‘n Byderhand-uitstappie: Hoërskool Promosa

Dertien entoesiastiese Promosa-leerders, ‘n jong juffrou en Byderhand-assistente het ‘n wilde dag vol avonture gehad. Ons het die dag afgeskop met ‘n melkskommel, ‘n kortverhaal en, natuurlik, ‘n inkleurkaart by die Boeke-Oase. Ons volgende avonture het vir ons in die Botaniese Tuin gewag: digkuns, beeldhouwerk en ‘n piekniek onder die bome. Julle dink seker teen die tyd al “hokaai!” Maar as dit kom by Byderhand is “hokaai!” slêng vir ‘gimme more!’ Ons het die dag met ‘n koue koeldrank, ‘n spookstorie en ‘n tienertoneel, by die Hoër Tegniese skool, afgesluit. ‘n Paar besoekers – onder andere juffrou Leonora, ‘n Skryfskunsstudent en assistente in die Skryfkunsdepartement deel opgewonde hulle avonture, gedagtes en waarnemings van die uitstappie.

pr_leonra 
Twee van die Rusplekstorie-skrywers: Jenna-Leigh Schoeman en Leonora van Rooyen in die Boeke-oase

Boeke-oase – Rusplekstories

Leonora van Rooyen en 13 van haar graad 11-leerders van Promosa het op Dinsdag, 7 Oktober 2015, na die Boeke-oase gekom waar hulle getrakteer is met melkskommels en waar hulle van ons Rusplekstories kon lees. Die leerlinge het dit baie geniet en in die onderskeie onderhoude wat daar tydens hierdie geleentheid gevoer is, het ons baie positiewe terugvoer gekry. Verskeie studente het gesê dat hulle nie verwag het dat dit só lekker sou wees nie, en dat hulle baie uitsien na die res van die dag, waartydens hulle onder andere ook die Botaniese Tuin en die HTS sou besoek. Hoewel die Blackberry-selfone nie so lekker wou saamwerk nie, het baie van die leerders twee-twee stories gelees – sommige van hulle het selfs die stories vir mekaar gelees.

’n Interessante opmerking wat een van die leerlinge gemaak het, is dat dit vir haar lekkerder en makliker is om die QR-kode te gebruik en die storie op die selfoon te lees, as om die hardekopie te lees. Dit is ’n nuwe ervaring en iets wat elke leser en belangstellende se nuuskierigheid prikkel!

Die leerlinge het die Rusplekstories baie geniet en het nie vir een oomblik teruggedeins om tydens ’n onderhoud vrae te beantwoord oor hulle ervarings nie. Ellari Snyders

pr_bo_2  pr_boeke_3

Botaniese Tuin – Tuinverse en Tuinversies

Na ‘n lekker melkskommel en ‘n goeie paar kortverhale agter die blad, het die assistente en die leerders by die Botaniese Tuin aangekom. Die leerders het met groot entoesiasme die tuinverse in die tuin loop soek. So paar van hulle het al agter juffrou Leonora aangewandel en saam na die gedigte geluister. ‘n Paar ander het besluit om hul eie koers te vat en op hulle eie die gedigte te geniet. Na enkele hiccups met selfone wat nie werk nie, het hulle uiteindelik al die wegkruipskatte, gevind. Teen dié tyd was almal al dood van die honger en moeg geloop. So gaan ontspan hulle toe onder die groot bome en werk aan ‘n verrassing vir die projekleier terwyl die assistente heel fluks piekniekpakkies aandra. Na almal ‘rondepens’ geëet het, het prof Greyling, die projekleier, weer bietjie kom gesels. Dis toé dat die leerders uithaal en wys: “Die sagtrappad, die dennepad, die grasmatras, hou my voete vas.” sing hulle prof Greyling se tuinversie. Met haar aanmoediging rap Jenna-Leigh Schoeman boonop vir ons dieselfde versie. Dit is veilig om te sê dat die tuinvers-ekspidie tonne pret was! – Anja Venter

pr_bt_3  pr_tuin

Hoër Tegniese Skool – Dwaalverhaal

Teen die tyd wat ons by die Dwaalverhaal uitgekom het was almal al moeg en warm, maar gedetermineerd om die projek te voltooi. Op elke punt het Jenna-Leigh Schoeman die verhaal vir haar klasmaats voorgelees. Die interaksie tussen leser, hoorder en die omgewing het gesorg vir ’n besonderse belewenis. Die videos was ‘n lekker kyk ervaring so in die stap van die een punt na die volgende.

Die tienertonele was ‘n gepaste manier om ‘n lang maar opwindende dag af te sluit. Dit was ‘n verligting om net te kon terugsit en kyk na die toneelstukke Dubbeldrie en Jaarblad – altwee goed opgevoerde stukke wat lank in mens se gedagtes sal bly draai. ‘n Aangename verrassing was toe die leerlinge vir Elma Postma raakloop en saam met haar ’n foto kon neem. An-Mari Fouché

  PR_DWAAL_GROEP  pr_dwaal_elma

Juffrou Leonora se kommentaar op facebook

Wat ‘n onvergeetlike ervaring. Na al’s kan ons agteroor sit en reflekteer op ‘n goeie tyd van lees, luister en kyk. Dit was maar nou net een van die tye waar jy as leser voel dat jy deel is van die storie, want jy bevind jou op die presiese plek waar dit afspeel, reg in die middel van die gebeure. Jy word deel van die storie en dit sonder dat jy ‘n boek hoef oop te maak. Ek sal beslis weer op dié uitstappie gaan.

pr_piekniek  pr_anja_groep