Digkuns dié verkenner van nuwe media

Ons wat boorlinge van die twintigste eeu is, vind dit moeilik om anders aan gedigte te dink as “stellasies” vers, om ’n beeld by die digter D.J. Opperman te leen – as stapeltjies versreëls omgewe van sulke lappe wit op die bladsye van boeke.

Die woorde wat sangers so op wysies sing, gedigte? Nooit gesien nie! Lirieke hoort tot wat ons as populêre kunsuitings kan reken. – Dis tipies hoe veral in die twintigste eeu geredeneer is.

Gaan slaan ’n mens na in histories oorsigtelike poësiebloemlesings, kom jy egter agter die meeste ouer digtekste was juis geskryf om gesing of voorgedra te word. Die teelaarde van die digkuns soos ons dit ken, was die liedkuns.

Dis toe ons digterlike voorouers hulle lirieke en resitasies begin neerskryf het dat hoe gedigte op die bladsy lyk, betekenisvol geword het. Die uitvinding van die boekdrukkuns, en die yking van skriftekenformate en spasiërings wat daarmee gepaard gaan, het die proses beklink. Gedigte se tipografiese voorkoms het net so betekenisvol geword as dit wat jy hoor wanneer hulle voorgedra word.

Trouens, ’n mens kry selfs wat sommige mense kykgedigte wil noem: gerangskikte taaltekens wat eers sin maak as jy na hulle kyk asof hulle beeldende kunswerke is.

Die afgelope eeu en ’n half was die hoogty van wat mediawetenskaplikes die grafosferiese kultuurera noem. Gedrukte media het oorheers as wyse om inligting en kennis oor te dra.

Wat die poësie betref, was die gevolg dat lirieke se eendimensionele (ouditiewe) tekengerigtheid veroorsaak het dat hulle tot die “laere” kunsvorme gereken is. Digkuns, wat betekenis laat voortspruit uit wat lesers hoor én sien, is die “hoër” vorm geag.

Ná die Tweede Wêreldoorlog beleef ons egter ’n oorgang na ’n nuwe mediosferiese era, een waarin die elektroniese media met al rasser skredes vooruitgaan. Gedrukte teks steel steeds die kollig in die digkunsbedryf – maar hoe lank nog?

Gedigte kan nou, deur middel van digitale animasie, “nomadies” word. Voor jou oë op die rekenaarskerm, kruis en dwars geplaas, onderstebo of agterstevoor gekeer, in gedaantes van verskillende lettergroottes en –tipes, kan woordstringe verskyn, verander, verdwyn.

Erger selfs: deur benutting van byvoorbeeld algoritmes kan rekenaars geprogrammeer word om sélf versreëls voort te bring. Party programme laat lésers toe om ’n gedig se vorm en/of verloop te kies.

Ander willekeure as dié van digters domineer.

Of jy kry video- of kine-poësie, waarin woord, beeld en klank saamstaan tot gedigte. Voordragpoësie is terug in volle glorie: YouTube bevat hordes sogenaamde “performance poems”.

Daar is al beweer dat dit die poësie geverg het om die volle omvang van betekenisskeppingsmoontlikhede met ink op papier te verken. Nou hoor ’n mens dis asof die digkuns en die digitale media vir mekaar gemaak is.

Die “Tuinverse”-been van die Byderhand-webtuiste sal uiteindelik voorbeelde bevat van verskunsbeoefening wat ’n mens na aldrie die genoemde mediosferiese wêrelde verplaas: daar sal gedigvoorlesings en -toonsettings te hoor (logosfeer), gedigte te lees (grafosfeer) én grafiese, digitale bewerkings te bekyk en te beluister wees (videosfeer).

bernard_odendaal   bernard_odendaal2

  • Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool en vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit) – 22 Julie 2015
Advertisements