Rusplekstories-skryfkompetisie saam met De Jonge Akker

Studente en personeel van die NWU word genooi om deel te neem aan die Byderhand en De Jonge Akker Rusplekstories-skryfkompetisie 2018.
– ‘n Projek deur die Vakgroep Skryfkuns.

rus_banner

Besoek De Jonge Akker en lees ‘n Rusplekstorie op jou selfoon.

Skryf ‘n kortverhaal wat op die kampus of elders in Potchefstroom afspeel en lees jou eie verhaal in De Jonge Akker!

  1. Daar is ses kategorieë/temas wat aandui waar die verhaalgebeure moet afspeel, naamlik: De Jonge Akker; Studentesentrum; die kampus; die Bult; die akkerlaan; Potchefstroom.
  2. Die skryfkompetisie word vanjaar (2018) drie keer aangebied. Sluitingsdatums vir elke afsonderlike rondte: 30 April; 30 Junie; 30 Augustus.
  3. Kortverhale mag hoogstens 1500 woorde wees.
  4. Inskrywings kan in Afrikaans of Engels wees.
  5. Inskrywings moet getik wees en elektronies ingestuur word aan skryf2018@byderhand.net met die onderwerp duidelik gemerk as “Skryfkompetisie”, gevolg deur die skrywer se naam.
  6. Verhaalinskrywings moet foto (kop en skouers) en ’n kort biografiese beskrywing van die skrywer en verbintenis met Potchefstroom insluit (nie meer as 100 woorde nie). (Sien Byderhand Rusplekstories vir voorbeelde.)
  7. Wenverhale word opgeneem in die Byderhand-versameling en kan in De Jonge Akker gelees word. Skrywers van die wenverhale ontvang ook ‘n etebewys van De Jonge Akker.
  8. Pryse en plasings op die Byderhand-webruimte word slegs toegeken as die inskrywings se gehalte dit regverdig.
  9. Geen kommentaar word op individuele inskrywings gelewer nie.
  10. Die organiseerders sal met die skrywer in verbinding tree indien ’n kortverhaal goedgekeur word of aangewys word as ’n wenner.
  11. Die organiseerders behou die reg om verhale voorwaardelik goed te keur. Dit wil sê voorstelle ter verbetering kan gemaak word, waarna skrywers verhale opnuut kan instuur. Die organiseerdeers behou die reg om nuwe verhaalweergawes steeds af te keur.
  12. Redigering van aanvaarde verhale word in samewerking met die individuele skrywers behartig.
  13. Die skrywer behou kopiereg van die verhaal.
  14. Kragtens die Wet op Outeursreg is enige vorm van plagiaat ’n strafbare kriminele oortreding.
  15. Skrywers gee aan die organiseerders (Byderhand) die reg tot reproduksie van die verhale in enige media (bv. teks, foto’s, klank, bewegende beelde, digitaal, ens.) en die reg om dit te publiseer in toepaslike publikasies, insluitend maar nie beperk tot katalogi, interaktiewe DVD, tydskrifte, koerante, die Internet, en ander publikasies wat uit die projek mag voortvloei. Erkenning sal deurgaans aan die skrywer van die werk gegee word.
  16. Skrywers gee aan die organiseerders die reg om die verhale vir akademiese en navorsingsdoeleindes te gebruik. Erkenning sal deurgaans aan die skrywer van die werk gegee word.
  17. Byderhand is ‘n interdissiplinêre navorsings en kreatiewe projek onder leiding van die Vakgroep Skryfkuns, NWU. Vir meer inligting oor die projek, besoek die webtuiste: www.byderhand.net
  18. Navrae: skryf2018@byderhand.net

  

Advertisements

Die Dwaalverhaal Misverstand

Dit is seker een van die grootste uitdagings om jongmense te oortuig om meer te lees. Dit is ook nie iets wat net in die digitale era voorkom nie, maar ‘n probleem wat al vir eeue strek. So duik die vraag dan nou op: Hoe kry jy jongmense van die digitale era om meer te lees? Gebruik ‘n digitale platform, natuurlik.

dwaalverhaal_leesstoep

Die Dwaalverhaal is ‘n plek-spesifieke narratief wat afspeel op die gronde van HTS (Hoër Tegniese Skool) Potchefstroom waar die ATKV-tienertoneel tydens Aardklop plaasvind. Die narratief is deur Prof Hans du Plessis geskryf en met die titel Die Misverstand, kweek hy ‘n nuuskierigheid in die leser wat duidelik die leser op ‘n avontuur wil stuur.

Die narratief word gekoppel met video-segmente wat die karakters en die plekke voorstel. Ons videograaf en grafiese ontwerper, Gustaf Tempelhoff, het die verfilm en geredigeer. Die video vervang nie die narratief nie, maar vul die narratief aan en betrek die lesers by die ontwikkeling van karakters en die ruimte. Die gebruik van verskillende media met die digitale verhaal maak dit multimodaal op ‘n manier wat interessant, uniek, en hopelik effektief is.

Interaktiewe, plek-spesifieke, multimodale storievertel – dit is omtrent ‘n mondvol terme wat dalk nie lekker sin maak nie. Die Dwaalverhaal vat al hierdie terme en verduidelik dit op ‘n eenvoudiger manier. Elke plek op die gronde van hierdie historiese hoërskool, wat deel vorm van die storie, is geïntegreer met die verhaal. Sodoende kan die leser die omgewing waarneem en self deel word van die ruimte waar die gebeure afspeel. Die verhaal is opgedeel in agt afsonderlike plekke waar die narratief afspeel en so ‘n geheel vorm.

dwaalverhaal_bea_marni2

Die Misverstand gaan oor twee karakters, Bea Malan en Marni Botha, wat vriende word nadat Bea saam met haar ma Potchefstroom toe trek. Die twee se nuutgevonde vriendskap is tog bietjie vreemd en deur saam op ‘n avontuur te gaan, ontdek hulle ‘n geheim oor die skool se geskiedenis en maak ‘n interessante nuwe maatjie.

Met die proeflopie was dit duidelik dat die lesers hulself in die storie ingelees het. Elkeen was so opgewonde om die volgende hoofstuk (by die volgende plek) te lees, dat hulle selfs mekaar gestoei het om die QR-kodes te skandeer.*

dwaalverhaal_leesmuur    dwaalverhaal_spoor_fotoMarceBester

Die deelnemers het hulself verdiep in die verhaal. Hulle het by elke plek wat deel van die verhaal vorm, meer en meer met karakters geïdentifiseer en so die storie gevolg en kinderlik geniet.

Die Dwaalverhaal is definitief ‘n unieke geleentheid om ‘n narratief op ‘n vreemde/alternatiewe manier te beleef: om jouself in die verhaal in te lees en die ruimte ten volle te begryp.

* Geen jongmense of digitale toestelle is in die produksie van die Dwaalverhaal beseer nie.

  • Marcé Bester – Dwaalverhaal-kunsregisseur en assistent