‘n Drieluik artikels oor die Byderhand-Pionierprojek

‘n Drieluik navorsingsartikels oor die Byderhand-Pionierprojek het onlangs in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn (Jaargang 60 No. 4-2: Desember 2020).

In ‘n redakteursnota by die artikels skryf die redakteur Ina Wolfaart-Gräbe soos volg:

“Die Byderhand-Pionierprojek, soos ’n mens al uit die naam kan vermoed, is ’n heel besonderse onderneming. Gesetel in Worcester, in die Breëriviervallei in die Wes-Kaap, behels die projek multimodale literatuurinstallasies, wat ook toeganklik is vir siggestremdes. Aan die een kant is dit as ’n voobeeld van toegepaste elektroniese literatuurstudie die neerslag van gevorderde akademiese navorsing; maar aan die ander kant het samewerkingsverhoudings met verskeie partye daartoe bygedra dat die praktiese uitvoering daarvan met groot sorg en kundigheid geskied het. Dit is, met ander woorde, soos die outeurs dit eksplisiet stel, ’n voorbeeld van ’n deelnemende projek “as praktiese toepassing van navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid”. Die totstandkoming van ’n multisensoriese tuin in Worcester en die skep van digitale literatuur, soos verhale en gedigte, word in die drie artikels in hierdie afdeling uiteengesit. Franci Greyling, Suna Verhoef en Gustaf Tempelhoff skets die totstandkoming, konseptualisering en uiteindelike volvoering van die projek. In die daaropvolgende artikels fokus Bernard Odendaal en Franci Greyling op die plasing van gedigte en verhale in die tuin. Vermeldingswaardig is die deurgaanse fokus op die kernbydrae van siggestremdes, as volwaardige vennote in die totstandkoming en beplanning van alle aspekte van die projek.

“Beskou vanuit ’n ander hoek, kan hierdie projek saamgelees word met die fokus op die kwesbaarheid van kinders in die konteks van Suid-Afrikaanse huishoudings en families. Dit illustreer, sy dit dan nie binne gesinsverband nie, hoe verbeeldingryke samewerking tussen universiteite, skole en die breër gemeenskap een tipe gestremdheid kan verlig.”

Die titels en opsommings van die drietal artikels bied ‘n blik op die inhoud daarvan:

Die Byderhand-Pionierprojek: ’n Gevallestudie van die deelnemende dinamika in die skep en toeganklikmaking van lokatiewe literatuur vir persone met siggestremdheid
Franci Greyling, Suna Verhoef en Gustaf Tempelhoff

Die artikel bied, deur ’n bespreking van die Byderhand-Pionierprojek as gevallestudie, ’n blik op die praktiese implementering van deelnemende en skeppende interdissiplinêre projekte in die Digitale Humaniora. Die Byderhand-Pionierprojek, wat lokatiewe literatuurinstallasies in Worcester in die Wes-Kaap behels, is uniek in dié opsig dat die multimodale literatuurinstallasies vir persone met siggestremdheid toeganklik is en dat persone met siggestremdheid ’n integrale rol in die totstandkoming van die projek gespeel het. Die artikel fokus op die kontekstualisering van die gevergde deelnemende benadering; op die projekkonseptualisering en -raamwerk; op die deelnemende dinamika wat die totstandkoming van die multisensoriese tuin, die skep van die digitale literatuur daarby betrokke, en die toeganklikmaking van sodanige inhoud moontlik gemaak het (koppelvlakontwerp); en op nabetragting oor en gevolgtrekkings aangaande die projekbenadering. Deelname aan die projek het die projekspan bewus gemaak van die behoeftes van persone met siggestremdheid en van die noodsaak van groter inklusiwiteit en toeganklikheid van kultuurprodukte – in die besonder soos dit ten opsigte van koppelvlakontwerp en digitale aanbieding van literatuur tot uitdrukking kom.

Manifestasies van sintuiglikheid in enkele gedigte ingesluit by twee digitale Byderhand-installasies te Worcester
Bernard Odendaal

In die Westerse tradisie word veral sig, maar ook gehoor, as ’n “hoër” sintuiglike vermoë geag. Hiertoe dra die versnelde opkoms van ’n wetenskapskultuur oor veral die afgelope twee eeue by. Beelding gebaseer op veral visuele waarneming oorheers ook in die digkuns, soos waarneembaar is in die meeste gedigte opgeneem in twee Byderhandprojek- digitale installasies by die Pionierskool en in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin te Worcester. Die tassintuig speel ’n belangrike rol in siggestremdes se verkenning van voorwerpe en ruimtes. Betasting verg beweging, sodat siggestremdes se waarnemingswyse deur beweging gekenmerk word. Analogisering van sintuiglike waarnemings (sinestesie) is nog ’n strategie wat dikwels deur hulle benut word. Meer onlangse navorsing beklemtoon dat daar, naas die uiterlike sintuie, ook intero-reseptore (vir waarneming van, byvoorbeeld, balans en beweging) is wat die mens se persepsie bepaal. Sodoende word beliggaamde belewing moontlik. Laasgenoemde dien as teenvoeter vir die kultureel en talig gemedieerde omgang met verskynsels wat, in Lacaniaanse terme, so kenmerkend die Simboliese Ordening daarvan oorheers. Vier gedigte uit die Byderhandprojek-versameling te Worcester wat in hierdie artikel bespreek word demonstreer, op verskeie wyses, bogenoemde aspekte van sintuiglikheid. Die ingeplaastheid van estetiese belewing wat hierdie geïnstalleerde tekste bemiddel, korreleer voorts met die begeerte na liggaamlike toenadering tot die Karoo-natuurverskynsels wat in die gedigte uitgedruk word.

“Wie is dan blind?” Beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid
Franci Greyling

Die artikel behels ’n ondersoek na die beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid. Die Pionierstorieversameling wat op die skoolterrein van ’n skool vir leerders met siggestremdheid geïnstalleer is, bestaan uit verhale, vertellings en gedigte deur leerders en oudleerders van die betrokke skool. In hierdie artikel word ondersoek hoe die Pionierstories as lokatiewe narratiewe moontlik insig sou kon bied in die plekervaring van die skrywers, asook sou kon bydra tot lesers se verdiepte ervaring van die plek en tot die sigbaarmaking (bewuswording) van stories, liggame en gemeenskappe. Om die Pionierstories binne dié konteks te verstaan, word ’n raamwerk saamgestel waarin die konsepte van beliggaamde ruimte en ingeplaastheid bespreek word, soos dit verband hou met die multisensoriese aard van waarneming, die ingeplaaste skryfaksie, met narratiewe van persoonlike ervaring en die ekosomatiese benadering tot gestremdheid; asook met die beliggaamde ervaring van die ingeplaaste leser-deelnemer. Vier verhale uit die versameling word aan die hand van sodanige raamwerk bespreek. Die geïntegreerde uitbeelding van die konkrete én abstrakte aspekte van plek in die Pionierstories, demonstreer die verweefde dimensies wat die ervaring van plek bepaal, die sentrale rol en agentskapfunksies van die ingeplaaste skrywer in plekskepping, asook die konkreetheid van die ervaring deur die leser-deelnemer in die betrokke lokatiewe installasie soos dit tot die verhoogde sigbaarheid van die stories, liggame en die gemeenskap bydra.

Die tydskrif met die drie artikels kan gratis afgelaai en gelees word:
http://tgwsak.co.za/wp-content/uploads/2020/12/TGW-60-4-2-DES-2020.pdf

Franci Greyling – Januarie 2021

Seminaar oor die Byderhand-Pionierprojek

‘n Baie geslaagde seminaar oor die Byderhand-Pionierprojek is op 9 Mei 2019 op die NWU-kampus aangebied. Die gedagte met die seminaar was om vanuit verskeie perspektiewe saam te gesels oor die projek en om navorsingsinsigte met mekaar te deel.

Die seminaar was inderdaad ‘n besondere (en gesellige) geleentheid vir die deelnemers en ander belangstellendes wat die geleentheid bygewoon het.

As deel van die verwelkoming en kontekstualisering is die kort video oor die tuin en Byderhand-Pionierprojek vertoon. Die video is die werk van Gustaf Tempelhoff en almal was dit eens dat dit ‘n baie goeie oorsig oor die projek bied en keurig saamgestel is.

Hierna het die verskillende sprekers aan die woord gekom – die groot verskeidenheid invalshoeke word in die titels van die bydraes weerspieël.

Suna Verhoef (Pionierskool vir Siggestremdes, Worcester) – “Touch, pause and engage”: die skep van ‘n multisensoriese tuin as samewerkende projek en toepassing van die Expanded Core Curriculum in ‘n skool vir leerders met siggestremdheid.

Franci Greyling (Vakgroep Skryfkuns, NWU) – Samewerking en deelname in ʼn plekspesifieke digitale literatuurprojek vir persone met siggestremdheid.

Gustaf Tempelhoff (Grafiese Ontwerp, NWU) – Koppelvlakontwerp en plekspesifieke digitale literatuur vir persone met siggestremdheid.

Bernard Odendaal (Vakgroep Skryfkuns, NWU) – Dig vir siggestremdes – aantekeninge oor enkele gedigte geskep vir die Byderhandinstallasies te Worcester.

Philip van der Merwe (Vakgroep Duits, NWU) – Die dialektiek van lewe en dood in die ‘tuinverse’ van die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin.

Paneelgesprek: Gedeelde ervarings: Pionierstories (Suna Verhoef, Franci Greyling, Gustaf Tempelhoff, Quinten Pendle en Hendrik Steyn).

Die seminaaraanbiedinge het tot baie interessante gesprekke aanleiding gegee en het bygedra tot insigte wat verder in kongresreferate en navorsingsartikels neerslag sal vind. Bowenal was die seminaar ‘n wonderlike geleentheid om nuwe vriende te maak en vriendskapsbande te versterk.
(Die seminaar en Suna Verhoef se navorsingsbesoek is moontlik gemaak deur befondsing wat van die Puk-kanselierstrust ontvang is.)


Links: Paneelbespreking oor die Pionierstories: Van links na regs op die foto is Quinten Pendle, Suna Verhoef, Hendrik Steyn, Gustaf Tempelhoff en Franci Greyling. (Foto geneem deur Elise Tempelhoff)
Regs: Quinten Pendle en Suna Verhoef in ligte luim. (Foto geneem deur Carin Pendle)


Quinten Pendle (links) en Hendrik Steyn (regs) lees die braille-instruksies wat verduidelik hoe om die QR-kodes van die Pionierstories te skandeer.

(Die Pionierdrukkery het die braille-drukwerk in die projek verskaf.)

Byderhand Pionierstories

Byderhand het die afgelope jaar in samewerking met die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester en vele ander rolspelers getree vir ’n besondere projek. Die Byderhand-Pionierskoolprojek is op 30 Augustus 2018 bekendgestel, en die Byderhand Pionierstories kan nou gelees word op die skoolgronde van die Pionierskool en ook in die koffiewinkel, Blindiana Barista.

Leerders en oud-leerders van die Pionierskool is gevra om verhale en herinneringe te deel vir die versameling van Pionierstories. Sommiges het hul ervaringe as blinde of siggestremde persone deel, terwyl ander oor hul loopbaan vertel het of herinneringe aan hul Pionierskooldae herroep het. “Die drie jaar wat ek op Worcester was, was vir my die hoogtepunt van my skoolloopbaan,” sê Madelene van der Berg. “Dit was goeie tye, en ek is bly ander mense kan nou daarin deel.”

  Pionierstories op die skoolterrein. Links is ‘n storiebordjie in “Niemandsland” en regs is ‘n bordjie langs die hoofdeur van die skoolgebou.

Hierdie stories kan gelees word deur middel van bordjies waarop die titel en naam van die skrywer in gedrukte teks en ook in braille aangebring is. Die braille-teks vir al die bordjies is gedruk met behulp van Pionierdrukkers in Worcester. Getrou aan die plekspesifieke aard van Byderhand, is die bordjies op plekke by die skool aangebring waaroor daar in die storie vertel word: stories oor musiek en koorsang in by die ouditorium opgesit, en koshuisvertellinge is voor die ingange van die koshuis op die gronde te lees. Die versameling bestaan uit 27 stories en verse deur 23 skrywers/vertellers.

     Skrywers om die tafel: Links lees dr. William Rowland instruksies in braille;  regs luister Quinten Pendle en Gustaf Tempelhoff saam na Quinten se storie.

Die skrywers is op die openingsdag genooi om vir die eerste keer na hul stories te luister by ’n kleiner bekendstellingsfunksie by Blindiana Barista. Die Pionierstories sal ook in hierdie restaurant, by die Innovation for the Blind (Instituut vir die blindes), beskikbaar wees vir die mense van die Worcester-gemeenskap om te lees.


Links lê Philip Crouse se gidshond neffens haar eienaar. Regs gesels Gustaf en Nicky Labuschagne oor die toeganklikheid van die koppelvlak.

“In hierdie spesifieke projek sien ek in die eerste plek ’n geleentheid vir gestremde persone om werklikwaar ’n kreatiewe bydrae te lewer tot hulle eie gemeenskappe,” sê Philip Crouse, ook een van die skrywers. “Ook om die breër gemeenskap te beïnvloed deur hulle digkuns en letterkuns.” Philip is die koӧrdineerder van die Tegnologiesentrum van die Innovation for the Blind, en het ’n groot rol gespeel in die toetsfase van die nuwe digitale koppelvlak en hoe om dit vir blindes toeganklik te maak. Sy hulp was van onskatbare waarde vir die multimedia-ontwerper van Byderhand, Gustaf Tempelhoff. Philip noem dat daar nog baie toekomstige moontlikhede uit die projek kan spruit. “Ek dink hierdie is regtigwaar ’n ‘pionier’ – mind the pun – in baie opsigte, en ek dink dis ’n goeie sinergie tussen kuns, tegnologie, die verlede, die toekoms en wat ook al moontlik is in die toekoms.”


Pionierstories in Blindiana Barista. Links: ‘n storiebordjie en selfoon met die storie; regs verwelkom ‘n plakkaat by die deur die besoekers.

Die Pionierstories dien as die literêre nalatenskap van die skrywers, as inspirasie vir huidige en toekomstige Pionierskoolleerders. Deur die stories word daar nou ook vir die jong generasie ’n platform geskep om oor die nalatenskap van vorige leerders te leer. “Ek dink daar is ’n geneigdheid nou dat… elke geslag vergeet die vorige geslag en verloor daardie draad van die geskiedenis van hierdie skool, wat verrykend is en wat deel van jou erfenis is,” sê Dr. William Rowland. Hy is ’n bekende digter en leiersfiguur in die internasionale blinde gemeenskap en ook ’n oud-Pionierskoolleerder. “En dit is hoekom hierdie projek belangrik is. Dit gaan die vorige geslagte aan die huidige geslag en komende geslagte bind.”


Bestel ‘n Pionierstorie saam met jou koffie in Blindina Barista. Links rangskik Rouxné die storiebordjies; regs bedien Annemarie ‘n storie.

Die Pionierstories is nou ’n permanente instelling by die skool en in Blindiana Barista.

  • Rouxné van der Westhuizen – Oktober 2018

Byderhand by die Pionierskool – ‘n projek in wording

‘n Nuwe Byderhandprojek in wording – Byderhand en Pionierskool plekspesifieke digitale literatuur.

Die Byderhandspan is teen die einde van 2016 genader oor die moontlikheid om Byderhand tuinverse deel te maak van ‘n voorgenome multisensoriese tuin by die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester. Die eerste verkennende gesprek het in Januarie 2017 plaasgevind – en soos dit met Byderhandprojekte gaan, het die projek deur die entoesiastiese samewerking van soveel mense ‘n volskaalse produksie geword.

  
Die hoofgebou van die Pionierskool (Gustaf Tempelhoff en die skoolhoof, mnr Paul Greyling.)

Hierdie Byderhandprojek word as ‘n navorsings- en gemeenskapsprojek in vennootskap met die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester, onderneem. Kaleidoscope SA (voorheen die Insituut vir die Blindes) is ook op verskeie wyses by die projek betrokke. ‘n Oogmerk is om die toeganklikheid van die Byderhandplatform uit te brei om tot ʼn groter mate vir siggestremde gebruikers voorsiening te maak. Die kernprojekspan is Franci Greyling (NWU), Bernard Odendaal (NWU), Gustaf Tempelhoff – multimedia ontwerper (NWU), Suna Verhoef (Pionierskool) en Phillip Crouse (Kaleidoscope Tegnologiese Sentrum). Die Pioniersdrukkery wat spesialiseer in media vir siggestremdes (braille, grootdruk en oudio) help veral met die ontwikkeling en produksie van die braille aanwysings.

Tans is die projekspan besig met die afhandeling van die produksie van twee subprojekte, naamlik Tuinverse as deel van die multisensoriese tuin by die Pionierskool en Stories/vertellinge by die Pionierskool en Blindiana Barista (die koffiewinkel van Kaleidoscope SA). Ná maande se beplanning, gesprekke, eksperimentering en ontwikkeling vind die toetsfase van die projek in November 2017 plaas. Indien alles volgens plan verloop, sal die projek teen Augustus 2018 op die verskillende plekke beskikbaar wees.

‘n Multisensoriese tuin by die Pionierskool

Vir dié deel van die projek word ‘n bestaande tuin by die Pionierskool omskep in ‘n multisensoriese tuin en terrein om voorsiening te maak vir ‘n verskeidenheid multisensoriese ervarings, gebrailleerde benoemings van plante, buitelug musiekinstrumente en digitale tuinverse. Die groot projek deur die Pionierskool word onderneem in samewerking met die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin, die Hoërskool Brackenfell, Afrikaans.com en Byderhand (NWU). Digters wat tuinverse bygedra het, is William Rowland, Floris Brown, Daniel Hugo, Bernard Odendaal, Hans du Plessis en Franci Greyling (kinderverse). Die tuinverse is deur die digters voorgelees, terwyl van die verse ook aangevul word met vertalings, musiekverwerkings en tipografiese animasie.

 
Die terrein van die multisensoriese tuin (links) en die eerste paadjie (regs).
   
Links lees die digter, Floris Brown, sy gedig voor vir opname. Regs vlieg Ying-Shan Tseng se vlugtige vingers oor die klawers.

Stories en vertellings by die Pionierskool en Blindiana Barista

Met soveel ervarings van siggestremde leerders wat oor die verloop van jare by die Pionierskool skoolgegaan en ingewoon het, is daar baie stories om te vertel. Vir hierdie projek is leerders, oudleerders en personeel van die skool om bydraes genader. Hierdie bydraes in die vorm van vertellings, verhale en gedigte, word voorgelees en opgeneem sodat dit deur siende en siggestremde lesers geniet kan word. Die gedagte is dat die digitale verhale by spesifieke plekke op die skoolterrein geplaas word en op die plek waar die gebeure afspeel, ervaar kan word. Besoekers aan Blindiana Barista kan oor ‘n koppie koffie (voorberei deur die blinde barista) die verhale geniet. Skrywers sluit in Jacques Coetzee, Hendrik Steyn, Ying-Shan Tseng, Sydney Berrington, Hanli Stehli en Christo de Klerk. Van hierdie skrywers presteer op talle vlakke van die samelewing, insluitende in regte, musiek, sport, leierskap en onderwys.

 
Blindiana Barista (Kaleidoscope SA)

Die uitdagings van koppelvlakontwerp

Soos in vorige Byderhandprojekte word die tekste via QR-kodes by die betrokke plekke beskikbaar gestel. Die uitdaging is egter om dit op so ‘n wyse te doen dat siggestremde lesers (blind en swaksiende) self die QR-kodes kan skandeer om die gedigte en verhale op hulle selfone te kan ervaar. Hiervoor is dit nodig om te verstaan hoe die siggestremdes die tegnologie (kan) gebruik. Die konkrete en digitale koppelvlakontwerp moes dus herbedink, ontwerp en deur ‘n verskeidenheid lesers uitgetoets word.

 
Links wys leerders hoe hulle tegnologie gebruik en regs toets Phillip Crouse en Gustaf Tempelhoff die nuwe digitale koppelvlak.

 
Die braillebordjies – gereed vir die volgende toetsfase.

En dalk in die toekoms…

Die moontlikheid van Tuinverse as deel van ‘n nuwe brailleroete in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin word ook ondersoek.

 
Terreinbesoek Botaniese Tuin, Mei 2017: Johan Kotze, Ricardo Riddels, Franci Greyling, Bernard Odendaal, Suna Verhoef en Floris Brown.

Meer oor die skool

Die Pionierskool vir Siggestremdes (gestig in 1881) maak voorsiening vir die behoeftes van blinde, swaksiende, doofblinde en meervoudiggestremde leerders deur middel van opvoeding, opleiding, ontwikkeling en sorg. Die skool strek van voorskool tot hoërskool en het ook ‘n afdeling waar voorsiening gemaak word vir loopbaanontwikkeling na graad twaalf. http://www.pioneerschool.org.za/

  • Franci Greyling – 7 November 2017