Byderhand tuinverse langs die Mooirivier

Die Byderhand Tuinverseprojekte bied sedert 2015 unieke interaktiewe leeservarings vir poësie- en natuurliefhebbers deurdat hulle gedigte oor die omgewing in die natuur kan ervaar. Byderhandinstallasies is reeds deel van die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom, die Digterstuin by die Breytenbachsentrum in Wellington, en die multisensoriese tuin by die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester. Die inperkingsmaatreëls as gevolg van die koronaviruspandemie, het hierdie buiteluginstallasies ontoeganklik gemaak – en daarmee saam ook die geleentheid om die tuinverse te geniet.

President Cyril Ramaphosa het op 23 Maart aangekondig dat die land vanaf 26 Maart vir 21 dae in ‘n staat van inperking sal wees; die nasionale staat van inperking is later tot 30 April verleng. Alle openbare plekke soos universiteite, skole, parke en tuine is gesluit. In hierdie tyd was almal tot hulle wonings of erwe beperk en kon mens slegs die huis verlaat vir noodsaaklike aankope. Vanaf 1 Mei is die inperking na vlak 4 verlaag – tydens hierdie vlak mog mens tussen 06:00 en 09:00 in die omgewing stap, mits dit binne ‘n radius van 5km van jou woonplek is.

Vanaf 1 Junie is die nasionale beperkings na vlak 3 verlaag en kon mens enige tyd tussen tussen 06:00 en 18:00 buite wees. Openbare parke was egter steeds gesluit. In dié tyd was die rivieroewer langs Van Rooystraat in Potchefstroom ‘n uitkoms vir baie mense. Die sogenaamde “Gimmiesgat” bied met die oop ruimtes, natuurlike paadjies tussen die bosse, en die kabbelende Mooirivier, vir jonk en oud ‘n plek om te ontspan en te herlaai.

Die Byderhandspan het daarom besluit om, in samewerking van die Owersig-inwonersvereniging, die verse vir ʼn wyle hulle stories langs die rivier te kom laat vertel. Met ‘n nuwe omgewing en konteks in gedagte, het ons ‘n keuse van verse uit die bestaande installasies gemaak. Vanselfsprekend sou TT Cloete se gedig, “Potchefstroom”, deel van die versameling wees. Ook ander tuinverse uit die NWU Botansies Tuin kon betreklik maklik na die nuwe omgewing verplaas, terwyl ander vanweë hulle plekspesifiekheid, nie hier kon werk nie. Twee gedigte uit die Digterstuinversameling het ook goed in die nuwe konteks gepas, naamlik “Die digter se tuin” (Daniel Hugo) en “Het avondmaal” – ‘n gedig van Alfred Schaffer wat in die tyd van die koronaviruspandemie nuwe betekenis gekry het. William Rowland se gedig “Die huis waar ek woon”, is geleen uit die Pionierversameling. Vyftien kinderverse is deel gemaak van die versameling.

Die kaartjies met die QR-kodes is aan die bome opgehang en inligtingstukke oor die projek is op prominente plekke aangebring.

Die installasie kon vanaf 1 Julie 2020, op die 98ste dag van inperking, langs die Mooirivier in Oewersig geniet word.

Franci Greyling – September 2020

Die projek bied besoekers die geleentheid aan om taal, woorde en die natuur bymekaar te bring. Hierdie konsep het parkbesoekers se belangstelling geprikkel en hul aandag gelok. Kinders sien dit as ‘n skattejag en hardloop van kaartjie tot kaartjie op soek na die volgende gedig. Hul ouers kry deur hierdie geleentheid ‘n kans om onbewustelik vir hul kinders te leer oor taal en die natuur; en op so manier dat dit vir die kinders voel of asof hulle speel. (Jonathan Birch)

“Byderhand” – so ‘n mooi uitdrukking en kyk hoe kreatief het hulle dit hier in Potchefstroom ingespan. Jy kry hierdie gedigte byderhand op die bome op jou selfoon as jy jou selfoon in die hand het. TT Cloete en ander se stemme wat self hulle gedigte voorlees in verskeie Afrikatale. Hoe oorspronklik is die mens nie! So ‘n lekker verrassing vir my op lentedag. Dankie julle Potchefstromers. (Annalien Burger, Facebook” Ek reis deur my pragtige land … Suid-Afrika)

ʼn Terugblik: Deelname aan ʼn internasionale kongres tydens die koronaviruspandemie

In 2019 is die Byderhandspan uitgenooi om in Julie 2020 by die ELO2020-kongres deel te vorm van ʼn internasionale paneelbespreking oor toegepaste digitale literatuur – ʼn geleentheid waarna ons baie uitgesien het. Die koronaviruspandemie het egter ook die aanbieding van en deelname aan kongresse ingrypend beïnvloed.

ELO (Electronic Literature Organization) is ʼn internasionale organisasie vir die fasilitering en bevordering van skryf, publikasie en lees van elektroniese literatuur. In 2017 en 2019 het Franci Greyling, Bernard Odendaal en Gustaf Tempelhoff, die kongresse in Porto, Portugal en Cork, Ierland, bygewoon waar ons veral oor ons navorsing rondom die Byderhandprojek, gesels het. Na afloop van ons paneelaanbieding oor die Byderhand-Pionierprojek by ELO2019 in Cork, is ons deur een van die direkteure van die organisasie, prof. Astrid Ensslin, uitgenooi om by die 2020 kongres in Orlando, Florida, deel te neem aan ʼn internasionale paneelbespreking oor toegepaste digitale literatuur. Dit sou ʼn besondere geleentheid wees om ons navorsing met ander te deel en ons het die uitnodiging met dank aanvaar.

Die paneel, “Applied E-Lit as Participatory Research Creation for Social Change”, het vyf navorsers van vier universiteite en van drie verskillende kontinente betrek. Die paneellede was Astrid Ensslin (University of Alberta), Rebecca Lyle Skains (Manchester Metropolitan University), Christine Wilks (Bath Spa University), Franci Greyling en Gustaf Tempelhoff (NWU). In ons aanbieding sou ons spesifiek oor die Byderhand-Pionierprojek gesels: “The Byderhand Pioneer Project: Accessible Locative Literature in a Multisensory Garden at a School for the Visually Impaired”.

Die wêreldwye pandemie het die organiseerders egter genoodsaak om die “fisiese” kongres wat reeds georganiseer was, te herbedink en alternatiewe formate te oorweeg. In wese het dit daarop neergekom dat die organiseerders twee verskillende kongresse georganiseer het. Die virtue­le formaat het bepaalde implikasies vir die programsamestelling en formaat van aan­biedings gehad, en die uiteindelike program het onder andere uit regstreekse aanbiedings (via Zoom), asinkroniese aanbiedings, en virtuele uitstallings bestaan.

Die betrokke paneel waarvan ons deel was, het twee aanbiedingsformate gekombineer, naamlik in die vorm van bydraes in die asinkroniese program, sowel as ʼn regstreekse paneelbespreking. Hiervoor moes ons die aanbieding in drie verskillende formate verpak, naamlik ʼn geskrewe weergawe van die referaat, ʼn video-weergawe van die referaat, asook ʼn virtuele paneelbespreking. Die gedagte was dat die deelnemers aan die paneel vooraf na die vollediger aanbiedings (video-opnames van ons referaataanbiedings asook die geskrewe weergawes daarvan) kan kyk. https://stars.library.ucf.edu/elo2020/live/roundtables/3/

Die aanbiedingsformaat het verskeie uitdagings gestel, veral wat betref beskikbare tegnologie, tegnologiese en ander vaardighede, netwerke en beskikbare bandwydte, en beperkte bewegingsvryheid as gevolg van inperkingsmaatreëls.

Om ʼn video-weergawe van die gesamentlike referaataanbieding te maak, het ʼn produksie op sy eie behels. Aangesien die universiteitfasiliteite ontoeganklik was, en ons ook nie in dieselfde lokaal aan die produksie kon werk nie, moes ek en Gustaf afsonderlik elkeen ons eie deel verfilm. Hierdie video-opnames moes dan met die PP-aanbiedings en ander beeldmateriaal, gekombineer en geredigeer word vir ʼn afgeronde gesamentlike aanbieding. Met Gustaf se praktiese raad, het ek my bes probeer om met die verouderde tegnologie tot my beskikking, toestelle waarvan alle funksies nie meer werk nie, en my beperkte tegnologiese vaardighede, ʼn aanvaarbare video-opname van my gedeelte van die aanbieding te maak.

As gevolg van beperkte bandwydte, was dit nie moontlik om die videomateriaal aanlyn te deel nie. Die videomateriaal moes dus op ʼn datastokkie by Gustaf besorg word – ʼn aktiwiteit wat in die grendeltyd bepaalde uitdagings gehad het. (Stel dit voor: twee gemaskerde figure wat skemeraand op ʼn verlate parkeerterrein ontmoet …) Met sy besondere tegniese vaardighede en ʼn toegeruste tuisateljee tot sy beskikking, het Gustaf ʼn afgeronde video van ons gesamentlike aanbieding gemaak, en ons kon hierdie video en die geskrewe referaat, voor die sperdatum van 30 Junie aan die organiseerders verskaf.

Die paneelaanbieding op 18 Julie het eweneens sy kwota uitdagings gehad. Die vyf paneel­lede van drie kontinente moes uit hulle eie woonplekke aan die regstreekse paneelbespre­king deelgeneem. Ook in hierdie geval, het my verouderde toestelle, lae bandwydte, en beperkte ervaring van en vaardighede met Zoomsagteware, bepaalde uitdagings gestel. Om alles te kroon, moes ons ook rekening hou met die moontlikheid van beurtkrag. Ons moes dus planne B en C gereed hê, indien daar iets sou verkeerd loop.

Ten spyte van talle uitdagings – soos beskikbare tegnologie en verskil in tydsones – het die paneelbespreking goed verloop. Ongeveer 50 mense van regoor die wêreld het die paneel bygewoon, en die terugvoer was oorwegend positief. ʼn Hele paar mense wat kommentaar in die “chat-line” bygedra het, het waardering vir die inspirerende en vernuwende gebruik van lokatiewe literatuur in die Byderhand-Pionierprojek uitgespreek.

Jeremy Hight, een van die baanbrekers in lokatiewe literatuur, het opgemerk: “Cool to see locative moved in a new direction and contexts. As an early locative narrative creator this makes me so happy and as someone who worked for many years with differently abled people, this is so exciting and inspiring.”

Ons aanbieding het ook bygedra tot die groter gesprek oor die toeganklikheid van digitale literatuur, soos blyk uit die opmerkings op die Zoom chat-line tydens die paneel, en wisselwerking op discord, die sosialemediaplatform wat vir kommunikasie tydens en na afloop van die kongres gebruik is.

Alhoewel die virtuele formaat effektief was, het ons die gebruiklike van aangesig tot aangesig gesprekke en wisselwerking met ander deelnemers baie gemis. Informele gesprekke tydens kongresse is altyd stimulerend en verrykend en ook bevorderlik vir die uitbreiding van netwerke.

Dit was inderdaad ʼn besondere geleentheid om ons navorsing op hierdie wyse, en as deel van ʼn internasionale paneel, te kon bekendstel. Die kongresargief word op die webtuiste van die UCF (University of Central Florida) gehuisves waar dit vir die algemene publiek beskikbaar is, en ons navorsing potensieel vir baie meer mense toeganklik is. https://stars.library.ucf.edu/elo2020/

Dit is egter belangrik om in ag te neem dat hierdie kort video’s van ons aanbieding en die paneelbespreking, letterlik weke se voorbereiding geverg het en groot uitdagings gestel het met betrekking tot die beskikbare tegnologie, tegnologiese vaardighede, kommunikasie, same­werking, probleemoplossing en tydsbestuur.

Die ervaring het egter opnuut die waarde van interdissiplinêre samewerking bevestig. Die Byderhandprojekte, deelname aan die internasionale paneel, en die kreatiewe hantering van die tegnologiese aanbiedings en uitdagings, sou nie moontlik gewees het sonder die vaardig­hede en bydraes van ʼn groot verskeidenheid medewerkers en deelnemers aan die Byderhand­projekte nie.

Deelname aan hierdie virtuele kongres het ʼn baie steil leerkurwe behels – ʼn ervaring waarmee ander navorsers hulle ook waarskynlik in hierdie ongewone omstandighede mee kan vereenselwig.

Franci Greyling – Julie 2020