navorsing bekend wat bevestig dat mense die boeke nie net gelees het nie, maar ook geniet het. Verder wys sy dat die meerderheid lesers oortuig was dat ‘n mens die boeke geskryf het. Die ELO 2019 kongres in Cork se tema was peripheries en as daar een ding was waarin hierdie kongres geslaag het, was dit om my grense te skuif. Die kongres was ‘n byeenkoms vir leer, verkenning en bewondering. Die geleentheid het baie van my denke rondom kuns, literatuur en tegnologie uitgedaag en op stadiums selfs laat glo die mens gaan vervang word deur masjiene wat kan dig.

Hierdie kongres het my weereens laat besef hoe diverse en eksperimenteel die veld van digitale literatuur is. As navorser het dit vir my ‘n goeie oorsig gegee rondom die navorsing wat op die oomblik in die veld gedoen word. Dit het vir my as ontwerper en kunstenaar laat wonder oor die eksperimentering en toepassingsmoontlikhede van tegnologie buite die konvensionele grense. Ek het ook die geleentheid gehad om netwerke te kan bou met gevestigde navorsers wat bereid is om kennis te deel en ook wil hoor van my navorsing.

Een van die praatjies wat veral vir my uitgestaan het, was John Barber se eLit User Experience: Audience+Purpose=Design wat gehandel het oor die belangrikheid van koppelvlakontwerp en die gebruikerservaring van digitale literatuur. Barber argumenteer dat baie elektroniese literatuurprojekte slegs fokus op die estetika van die projek en minder klem plaas op bruikbaarheid. Barber het veral klem geplaas dat daar ‘n balans tussen estetika en bruikbaarheid van ‘n koppelvlak moet wees. In sy aanbieding maak hy die volgende stelling: “We are attracted to shiny things, but if they have no function we quickly move our attention to the next thing”. Hierdie aanbieding was vir my van baie waarde aangesien hierdie argument ooreenstem met my navorsing rondom koppelvlakontwerp. Ek het verder die geleentheid gehad om met John Barber te gesels rondom hierdie tema, ‘n geleentheid wat ek nie eers myself sou kon indink nie. Tydens ons gesprek het ek weereens besef hoe belangrik die rol van goeie koppelvlakontwerp binne digitale projekte is.

ReRites was ‘n paneelbespreking oor die implikasies en moontlikhede van hibride-masjien gegenereerde digkuns. Hierdie paneel het die kunswerk van David Jhave Johnston bespreek en ontleed. Die kunswerk bestaan uit twaalf boeke wat Johnston in samewerking met ‘n rekenaar deur middel van masjiengebasseerde algoritmes geskryf het. Johnston het die masjien-gegenereerde tekste verfyn en aangepas soos hy volgens sy literêre agtergrond goed gedink het. Verder het hy die massa teks gepubliseer en in ‘n baie estetiese en byna kliniese verpakking beskikbaar gestel. Hierdie projek was vir my interessant aangesien die kunstenaar byna in ‘n “ko-ontwerp” wyse met die masjien gewerk het. Die navorsing wat gedoen is, toon ook die duidelike onderskeid tussen die teks van die masjien en die teks van die kunstenaar aan. Hierdie projek is vir my ‘n goeie voorbeeld van mens-masjien-interaksie en ‘n goeie toepassing van A.I. tegnologie binne ‘n kreatiewe konteks. Verder kan die belangrikheid van navorsing binne en rondom kunspraktyk bevestig word deur te kyk na die magdom navorsingsuitsette wat hierdie kunswerk gelewer het.

Nog ‘n interessante projek wat bespreek was, is die Eververse: Poetry in Motion projek. Hierdie projek maak gebruik van ‘n fitbit horlosie om digitale poësie te genereer. Die horlosie word deur een van die navorsers gedra en is 24 uur aanlyn gekoppel om data in te samel. Die horlosie neem die navorser se pols en gebruik hierdie data om tekste in die vorm van gedigte te genereer. In hierdie projek kan mens sien hoe wyd die toepassings binne tegnologie en literatuur is. Dit het my verbaas om te sien hoe biologiese data gebruik kan word vir skepping binne ‘n literêre konteks. Dit is verbasend om te sien hoe kunstenaars, skrywers en navorsers elemente van verskillende kontekste kan verweef en ‘n interessante projek kan skep wat unieke toepassingsmoontlikhede vorendag bring.

 

Die kongres was verder vir my ‘n baie goeie geleentheid om my werk en navorsing te kon aanbied. Ek kon terugvoer op ‘n internasionale vlak kry en besef dat my navorsing ook nodig binne hierdie veld is. Dit was ook goed vir my om nuwe insigte te kon kry en my denke en “peripheries” rondom digitale literatuur te verbreed. Deur te sien hoe kunstenaars en navorsers die grense toets en probeer skuif, het ek besef die enigste grense wat ons terug hou in die lewe is die wat ons self uitdink.

  • Gustaf Tempelhoff – Julie 2019

Seminaar oor die Byderhand-Pionierprojek

‘n Baie geslaagde seminaar oor die Byderhand-Pionierprojek is op 9 Mei 2019 op die NWU-kampus aangebied. Die gedagte met die seminaar was om vanuit verskeie perspektiewe saam te gesels oor die projek en om navorsingsinsigte met mekaar te deel.

Die seminaar was inderdaad ‘n besondere (en gesellige) geleentheid vir die deelnemers en ander belangstellendes wat die geleentheid bygewoon het.

As deel van die verwelkoming en kontekstualisering is die kort video oor die tuin en Byderhand-Pionierprojek vertoon. Die video is die werk van Gustaf Tempelhoff en almal was dit eens dat dit ‘n baie goeie oorsig oor die projek bied en keurig saamgestel is.

Hierna het die verskillende sprekers aan die woord gekom – die groot verskeidenheid invalshoeke word in die titels van die bydraes weerspieël.

Suna Verhoef (Pionierskool vir Siggestremdes, Worcester) – “Touch, pause and engage”: die skep van ‘n multisensoriese tuin as samewerkende projek en toepassing van die Expanded Core Curriculum in ‘n skool vir leerders met siggestremdheid.

Franci Greyling (Vakgroep Skryfkuns, NWU) – Samewerking en deelname in ʼn plekspesifieke digitale literatuurprojek vir persone met siggestremdheid.

Gustaf Tempelhoff (Grafiese Ontwerp, NWU) – Koppelvlakontwerp en plekspesifieke digitale literatuur vir persone met siggestremdheid.

Bernard Odendaal (Vakgroep Skryfkuns, NWU) – Dig vir siggestremdes – aantekeninge oor enkele gedigte geskep vir die Byderhandinstallasies te Worcester.

Philip van der Merwe (Vakgroep Duits, NWU) – Die dialektiek van lewe en dood in die ‘tuinverse’ van die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin.

Paneelgesprek: Gedeelde ervarings: Pionierstories (Suna Verhoef, Franci Greyling, Gustaf Tempelhoff, Quinten Pendle en Hendrik Steyn).

Die seminaaraanbiedinge het tot baie interessante gesprekke aanleiding gegee en het bygedra tot insigte wat verder in kongresreferate en navorsingsartikels neerslag sal vind. Bowenal was die seminaar ‘n wonderlike geleentheid om nuwe vriende te maak en vriendskapsbande te versterk.
(Die seminaar en Suna Verhoef se navorsingsbesoek is moontlik gemaak deur befondsing wat van die Puk-kanselierstrust ontvang is.)


Links: Paneelbespreking oor die Pionierstories: Van links na regs op die foto is Quinten Pendle, Suna Verhoef, Hendrik Steyn, Gustaf Tempelhoff en Franci Greyling. (Foto geneem deur Elise Tempelhoff)
Regs: Quinten Pendle en Suna Verhoef in ligte luim. (Foto geneem deur Carin Pendle)


Quinten Pendle (links) en Hendrik Steyn (regs) lees die braille-instruksies wat verduidelik hoe om die QR-kodes van die Pionierstories te skandeer.

(Die Pionierdrukkery het die braille-drukwerk in die projek verskaf.)

Woordkunservarings in Galway

If you ever go across the sea to Ireland
than maybe at the closing of your day
you can sit and watch the moon rise over Claddah
or watch the sun go down on Galway Bay.
– 
Arthur Colahan

1000_20180429_191159Die afgelope April het ons die geleentheid gehad om ‘n kongres in Galway by te woon en terselfdertyd met verskeie plekspesifieke woordkunsprojekte in die dorp en omgewing kennis te maak.

Galway County aan die weskus van Ierland is ‘n besondere omgewing met landmerke soos Connemara, die Aran eilande en die Cliffs of Mohar – plekke wat op talle wyses in wêreldliteratuur neerslag gevind het. Literatuur in al sy vorms speel dan ook ‘n integrale rol in die gemeenskap van Galway: vanaf mondelinge tradisies tot by gedigte in graniet gegrafeer; vanaf erkenning van belangrike skrywers tot by podiumpoësie vir jong digters; vanaf die uitbeelding van gedigte met muurskilderye tot by digitale storievertelling. Met meer as 50% van die inwoners van Galway County wat Iers as eerste of tweede taal gebruik, is dit verder opvallend hoe hierdie oorgelewerde Keltiese taal (Gaeilge of Gaeilge na hÉireann) herwaardeer en bevorder word.

Die kongres, “Transient Topographies: Space and Interface in Digital Literature and Art”,  is onder die vaandel van die Moore Instituut by die Nasionale Universiteit van Ierland aangebied.

Die Byderhandprojek en ons referate het soos ‘n handskoen by die kongrestema gepas. In haar referaat, Experience interface and performativity in site-specific digital literature, het Franci Greyling ‘n oorsig gebied oor Byderhand Tuinverse, die multimodale ensemble vir plekspesifieke digitale literatuur, ervaringskoppelvlak en verskillende aspekte van perfomatiwiteit. Op sy beurt het Gustaf Tempelhoff gesels oor ontwerpuitdagings om die bestaande Byderhandkoppelvlak vir persone met visuele beperkinge toeganklik te maak. Die titel van sy aanbieding was: “I look at clouds from both sides now’”– Interface design and accessibility for site-specific digital literature for the visually impaired.

Die interessante perspektiewe van die sleutelsprekers en kongresgangers het heelwat stof tot nadenke gebied en ons kon lekker saamgesels. Kenmerkend aan kongresse oor digitale letterkunde en kuns, het die program ook uitstallings van en gesprekke oor kreatiewe werk ingesluit.

Kongresgangers ervaar ‘n strata-wandeling op die kampus; Gustaf Tempelhoff en Franci Greyling voor die Nun’s Island Theatre by die Cúirt International Literary Festival.

Die kongres het plaasgevind op die vooraand van jaarlikse Cúirt International Literary Festival wat sedert 1985 in Galway aangebied word en ons was gelukkig om ook ‘n gedeelte van die fees te kon meemaak. Hier het ons  o.a. gesprekke oor en vertonings van digitale werk bygewoon en ‘n aand van podiumpoësie ‘n plaaslike pub ervaar. Meer oor die Cúirt-fees: https://www.cuirt.ie/

Dit was egter veral die plekspesifieke projekte en installasies wat ons op ‘n ontdekkingstog geneem het. Dit is opvallend op hoeveel wyses plek,  kuns en letterkunde, konkrete bakens en digitale media gekombineer word.

Die Galway Poetry Trail, ‘n permanente projek van die Cúirt-fees en Kenny’s Bookshop, bestaan uit ‘n versameling gedigte wat op verskillende plekke in die dorp aangebring is. Hierdie werk van bekende Ierse digters word jaarliks aangevul. Die keuse van gedigte, die kombinasie met plek, en die fisiese installasie daarvan is aanduidend van die erns waarmee die projek bejeen word. Een van die gedigte langs die promenade is Galway Bay, die lied van Arthur Colahan wat die dorp bekend gemaak het. Hierdie werk is in graniet gegrafeer met weergawes in vier tale: Engels, Iers, Frans en Latyn. Meer inligting oor die projek – o.a. met video’s van die onthulling van die gedigte – is beskikbaar by: https://www.kennys.ie/news/galway-poetry-trail-2/

Met ‘n uitsig oor die Corribrivier en die Galway katedraal –  ‘n gedig van George Moore in graniet. ‘n Man en sy honde stap verby ‘n gedig van Paul Durcan. 

In die middedorp  word die besoeker verras deur vier groot muurskilderye. Die kunswerke  – ook onder die vaandel van die Cúirt-fees – is visuele interpretasies van gedigte deur ‘n plaaslike straatkunstenaar. Meer oor die Cúirt poetry walls met video-insetsels van proses gekombineer met voorlesing van die gedigte is beskikbaar by https://www.cuirt.ie/cuirt-festival-poetry-walls/

Die groot muurskildery van Home deur Nikola Madzirov

‘n Onverwante plekspesifieke digitale literatuurprojek is The Famine Walk vanaf die Wolf Tone-brug na die Celia Griffen gedenkpark. Om dié projek te kan ervaar, moet ‘n toepassing (app) afgelaai word. Die gebruiker kan dan tydens die wandeling op ‘n selfoon luister na ‘n gefiksionaliseerde dramatisering van ‘n insident tydens die groot hongersnood van 1847. Die Celia Griffen gedenkpark is ‘n herinnering aan die 6-jarige Celia en al die kinders wat hulle in dié tyd verloor het. Plekspesifieke vertellings soos The Famine Walk vorm deel van die historiese gelaagdheid van plek. Die toepassing vir Android en IOS kan afgelaai word en op enige plek geluister word: http://www.walk15.org/

‘n Plekspesifieke projek in die Connemara Nasionale Park is die Letterfrack Poetry Trail. Die roete wat die Connemara Park, die Connemara West Centre en die dorpie Letterfrack verbind, bestaan uit nege plekverwante gedigte wat op borde by die verskillende plekke aangebring is. Die Ierse President Michael D. Higgins het die roete is in 2014 geopen en self ook ‘n gedig bygedra. Ongelukkig was die tyd te min om dié projek te besoek, maar ons het ‘n mooi bundel met ingeslote CD met voorlesings van die gedigte gekoop. Vir ons navorsing oor publikasiemoontlikhede is dit interessant om te sien hoe die werk op dié wyse beskikbaar gestel word. Dit is ook moontlik om op die projek se webtuiste na die voorlesings te luister:  https://ceecc.org/letterfrack-poetry-trail/

Ander besondere literêre ervarings in die omgewing sluit in: ‘n uitstalling oor die lewe en werk van die Ierse digter Mairtín Ó’Direáin in die universiteitsbiblioteek; bronsbeelde van Oscar Wilde en Eduard Vilde in ‘n voetgangerstraat; karaktervolle boekwinkels gepak met nuwe en tweedehandse boeke; volksmusiek in die bekende O’Connor’s pub in Salthill; en die busbestuurder se aaneengerygde vertellings tydens ‘n daguitstappie na die Inisheer en Cliffs of Mohar. Hier is literatuur inderdaad verweef met die plek en die leefwyse van die inwoners.

  • Franci Greyling – Mei 2018

Tuin van digters, Breytenbachsentrum, Wellington

Die versameling gedigte in die Digterstuin van die Breytenbachsentrum in Wellington is tydens die Fees van Digters (16-18 September 2016) met ‘n nuwe toevoeging uitgebrei. Nou kan besoekers aan die tuin benewens gedigte op interessante mediums soos teëls, uithangborde en beeldhouwerke, ook digitale gedigte ervaar: Byderhand Digterstuin.

copy_dscn5200_1000  copy-dscn5189_1000
Die Byderhandspan is n.a.v. die Tuinverse in die NWU-Botaniese Tuin genader om nuwe tuinverse vir Tuin van digters te skep. Hierdie uitnodiging bied ook ‘n gulde geleentheid om die navorsing oor plekspesfieke digitale literatuur na ander plekke uit te brei.

Theo Kemp, die uitvoerende bestuurder van die sentrum, het vyf Kaapse digters uitgenooi om deel te word van die projek: Danie Marais, Alfred Schaffer, Zandra Bezuidenhout, Hennie Nortjé en Daniel Hugo. Liam Longland, Ricardo Liut, Cherié Cordier en Philip van Heerden was verantwoordelik vir die treffende animasies van die gedigte. Die QR-kodes van gedigte is op die bankies in die tuin aangebring – elkeen op ‘n plek waar die gedig en die omgewing die beste in gesprek kan tree.

alfredschaffer_1000  copy-dscn5132_1000
Alfred Schaffer se gedig, Die Aandete / Het Avondmaal

 a_hennienortje  copy_dscn5193_1000
Hennie Nortjé met Swartbas – reg by die swartbas wat hy in die tuin geplant het

copy-dscn5249_1000  copy_dscn5222_1000
Daniel Hugo en Die digter se tuin – en gesellige digters in die tuin

copy-dscn5224_1000  copy-dscn5230_1000
Danie Marais met Toy Story 

copy-dscn5169_1000  tuin_1000
Twee kinderverse van Franci Greyling kan ook in die tuin ontdek word: Met die voëls praat en Tuinmaak

Die Fees van Digters vind jaarliks plaas naby die verjaarsdag van Breyten Breytenbach (16 September.) Vanjaar is drie dae lank fees gevier met ‘n uitgebreide program wat vir ieder en elk voorsiening gemaak het.

Die digters het hulle gedigte voorgelees by die gesprek oor digitale literatuur wat as deel van die feesprogram in die woordtent aangebied is. Met: Bernard Odendaal, Diek Grobler, Yves T’Sjoen en Franci Greyling (gespreksleier); voorlesings deur Danie Marais, Alfred Schaffer, Zandra Bezuidenhout en Hennie Nortjé. Byderhand is ‘n projek van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) waarin digitale digkuns en die natuur op vindingryke manier bymekaar uitkom, deurdat jy op jou slimfoon, via ‘n strepieskode in die natuur aangebring, ‘n gedig kan aflaai wat met die tuingegewe te doen het. Hierdie projek is met groot sukses in die NWU se Botaniese Tuin aangebied tydens die Aardklop-fees in 2015. Enkele splinternuwe tuinverse is vir die Tuin van Digters geskryf en digitaal bewerk. Filmverse is op sy beurt ‘n projek waarin digters se verse tot animasiefilms verwerk word. Betrokkenes by beide projekte kom gesels oor wat digitale digkuns behels en hoe ons vergelyk met wat in Europa gebeur. Van die digters wie se werke opgeneem is vir die Byderhand-projek, kom lees hul werk voor. Besoek Byderhand se Digterstuin blad en laai die QR-leser op jou slimfoon hier af om die Byderhand kodes in die tuin te kan benut. 16:45 | 60 min. | Woordtent

copy-dscn5124_1000  copy_dscn5143_1000   Byderhand: Bernard Odendaal. Die Byderhandspan is veelsydige planmakers – Gustaf Tempelhoff en Daniel Hugo in hulle “ateljee” besig met die opname van Daniel se gedig.

bb_banier

  • Franci Greyling – September 2016

Nabetragting oor die colloquium vir digitale literatuur

Die colloquium oor digitale literatuur het, as deel van die 2de Digitale Humaniora Werkswinkel, op 6 April 2016 plaasgevind. Deelnemers en gaste stem saam dat dat ‘n interessante verskeidenheid referate en sprekers was.

Alhoewel prof. Yves T’Sjoen as gevolg van die terreuraanvalle op die Brusselse lughawe nie na Suid-Afrika kon reis nie, het hy sy aanbieding via Skype gedoen. Hy het ook die res van die verrigtinge met behulp van die tegnologie gevolg – inderdaad gepas vir die aard en tema van die colloquium en werkswinkel.

colloquium1 colloquium2

Letterlik en figuurlik van die een kant na die ander… Die colloquiumgangers in Potchefstroom en Gent.

Die onderwerpe en sprekers was:

Ut bits & bytes poesis? Over digitale poëzie en poëzie in het digitale tijdperk – Prof Yves T’Sjoen (Universiteit Gent, België) (Gasspreker)

Die Byderhand-projek: Konstekstualisering en kort video – Prof Franci Greyling (Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)

Ingeplaaste skryf en die materiële verbeelding. Voorlopige aantekeninge en waarnemings oor ingeplaastheid en verbeelding in twee Tuinversprojek-gedigte – Prof Susan Smith (Universiteit van Fort Hare. Oos-Londen) (Voorgelees deur prof Heilna du Plooy)

Vertelling en dataprojeksie: Die aanbieding van poësie in kombinasie met ander kunsvorms. ’n Oorsig van sulke ATKV-produksies – Nita Cronjé (ATKV)

Mediosferiese veranderings en die skryf en onderrig van digkuns – Prof Bernard Odendaal (Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)

Paneelbespreking: Die ontwikkeling van die dwaalverhaal – Proff. Hans du Plessis, Franci Greyling met Jaco Lubbe, Gustaf Tempelhoff, Ruan Fourie

Byderhand: Die rol en proses van multimedia-ontwerp binne die plekspesifieke digitale literatuurprojek – Gustaf Tempelhoff (Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)

Labirint van labirinte: Potchefstroom as hiperskakel soos vervat in Byderhand – Roela Hattingh (Universiteit van Johannesburg)

Tinboektoe toe toep: Remediasie van ʼn kunstenaarsboek na ʼn toepassing – Prof Franci Greyling & Wildrich Fourie (Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)

Vanselfsprekend het ons verder gekuier met teetyd, etenstyd, na die tyd in De Jonge Akker, en sommiges tot laat die aand oor ‘n glasie wyn…

Byderhand

Colloquium oor digitale letterkunde

UITNODIGING TOT BYWONING

COLLOQUIUM: DIGITALE LETTERKUNDE

 byderhand_t

6 APRIL 2016

NOORDWES-UNIVERSITEIT (POTCHEFSTROOMKAMPUS)

In aansluiting by die Tweede Nasionale Digitale-Humaniora-Werkswinkel wat op 4-8 April 2016 plaasvind op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), organiseer die vakgroep Skryfkuns aan die NWU ’n Colloquium oor Digitale Letterkunde (voortaan Colloquium) om op 6 April 2016 op dieselfde kampus plaas te vind.

Datum en tyd:

6 April 2016. Registrasie (gratis): 08:30-09:00.

Plek:

Transnetlokaal, grondverdieping van Frans du Toit-gebou (gebou E9), Potchefstroomkampus van die NWU

Die oogmerk met die Colloquium is eerstens ’n fokus op aspekte van die Byderhand-projek oor plekpesifieke digitale literatuur (en waarvan die beplande Colloquium ’n voortsetting is). Die beginfase van die multimodale, interdissiplinêre projek was die Byderhand-leesfeesproduksie wat tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in September 2015 op Potchefstroom van stapel gestuur is. Meer inligting oor die verskillende onderdele van hierdie projek is beskikbaar op die webwerf www.byderhand.net

Prof Yves T’Sjoen, van die Vakgroep Letterkunde in die Fakulteit Letteren en Wijsbegeerte aan die Universiteit Gent in België, sal as gasspreker by die Colloquium optree. Ander sprekers is prof. Susan Smith (Universiteit van Fort Hare), Nita Cronjé (ATKV), Wildrich Fourie en prof. Franci Greyling (NWU), prof. Bernard Odendaal (NWU), Gustaf Tempelhoff (NWU), Roela Hattingh (UJ) en ’n paneel onder leiding van Prof. Hans du Plessis (NWU).

Onderwerpe ter diskussie sluit digkuns in die digitale era, die aanbieding van digkuns in kombinasie met ander kunsvorme, die wisselspel tussen ingeplaastheid en verbeelding van gedigte in die NWU-Botaniese Tuin, die rol en proses van multimedia-ontwerp binne ’n plekspesifieke digitale literatuurprojek soos Byderhand, en die ontwikkeling van die dwaalverhaal as onderdeel van die Byderhand-projek in.

Hiermee ’n uitnodiging aan  belangstellendes om die Colloquium by te woon. Bywoning is gratis. Bevestig asseblief bywoning by onderstaande kontakgegewens voor of op 24 Maart 2016.

Indien u meer te wete wil kom oor die Tweede Nasionale Digitale-Humaniora-Werkswinkel van die hele week van 4-8 April 2016, en waarvan bogenoemde Colloquium ’n onderdeel vorm, kan u van die volgende skakel gebruik maak:  http://www.nwu.ac.za/unit-languages-and-literature-south-african-context-digital-humanities-2nd-workshop.

Prof. Franci Greyling: Franci.Greyling@nwu.ac.za; tel. 018  299 1781

Prof. Bernard Odendaal: Bernard.Odendaal@nwu.ac.za; tel. 018 299 1782