Onderwysers aan die Pionierskool maak met groot sukses gebruik van die multisensoriese tuin in hulle lesse. Die direkte en konkrete ervaringe wat moontlik is in die tuin, sowel as die feit dat verskillende sintuie betrek kan word, maak die leerproses interessanter en meer effektief in, onder andere, Sosiale Wetenskap (Geskiedenis en Geografie), Natuurwetenskap en Tale.
Ter verheldering, die volgende voorbeelde:
Annannet Oliver, ‘n onderwyser van graadses-leerders, moes in Geskiedenis die tema oor inheemse groepe en die gebruik van plante vir medisyne behandel. Sy het die leerders in die tuin geneem en hulle aan die blare van veral die verskeidenheid malvas laat ruik en voel en gesels oor die gebruik van plante vir, ondermeer, medisyne, parfuum en skoonmaakmiddels. Die plant “kooigoed”, wat in die tuin is, se naam dui op die gebruik van die sagte plant as“matras” vir die Khoisan. Die inheemse plante wat aan die skool geskenk is deur die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin is by uitstek geskik vir onderrig oor inheemse gebruike en tradisies.



‘n Module oor die Trans-Sahara slawehandel wat, ondermeer, fokus op kamele en die woestyn, is konkreet gemaak deur leerders kaalvoet te laat loop: eers op klippe en gras, en daarna in diep sand. Die unieke aanpassings van kamele om in daardie omstandighede te kan loop en oorleef, bly leerders by. In die multisensoriese tuin is daar ook inligtingsborde. Die vermoë van die inheemse kulture om die sterre en patrone op die duine te lees om rigting te vind en hou, is op hierdie manier onderrig. Die leefwêreld van die siggestremde leerder is ook betrek deur te verduidelik hoe oriëntasie en mobiliteit deur klank, temperatuur, reuke en eggos verkry word.
As taalonderwyser betrek ek ook die multisensoriese tuin en die Byderhand-installasie op verskeie maniere. In die maande voor die opening van die tuin, het ek die graadtien-leerders wat Engels Eerste Addisionele Taal neem, die vordering van sekere aspekte van die tuin laat neerskryf sodat hulle ‘n kort vorderingsverslag kon indien. Die graadnege-leerders het kort vraelyste opgestel en toe die onderwysers en leerders se opinies oor die tuin gevra en op grond daarvan ‘n verslag geskryf. Die skryf van verslae is deel van die inhoud van die CAPS kurrikulum.





Die graadsewe leerders het ‘n hele paar lesse in die tuin gespandeer waartydens ons gevoel, geluister, geruik het, kaalvoet op die paadjies geloop het en toe gepraat het oor ons verskillende sintuie. Daarna het ‘n les in die klas gevolg waar ‘n lys van woorde wat met die sintuiglike verband hou, deurgelees is, byvoorbeeld: “clink, swish, tread, warble, noisy (sound); blurred, gorgeous, dappled, splotched” (sight); crisp, fluffy, firm, gooey, moist, uneven (touch); bitter, palatable, salty, stale, tangy (taste) and aromatic, moldy, pungent, sniff, whiff (smell).” Daarna is ons terug na die tuin en ons het die nuwe woorde op die lys gesoek en ingeoefen soos ons deur die tuin gestap het. In die daaropvolgende les het leerders met die hulp van die woordeskatlys, kort paragrawe geskryf om hulle ervaringe in die tuin te beskryf. Dit was opvallend hoe leerders aansienlik meer ontvanklik was vir die nuwe woordeskat as enige vorige kere wat ek nuwe woordeskat (sonder konkrete belewenis) aan hulle moes oordra.
Die multisensoriese tuin word egter nie net op formele wyse gebruik nie. Daar is heelwat spontane oomblikke: die graadeens kom pouses uit en speel soms die hele pouse op die musiekinstrumente, ander junior leerders loop rond en lees die braillebordjies hardop vir mekaar, die ouer kinders sit in die middae in die tuin, soms skandeer leerders die QR-kodes en luister na die Portugese vertalings van die gedigte al verstaan hulle dit nie, verliefde paartjies sit gereeld naby die fontein op een van die bankies, leerders hou piekniek op die kunsmatige gras en baie leerders neem selfies met die tuin as agtergrond wat hulle as profielfotos op Whatsapp en Facebook gebruik.
*(Lees onder andere die artikel: “The influence of sensory gardens on the behaviour of children with special educational needs” H. Hussein, https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S187704281200835X )
Suna Verhoef – Oktober 2021