Fotobeeld: Poësie in die detail

t_koloog

Fotobeeld: Strijdom van der Merwe se totempale – poësie in die detail

t_tt  t_weerk    t_hans  t_fg2 t_kol  t_v t_adri  t_skadu    t_ihette  t_hart     t_bernard  t_etiket   t_vasig  t_bottelt_kelke  t_hdpt_hol  t_carinat_johan  t_etienne   t_johann  t_susan    

  • Franci Greyling

Fotobeeld: Tuinverse digters en kunstenaars

‘n Fotobeeld van die Tuinverse digters en kunstenaars in die Botaniese Tuin.

digter_franciGreyling
Strijdom van der Merwe se eerste twee totempale in die Botaniese Tuin by Potchefstroom (TT Cloete) en Wie kwetter so? (Franci Greyling)

digter_Bernard Odendaal  digter_t_BernardOdendaal
Bernard Odendaal, subprojekleier Tuinverse: Paddaluisterbankie, Botaniese Tuin, Potchefstroom

digter_Heilna du Plooy  digter_t_HeilnaduPlooy
Heilna du Plooy: Binneblik

digter_Hans du Plessis   digter_hansduplessis_t
Hans du Plessis: Botaniesetuinsonnet

digter_heinviljoen_2  digters_heinviljoen_t
Hein Viljoen: Onder die soetdoring

digters_johanmyburg_b  digter_johanmyburg_t
Johan Myburg: Mater Hortensis

digter_Adri Breed  digters_abreed_t
Adri Breed: Skryfopdrag

digter_jansenvermeulen  digter_jansenvermeulen_t
Jansen Vermeulen: Tuinwerker: ‘n skets

digter_ruan_fourie  digter_ruanfourie_2
Ruan Fourie: verlieskuns

digter_carinavdwalt  carina_vdwalt4
Carina van der Walt: hoe Eybers & Tutu kyk

dscn4974_1000  dscn4968_k
Ihette Jacobs: Tuin van aardse luste 

digters_susansmith  digter_susansmith_t
Susan Smith: By die soetdoring

 kunstenaars_lindiliam  kunstenaars_lindiliam2
Kunstenaars, JW Longland en Lindi Nel – grafiese animasie van die tuinversies

kunstenaars_chrisvanniekerk
Chris van Niekerk, kurator van die botaniese tuin.

kunstenaars_Juansteyn
Juan Steyn, wat as inligtingstegnoloog die Byderhand-netwerk in plek gekry het.

My ervaring van die Tuinverse-toetslopie

Die ervaring wat ek op die Woensdagmiddag van die toetslopie gehad het, is beslis een wat ek in my skatkis van herinneringe plaas. Die Botaniese Tuin bied verskeie tuinverse wat met behulp van ’n QR- leser en ’n mobiele toestel (met toegang tot die internet), dit moontlik maak om daardie tuinverse te lees en te ervaar. Die tuinverse is gedigte geskryf in en om die tuine.

Met die aankoms by die Botaniese tuine het ek en twee van my klasmaats van die vakgroep Skryfkuns besluit om eers ’n goeie oorsig te kry van die grootte en omgewing van die tuin. Ek het besluit om my ervaringe ook in foto’s vas te vang.

toetslopie_drie vriende

Sosiale media het ook geweet van ons opgewondenheid oor die projek. Die bostaande foto het ons op Facebook geplaas. Op daardie stadium het ons nog nie gaan registreer vir die projek nie. Daar was reeds soveel dinge om te bekyk dat die tuinverse beslis die ervaring sou verdiep.

By die registrasiepunt was ons gegroet met botteltjies water. Ek het gedink dit was ’n goeie inisiatief om die botteltjies water ook met die QR-kodes en Byderhand logo te versier. Na registrasie was ons gereed met water in die hand om die toetslopie aan te pak.

toetslopie_bankie

Die eerste tuinvers wat ons ontdek het was “Met die voëls praat”. Vinnig het ons van ons selfone gebruik gemaak om die QR-kode te lees. Dit was interessant om self die gedig te lees, asook om die visuele- en klank-aspekte daarby te ervaar. Die bankie was geleë op die perfekte plek om die natuurskoon in te neem, veral met die waterval wat saggies suis in die agtergrond soos musiek wat die natuur vir ons speel. Ek het daar besef dat hierdie projek nie net die mense gaan opgewonde maak oor die avontuur van ontdekking nie, maar beslis ook ’n rustigheid en waardering vir die natuur gaan wek.

     skrk221_platanna    skrk221_selfie

Die tuinversie “Anna” was die gunsteling vir die dag. Nog voordat ons na die gedig geluister het, het ons iemand in die verbystap gehoor sing: “parra pam, parra pam, parra parra parra pam”. Hierdie ervaring is vir jonk en oud. Dit sal ouers laat verlang na die onskuld en eenvoud van hul jonger dae en die jongklomp nader aan die natuur bring. September is lentemaand wat nuwe plantegroei belowe. By die “paddaluisterbankie” het ek die pragtige blom opgemerk.

toetslopie_blom

Die laaste bietjie pret in die laatmiddagson het gesorg vir ’n goeie afsluiting. Ná die middag se avonture en ontdekkings was hierdie projek vir my ’n reuse sukses.

Ek het ook so paar wenke vir feesgangers wat belangstel in die projek:

  • Maak seker dat jou mobiele toestel se battery gelaai is.
  • Jou mobiele toestel moet beslis “data” beskikbaar hê vir die gebruik. Alhoewel daar beperkte wifi in die tuin beskikbaar is, werk sekere QR-kodes beter as jy jou eie “data” gebruik.
  • Gebruik sosiale media en hutsmerke soos #byderhand en #tuinverse om jou ervaringe met ander te deel.
  • ʼn Sonbril, sonskerm en ’n hoed is ’n moet!
  • Gemaklike skoene vir die stap.
  • Ten laaste, bring genoeg en nog meer gees vir dié avontuur.

esti_labiring

  • Esti van der Westhuizen – SKRK221

Die ‘hoe’ agter ’n gedig vir die Tuinvers-projek

13 Januarie 2015. Dit was ’n sonnige Dinsdagoggend. Ons het besluit om die Botaniese Tuin in Potchefstroom te gaan opsoek. Daar was twee redes daarvoor: a) dit was my beter helfte se verjaarsdag en b) ek is gepols met die vraag of ek ’n gedig vir hierdie projek wil skryf. Ek wou gaan kyk of daar iewers by één van die bankies miskien vir my ’n gedig opgesluit lê. Gewapen met my kamera en notaboekie is ons daarheen.

carinavdwalt_intuin   carinavdwalt_tuin

Wat ’n verrassing! Die Botaniese Tuine was verlate. Dit was net ons tweetjies en dit was prima. Soos Adam en Eva van ouds het ons eers net oë vir mekaar gehad toe ons besef ons is alleen. Daarna het ek begin rondkyk. Ek het dadelik van die bank by die eerste dammetjie gehou, maar met die ligging daarvan en die beskrywing van die vleikurper en muskietvis het ek gedink dat dit Cloete se bank behoort te wees.

Die labirint het my laat terugdink aan die labirinte in die grasperk agter die Katedraal van Chartres en in die vloerteëls van die Katedraal in Amiens. Dit is twee van die vyf grootste katedrale in Frankryk. Laasgenoemde labirint het ek van buite na binne geloop. As jy dit doen, moet jy gekonsentreerd nadink oor die hoogtepunte van jou lewe waarby jou gedagtes jou eintlik ook spontaan langs die laagtepunte neem. Dit werk hipnotiserend. Uiteindelik eindig jy in die sentrum. Halleluja-effek. Ja, oor die labirint met die warm deurdringende geur van knoffelblommetjie sou ek ’n gedig kon skryf.

’n Ander bank het my aandag getrek. Net soos by die eerste dammetjie was dit oorgroei met waterlelies. Dit het my laat terugdink aan die vywer in my geliefde sterrebos, die Oude Warande in Tilburg. Die vinknessies oor die dam het die prentjie afgerond. Vinke met hulle bedrywighede rondom nesbou oor die water is vir ons iets gewoons, maar is ’n verskynsel wat menige Nederlanders vir ure kan bekoor. As die wyfie puntenerig die mannetjie se poging uitmekaar ruk, gaan daar darem geluide van ongehoorde verontwaardiging in hulle geledere op! Ja, oor ’n blik op die dam vanaf hierdie bankie sou ek ook ’n gedig kon skryf. Saamgevat het hierdie klein oase, hierdie paradys, ’n gevoel van verwondering by my agtergelaat.

Maar ’n kortkop vóór hierdie verwondering was my verontwaardiging oor die ontoeganklikheid van die einste Botaniese Tuin. Die toegangsure van agtuur soggens tot vieruur smiddags maak dit onmoontlik vir werkendes om aan die einde van ’n lang dag daar te gaan asemskep. Oor naweke is dit ook gesluit. Hoe mooi ook al – die tuin bied geen inspirasie vir die student met sy kitaar, die skilder met haar esel, die skrywers met hulle notaboeke, die Sondagskoolgroepie met hulle Bybelstudie nie. Hierdie vredige ruimte waarin jy ’n misverstand kan uitpraat of ’n piekniekkombers kan oopsprei, word die meeste Potchefstromers ontneem. Ek was onthuts. Wie deur die week wel tyd hiervoor het en ook toegang, is die mense verbonde aan die universiteit se Skool vir Omgewingswetenskappe. Intussen wil ek vir almal vertel – GAAN, dis só mooi! Maar onbekend maak onbemind. Dit is werklik ’n plek wat vir my as gevolg van hierdie teenstellings genoeg stof vir ’n gedig bied.

Verwondering en verontwaardiging in gelyke maat “wauw” en “au”.

Aan die einde van Januarie ontvang ek die uitnodiging met daarby aangeheg ’n PDF-ie van al die bankies. Die bank by die waterlelies en die vinkneste kry vir my ’n nommer en ’n besondere naam: 4, Paddavywerbankie. Die naam bestaan uit ’n Afrikaanse woord (padda) en ’n Nederlandse woord (vijver) wat redelik onlangs in die Afrikaanse woordeskat opgeneem is met ’n verafrikaanse spelling (vywer).

Vywer verplaas my opnuut na Oude Warande na Vondelpark en na Elisabeth Eybers, gebore in buurdorp Klerksdorp op 26 Februarie 1915. As meesterlike digteres maak beide Nederlands en Afrikaans aanspraak op haar, maar staan daar eintlik ’n standbeeld van haar iewers op die NWU-kampus? Of is een van haar klassieke gedigte êrens in ’n glasdeur van ’n universiteitsgebou gesandstraal? Ek pynig my breinselle, maar ontdek niks nie.

Klerksdorp was die geboorteplek van nog ’n Suid-Afrikaanse ikoon: Desmond Tutu, 7 Oktober 1931.Ek het die voorreg gehad om hom in Den Haag te ontmoet. Wat ’n vriendelike en inspirerende Gods man! Tydens sy openbare gebed by die onthulling van ’n standbeeld vir Mandela, word hy onderbreek deur ’n groepie luidrugtige betogers wat aandag vraag vir die regte saak, naamlik plaasmoorde, maar op die verkeerde plek en die verkeerde tyd. Tutu het ’n paar sekondes stilgebly en toe onverstoord sy dankgebed hervat. Al my respek vir dié Anglikaanse biskop. Ek is seker daar staan nie ’n standbeeld van Tutu langs die ander Gods man Totius voor die NWU-hoofgebou nie. Totius is nog steeds ons psalmdigter wat op wonderbaarlike wyse die onlangse politiek georiënteerde “beeldestorm” oorleef het.

Dus skryf ek ’n gedig waarin Eybers en Tutu langs mekaar sit op dieselfde bankie in die Botaniese Tuin. Vir ’n kort rukkie tydens AADKLOP gun ek vir hulle albei ’n plek op die kampus van die NWU. By sommige mense kan dit miskien nog steeds morele spanning veroorsaak. Ek besef dit. Die kwessie van rassisme kom hierdeur weer onder die publiek se aandag. Eers het ek elkeen se perspektief duidelik afgebaken en identifiseerbaar neergeskryf, maar toe besef ek iets. Ek tree soos ’n plantkundige op, wat alle plante identifiseer en netjies etiketteer. Of ’n bewaker, wat die tuin se hekke net vir sommiges oopsluit of die betogende massa met dranghekke uithou. Of miskien ’n rassis? Toe het ek hulle perspektiewe bietjie geskommel soos dit ook in die regte lewe gaan.

hoe Eybers en Tutu kyk eindig met ’n morele vraag aan die individuele leser of luisteraar op die bank. Die vraag hoef nie hardop beantwoord te word nie. Daar hoef nie ’n openbare reaksie uit voort te spruit nie. Of die leser of luisteraar daaroor gaan nadink op sy eie tyd en op sy eie manier – dís wat die krag van hierdie gedig sal bepaal. As poësie enige krag het.

  • Carina van der Walt (Digter in die tuinvers-projek – Carina woon en werk sedert 2007  in Nederland.)

 

T.T. Cloete: ’n Gelowige intellektueel en groot digter het ons ontval

Dit was vir almal betrokke by die Byderhand-projek hartseer nuus dat T.T. Cloete – een van die bydraers tot die Tuinverse-uitstalling in die Botaniese Tuin van die Noordwes-Universiteit – op 29 Julie vanjaar oorlede is.

bankie_botaniesetuin   profTTCloete

Ek het hom maar ’n handvol kere van aangesig tot aangesig ontmoet. Elke keer was dit ’n opwindende, openbarende ervaring.

Ek onthou hoe hy eendag onthuts opgemerk het dat hy die vorige week ’n Nederlandse vertaling van die Spaanse filosoof José Ortega y Gasset se “Bespiegelingen over leven en liefde” weer ’n slag by die NWU se biblioteek op Potchefstroom uitgeneem het. Wat moes hy ontdek? Die stempelkaartjie voorin daardie boek het gewys dit was nog net een keer tevore uitgeneem – doer in die 1950’s. Deur homself, toe hy ’n jong dosent aan die toenmalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys was!

Cloete was ’n leser (en onthouer van wat hy gelees het) soos min. Sy gestremdheid, ’n uiteindelike gevolg van die poliomiëlitus wat hy in die 1940’s opgedoen het as jong student aan die Universiteit van Pretoria, het hom in ’n belangrike mate ’n lessenaarmens gemaak. So geteister deur siektetoestande was hy dat dokters in die 1970’s al gevrees het vir sy lewe, en hy enkele jare later moes aftree.

Tog het dié intellektueel alles wat buite en bo, selfs binne ons is, ewe liefgehad as boeke. Hy het tuingemaak, met voëls geboer, sterre gekyk, gestap toe hy nog kon, graag in die motor geklim en die wildernis gaan besigtig. Hy het ’n ryklike lewe bly voer tot hy een-en-neëntig geword het.

Vroeër vanjaar was ek teenwoordig toe iemand hom vra hoe hy op dié hoë ouderdom dit regkry om steeds aan meer as een boek gelyk te werk (waarvan hy geesdriftig aan ’t vertelle was). Hy het gesê ons moet hóm nie vra nie. Hy is seker maar ’n witbroodjie van God – ’n opmerking waaroor hy lekker gelag het. Die dag voor hy op 31 Mei 2014 negentig sou word, het hy sy motor gevat en Klerkskraaldam toe gery, ’n stuk of vyftig kilometer noordwes van Potchefstroom geleë. Van daar het hy die pad al langs die Mooirivier af tot weer terug in Potchefstroom gevolg. En Psalm 100 gesing, al vier die strofes, het hy vertel.

Nie die woorde van sy eie 2001-beryming nie; die ou woorde van Totius se omdigting. Dié was mos ook ’n Potchefstromer toe hy aan die Psalms gewerk het, doer in die 1920’s. Die tyd toe Cloete die eerste keer die lewenslig aanskou het op sy ouers se plaas in die Vredefort-distrik.

Daardie woorde van Totius was vir hom soos relieke, het hy verduidelik: konkrete oorblyfsels van die óú mense se vroomheid. In die ry het hy naderhand die ruite afgedraai. “Want goedertieren is die Heer, sy goedheid eindig nimmermeer.” Só het hy die wind in gesing. Hy wat gesukkel het om te verstaan waarom God juis hóm gekies het, hóm werkloos gemaak het om beskikbaar te word om oor God en Sy skepping digterlik te stamel in Afrikaans.

Hierdie “stamel”-tyd wat hom gegun is (hy het eers in 1980, op 56-jarige leeftyd, sy eerste digbundel gepubliseer), het een van Afrikaans se heel belangrikste religieuse digters opgelewer. Beskou ’n mens die eietydse literature in ander tale, byvoorbeeld die Nederlandse, dan lyk dit of religieuse digkuns tans ’n bietjie as ’n randverskynsel geag word. Nie in Afrikaans nie. Daarvoor het T.T. Cloete, saam met veral Sheila Cussons, gesorg.

Die fokuspunt in Cloete se digkuns is die dinamiese eenheid-in-verskeidenheid in die aardse en kosmiese verskynsels. Dít, veral, wou hy verken. Dié toespitsing het gespruit uit sy diepgesetelde Christelike oortuigings. Veral die skeppings-, onderhoudings- en bestierswerk van die goddelike Vader-figuur het hom aangegryp.

Dit was sy oortuiging dat ’n mens in die verweefde verskeidenheid van die skeppingsdinge as ’t ware die vingermerke van God kan waarneem. “Onversadig” en met “heilige nuuskierigheid” (soos twee van sy meer onlangse digbundels heet) het hy daarom as ’t ware deur die komplekse, dikwels teenstrydige werklikheid – ten spyte van die beperkthede van ons menslike vermoëns – op soek na die Godsopenbaringe gegaan. Dit digterlik vertolk. Die dinamiese spel tussen patroonvorming en variasie wat betref klankgebruik, woordgebruik en –skepping, vers- en sinsbou, is stilistiese en verstegniese illustrasies van dié soektog in sy gedigte.

Nie net tot die skatkis van die Afrikaanse religieuse digkuns het Cloete enorm bygedra nie. Ekologiebewustheid en -kommer is ’n tema van toenemende belang in die Afrikaanse poësie, en ook hierin het Cloete ’n sleutelrol gespeel. Van die mooiste liefdesgedigte en verse oor oudword in Afrikaans het uit sy pen gevloei.

Cloete het as Christelik-gelowige digter nooit weggeskram daarvan om ook die skadukante van die lewe en die werklikheid in sy gedigte te vertolk nie – in die later bundels uit sy oeuvre nog meer so. Om dit in terme van sy jongste gepubliseerde bundel te stel: sowel die lyflik-uitspattige en verworde “karnaval”-kant as die geestelik-opbouende en –skeppende “Lent”-sy van ons bestaan het onder sy digterlike loep gekom.

1980, die jaar waarin Cloete met “Angelliera” gedebuteer het, word soms as ’n belangrike datum met betrekking tot die nuwe aansien van die vaster versvorme in Afrikaans gesien. Sy rol hierin kan nie onderskat word nie. Hy is herhaaldelik bekroon vir sy bundels: meer as ’n dosyn keer, waaronder twee maal met die prestigeryke Hertzogprys.

’n Reus het genieters en koesteraars van die Afrikaanse letterkunde ontval.

  • Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool en vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit)

Digkuns dié verkenner van nuwe media

Ons wat boorlinge van die twintigste eeu is, vind dit moeilik om anders aan gedigte te dink as “stellasies” vers, om ’n beeld by die digter D.J. Opperman te leen – as stapeltjies versreëls omgewe van sulke lappe wit op die bladsye van boeke.

Die woorde wat sangers so op wysies sing, gedigte? Nooit gesien nie! Lirieke hoort tot wat ons as populêre kunsuitings kan reken. – Dis tipies hoe veral in die twintigste eeu geredeneer is.

Gaan slaan ’n mens na in histories oorsigtelike poësiebloemlesings, kom jy egter agter die meeste ouer digtekste was juis geskryf om gesing of voorgedra te word. Die teelaarde van die digkuns soos ons dit ken, was die liedkuns.

Dis toe ons digterlike voorouers hulle lirieke en resitasies begin neerskryf het dat hoe gedigte op die bladsy lyk, betekenisvol geword het. Die uitvinding van die boekdrukkuns, en die yking van skriftekenformate en spasiërings wat daarmee gepaard gaan, het die proses beklink. Gedigte se tipografiese voorkoms het net so betekenisvol geword as dit wat jy hoor wanneer hulle voorgedra word.

Trouens, ’n mens kry selfs wat sommige mense kykgedigte wil noem: gerangskikte taaltekens wat eers sin maak as jy na hulle kyk asof hulle beeldende kunswerke is.

Die afgelope eeu en ’n half was die hoogty van wat mediawetenskaplikes die grafosferiese kultuurera noem. Gedrukte media het oorheers as wyse om inligting en kennis oor te dra.

Wat die poësie betref, was die gevolg dat lirieke se eendimensionele (ouditiewe) tekengerigtheid veroorsaak het dat hulle tot die “laere” kunsvorme gereken is. Digkuns, wat betekenis laat voortspruit uit wat lesers hoor én sien, is die “hoër” vorm geag.

Ná die Tweede Wêreldoorlog beleef ons egter ’n oorgang na ’n nuwe mediosferiese era, een waarin die elektroniese media met al rasser skredes vooruitgaan. Gedrukte teks steel steeds die kollig in die digkunsbedryf – maar hoe lank nog?

Gedigte kan nou, deur middel van digitale animasie, “nomadies” word. Voor jou oë op die rekenaarskerm, kruis en dwars geplaas, onderstebo of agterstevoor gekeer, in gedaantes van verskillende lettergroottes en –tipes, kan woordstringe verskyn, verander, verdwyn.

Erger selfs: deur benutting van byvoorbeeld algoritmes kan rekenaars geprogrammeer word om sélf versreëls voort te bring. Party programme laat lésers toe om ’n gedig se vorm en/of verloop te kies.

Ander willekeure as dié van digters domineer.

Of jy kry video- of kine-poësie, waarin woord, beeld en klank saamstaan tot gedigte. Voordragpoësie is terug in volle glorie: YouTube bevat hordes sogenaamde “performance poems”.

Daar is al beweer dat dit die poësie geverg het om die volle omvang van betekenisskeppingsmoontlikhede met ink op papier te verken. Nou hoor ’n mens dis asof die digkuns en die digitale media vir mekaar gemaak is.

Die “Tuinverse”-been van die Byderhand-webtuiste sal uiteindelik voorbeelde bevat van verskunsbeoefening wat ’n mens na aldrie die genoemde mediosferiese wêrelde verplaas: daar sal gedigvoorlesings en -toonsettings te hoor (logosfeer), gedigte te lees (grafosfeer) én grafiese, digitale bewerkings te bekyk en te beluister wees (videosfeer).

bernard_odendaal   bernard_odendaal2

  • Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool en vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit) – 22 Julie 2015