‘n Besondere publikasie vir verdere toeganklikheid: die Byderhand-Pionierversameling

Hoe kan skrywers van die Pionierstories die versameling stories en gedigte geniet waar hulle hul ook al bevind?  Hoe kan die versameling nóg toegankliker gemaak word? Hierdie vrae was met die ontwikkeling van die Byderhand-Pionerprojek deurentyd in die span se gedagtes.

Die konsep van die Byderhandprojekte is dat die verse en stories wat met die plek verband hou, op die spesifieke plek beskikbaar gestel word en ook hier gelees word. Hierdie eerstehandse en gelyktydige ervaring van die plek en die literatuur, dra by tot die unieke leeservaring. Dit bring egter ook mee dat die skrywers wat elders in die land woon, nie mekaar se stories kan geniet nie. Ons wou ook graag, as waardering vir hulle deelname aan die projek, aan die skrywers van die Pionierstories ʼn bundel met die volledige versameling tekste skenk.

Ná die afhandeling van die projek in die multisensoriese tuin op die skoolterrein en in Blindiana Barista, kon die Byderhandspan saam met die Pionierdrukkery alternatiewe publikasiemoontlikhede ondersoek. In 2019 is die Byderhand-Pionierprojek bekend gestel in Die Pionier, ‘n tweemaandelikse publikasie van die Pionierdrukkery. ‘n QR-kode, wat toegang tot ‘n Pionierstorie verskaf het, is in elke uitgawe ingesluit. Hierdie eksperiment het gewys dat dit wel moontlik is om die tegnologie ook op dié manier te gebruik en die inhoud nog meer toeganklik te maak. Die span het daarom besluit om ‘n vollediger publikasie saam te stel.

Die resultaat van hierdie samewerking is ʼn unieke Byderhand-Pionierpublikasie wat in Maart 2020 bekendgestel is.

 

Die Byderhand-Pionierversameling bestaan uit ʼn kombinasie van brailleskrif en QR-kodes. Die inhoudsopgawe, voorwoord, instruksies, titels, skrywersname en besonderhede van die publikasie, is in braille gedruk. Op elke bladsy is twee titels geplaas met ʼn meegaande QR-kode binne-in ʼn brailleraampie. Wanneer die QR-kodes met ʼn selfoon geskandeer word, kan mens na die voorlesing of vertelling luister of die teks op die selfoonskerm lees.

Soos dit met alle aspekte van die Byderhandprojek die geval is, het die produksie van die bundel spanwerk en samewerking vereis. Die samestelling van die inhoud en ontwerp is deur Franci Greyling en Gustaf Tempelhof gedoen; die drukwerk is onder leiding van Elzaan Hendriksz deur die span van die Pionierdrukkers onderneem; en ʼn spannetjie Skryfkunsstudente het, met Quinten Pendle as braille-leser se hulp, die QR-kodes ingeplak.

 

Voorbereiding van die publikasie: Quinten Pendle, Gustaf Tempelhoff en ‘n groepie Skryfkunsstudente wat gehelp het om die QR-kodes op die regte plekke te plak.

Dit was vir ons (Franci Greyling en Gustaf Tempelhoff) een van die hoogtepunte van ons deelname aan die Byderhand-Pionierprojek om in Maart 2020, tydens ʼn besoek aan Kaapstad en Worcester, van die Pionierskrywers te ontmoet en die bundels persoonlik aan hulle te besorg.

 

Besoeke aan die skrywers en oorhandiging van die bundel: Madelene van den Berg, Hanli Stehli, Syndney Berrington, Philip Crouse, Nicky Labuschagne, en Jacques Coetzee saam met Gustaf Tempelhoff.

Uit die skrywers se reaksie was dit duidelik dat om ‘n eie bundel met die versameling stories in die hande te hou, ‘n spesiale ervaring was. Van die skrywers het veral waardering uitgespreek vir die kombinasie van tegnologie wat hulle in staat stel die ander skrywers se stories te geniet, en om die stories en verse ook met vriende en familie te deel.

“Ek geniet my boek en vind die voorlesings baie goed. Het die boek vandag werk toe gebring om vir ander te wys hoe moderne tegnologie ingespan kan word. Nogmaals dankie.” – Madelene van den Berg.

20200317_122533_1000
Die span van die Pionierdrukkery wat gehelp het met die ontwikkeling van die bundel: Schalk Hugo, Elzaan Hendriksz, Shani Little, Arne von Mollendorf saam met Gustaf Tempelhoff en Franci Greyling.

Eksemplare van die bundel is ook oorhandig aan instansies wat by die Byderhand-Pionierprojek betrokke is.

Ongelukkig het die staat van inperking die span verhoed om die bundels ook persoonlik aan skrywers wat elders in die land woon, te besorg. Ons sal egter seker maak dat elke skrywer wel op een of ander manier hulle eie bundel ontvang. Die buitengewone omstandighede a.g.v. die Covid-19 pandemie, het egter bevestig dat dié spesiale publikasie en kombinasie van tegnologie dit vir lesers op enige plek, in die gees terug kan neem na die Pionierskool en Worcester.

  • Franci Greyling – Junie 2020