ʼn Terugblik: Deelname aan ʼn internasionale kongres tydens die koronaviruspandemie

In 2019 is die Byderhandspan uitgenooi om in Julie 2020 by die ELO2020-kongres deel te vorm van ʼn internasionale paneelbespreking oor toegepaste digitale literatuur – ʼn geleentheid waarna ons baie uitgesien het. Die koronaviruspandemie het egter ook die aanbieding van en deelname aan kongresse ingrypend beïnvloed.

ELO (Electronic Literature Organization) is ʼn internasionale organisasie vir die fasilitering en bevordering van skryf, publikasie en lees van elektroniese literatuur. In 2017 en 2019 het Franci Greyling, Bernard Odendaal en Gustaf Tempelhoff, die kongresse in Porto, Portugal en Cork, Ierland, bygewoon waar ons veral oor ons navorsing rondom die Byderhandprojek, gesels het. Na afloop van ons paneelaanbieding oor die Byderhand-Pionierprojek by ELO2019 in Cork, is ons deur een van die direkteure van die organisasie, prof. Astrid Ensslin, uitgenooi om by die 2020 kongres in Orlando, Florida, deel te neem aan ʼn internasionale paneelbespreking oor toegepaste digitale literatuur. Dit sou ʼn besondere geleentheid wees om ons navorsing met ander te deel en ons het die uitnodiging met dank aanvaar.

Die paneel, “Applied E-Lit as Participatory Research Creation for Social Change”, het vyf navorsers van vier universiteite en van drie verskillende kontinente betrek. Die paneellede was Astrid Ensslin (University of Alberta), Rebecca Lyle Skains (Manchester Metropolitan University), Christine Wilks (Bath Spa University), Franci Greyling en Gustaf Tempelhoff (NWU). In ons aanbieding sou ons spesifiek oor die Byderhand-Pionierprojek gesels: “The Byderhand Pioneer Project: Accessible Locative Literature in a Multisensory Garden at a School for the Visually Impaired”.

Die wêreldwye pandemie het die organiseerders egter genoodsaak om die “fisiese” kongres wat reeds georganiseer was, te herbedink en alternatiewe formate te oorweeg. In wese het dit daarop neergekom dat die organiseerders twee verskillende kongresse georganiseer het. Die virtue­le formaat het bepaalde implikasies vir die programsamestelling en formaat van aan­biedings gehad, en die uiteindelike program het onder andere uit regstreekse aanbiedings (via Zoom), asinkroniese aanbiedings, en virtuele uitstallings bestaan.

Die betrokke paneel waarvan ons deel was, het twee aanbiedingsformate gekombineer, naamlik in die vorm van bydraes in die asinkroniese program, sowel as ʼn regstreekse paneelbespreking. Hiervoor moes ons die aanbieding in drie verskillende formate verpak, naamlik ʼn geskrewe weergawe van die referaat, ʼn video-weergawe van die referaat, asook ʼn virtuele paneelbespreking. Die gedagte was dat die deelnemers aan die paneel vooraf na die vollediger aanbiedings (video-opnames van ons referaataanbiedings asook die geskrewe weergawes daarvan) kan kyk. https://stars.library.ucf.edu/elo2020/live/roundtables/3/

Die aanbiedingsformaat het verskeie uitdagings gestel, veral wat betref beskikbare tegnologie, tegnologiese en ander vaardighede, netwerke en beskikbare bandwydte, en beperkte bewegingsvryheid as gevolg van inperkingsmaatreëls.

Om ʼn video-weergawe van die gesamentlike referaataanbieding te maak, het ʼn produksie op sy eie behels. Aangesien die universiteitfasiliteite ontoeganklik was, en ons ook nie in dieselfde lokaal aan die produksie kon werk nie, moes ek en Gustaf afsonderlik elkeen ons eie deel verfilm. Hierdie video-opnames moes dan met die PP-aanbiedings en ander beeldmateriaal, gekombineer en geredigeer word vir ʼn afgeronde gesamentlike aanbieding. Met Gustaf se praktiese raad, het ek my bes probeer om met die verouderde tegnologie tot my beskikking, toestelle waarvan alle funksies nie meer werk nie, en my beperkte tegnologiese vaardighede, ʼn aanvaarbare video-opname van my gedeelte van die aanbieding te maak.

As gevolg van beperkte bandwydte, was dit nie moontlik om die videomateriaal aanlyn te deel nie. Die videomateriaal moes dus op ʼn datastokkie by Gustaf besorg word – ʼn aktiwiteit wat in die grendeltyd bepaalde uitdagings gehad het. (Stel dit voor: twee gemaskerde figure wat skemeraand op ʼn verlate parkeerterrein ontmoet …) Met sy besondere tegniese vaardighede en ʼn toegeruste tuisateljee tot sy beskikking, het Gustaf ʼn afgeronde video van ons gesamentlike aanbieding gemaak, en ons kon hierdie video en die geskrewe referaat, voor die sperdatum van 30 Junie aan die organiseerders verskaf.

Die paneelaanbieding op 18 Julie het eweneens sy kwota uitdagings gehad. Die vyf paneel­lede van drie kontinente moes uit hulle eie woonplekke aan die regstreekse paneelbespre­king deelgeneem. Ook in hierdie geval, het my verouderde toestelle, lae bandwydte, en beperkte ervaring van en vaardighede met Zoomsagteware, bepaalde uitdagings gestel. Om alles te kroon, moes ons ook rekening hou met die moontlikheid van beurtkrag. Ons moes dus planne B en C gereed hê, indien daar iets sou verkeerd loop.

Ten spyte van talle uitdagings – soos beskikbare tegnologie en verskil in tydsones – het die paneelbespreking goed verloop. Ongeveer 50 mense van regoor die wêreld het die paneel bygewoon, en die terugvoer was oorwegend positief. ʼn Hele paar mense wat kommentaar in die “chat-line” bygedra het, het waardering vir die inspirerende en vernuwende gebruik van lokatiewe literatuur in die Byderhand-Pionierprojek uitgespreek.

Jeremy Hight, een van die baanbrekers in lokatiewe literatuur, het opgemerk: “Cool to see locative moved in a new direction and contexts. As an early locative narrative creator this makes me so happy and as someone who worked for many years with differently abled people, this is so exciting and inspiring.”

Ons aanbieding het ook bygedra tot die groter gesprek oor die toeganklikheid van digitale literatuur, soos blyk uit die opmerkings op die Zoom chat-line tydens die paneel, en wisselwerking op discord, die sosialemediaplatform wat vir kommunikasie tydens en na afloop van die kongres gebruik is.

Alhoewel die virtuele formaat effektief was, het ons die gebruiklike van aangesig tot aangesig gesprekke en wisselwerking met ander deelnemers baie gemis. Informele gesprekke tydens kongresse is altyd stimulerend en verrykend en ook bevorderlik vir die uitbreiding van netwerke.

Dit was inderdaad ʼn besondere geleentheid om ons navorsing op hierdie wyse, en as deel van ʼn internasionale paneel, te kon bekendstel. Die kongresargief word op die webtuiste van die UCF (University of Central Florida) gehuisves waar dit vir die algemene publiek beskikbaar is, en ons navorsing potensieel vir baie meer mense toeganklik is. https://stars.library.ucf.edu/elo2020/

Dit is egter belangrik om in ag te neem dat hierdie kort video’s van ons aanbieding en die paneelbespreking, letterlik weke se voorbereiding geverg het en groot uitdagings gestel het met betrekking tot die beskikbare tegnologie, tegnologiese vaardighede, kommunikasie, same­werking, probleemoplossing en tydsbestuur.

Die ervaring het egter opnuut die waarde van interdissiplinêre samewerking bevestig. Die Byderhandprojekte, deelname aan die internasionale paneel, en die kreatiewe hantering van die tegnologiese aanbiedings en uitdagings, sou nie moontlik gewees het sonder die vaardig­hede en bydraes van ʼn groot verskeidenheid medewerkers en deelnemers aan die Byderhand­projekte nie.

Deelname aan hierdie virtuele kongres het ʼn baie steil leerkurwe behels – ʼn ervaring waarmee ander navorsers hulle ook waarskynlik in hierdie ongewone omstandighede mee kan vereenselwig.

Franci Greyling – Julie 2020

Colloquium oor digitale letterkunde

UITNODIGING TOT BYWONING

COLLOQUIUM: DIGITALE LETTERKUNDE

 byderhand_t

6 APRIL 2016

NOORDWES-UNIVERSITEIT (POTCHEFSTROOMKAMPUS)

In aansluiting by die Tweede Nasionale Digitale-Humaniora-Werkswinkel wat op 4-8 April 2016 plaasvind op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), organiseer die vakgroep Skryfkuns aan die NWU ’n Colloquium oor Digitale Letterkunde (voortaan Colloquium) om op 6 April 2016 op dieselfde kampus plaas te vind.

Datum en tyd:

6 April 2016. Registrasie (gratis): 08:30-09:00.

Plek:

Transnetlokaal, grondverdieping van Frans du Toit-gebou (gebou E9), Potchefstroomkampus van die NWU

Die oogmerk met die Colloquium is eerstens ’n fokus op aspekte van die Byderhand-projek oor plekpesifieke digitale literatuur (en waarvan die beplande Colloquium ’n voortsetting is). Die beginfase van die multimodale, interdissiplinêre projek was die Byderhand-leesfeesproduksie wat tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in September 2015 op Potchefstroom van stapel gestuur is. Meer inligting oor die verskillende onderdele van hierdie projek is beskikbaar op die webwerf www.byderhand.net

Prof Yves T’Sjoen, van die Vakgroep Letterkunde in die Fakulteit Letteren en Wijsbegeerte aan die Universiteit Gent in België, sal as gasspreker by die Colloquium optree. Ander sprekers is prof. Susan Smith (Universiteit van Fort Hare), Nita Cronjé (ATKV), Wildrich Fourie en prof. Franci Greyling (NWU), prof. Bernard Odendaal (NWU), Gustaf Tempelhoff (NWU), Roela Hattingh (UJ) en ’n paneel onder leiding van Prof. Hans du Plessis (NWU).

Onderwerpe ter diskussie sluit digkuns in die digitale era, die aanbieding van digkuns in kombinasie met ander kunsvorme, die wisselspel tussen ingeplaastheid en verbeelding van gedigte in die NWU-Botaniese Tuin, die rol en proses van multimedia-ontwerp binne ’n plekspesifieke digitale literatuurprojek soos Byderhand, en die ontwikkeling van die dwaalverhaal as onderdeel van die Byderhand-projek in.

Hiermee ’n uitnodiging aan  belangstellendes om die Colloquium by te woon. Bywoning is gratis. Bevestig asseblief bywoning by onderstaande kontakgegewens voor of op 24 Maart 2016.

Indien u meer te wete wil kom oor die Tweede Nasionale Digitale-Humaniora-Werkswinkel van die hele week van 4-8 April 2016, en waarvan bogenoemde Colloquium ’n onderdeel vorm, kan u van die volgende skakel gebruik maak:  http://www.nwu.ac.za/unit-languages-and-literature-south-african-context-digital-humanities-2nd-workshop.

Prof. Franci Greyling: Franci.Greyling@nwu.ac.za; tel. 018  299 1781

Prof. Bernard Odendaal: Bernard.Odendaal@nwu.ac.za; tel. 018 299 1782

 

Woelige tuinversies en botaniese jongelinge – ‘n toetslopie

Die Byderhand-projek is werklik ‘n eerste vir Clover Aardklop! Om hierdie projek ten volle te ervaar moet jy daar wees. Dit oorbrug die wêreld van skryfkuns en die skoonheid van Potchefstroom se omgewing op so ‘n manier dat nuwe vlakke van ervaring blootgelê word. Hierdie week was die eerste geleentheid waarby spesiaal genooide gaste die Tuinverse gedeelte van die projek kon ervaar. (Jean du Toit, navorser).

toetslopie_plak

Net voor die besoekers Dinsdagmiddag 8 September vir die toetslopie arriveer hoor ons dat die QR-kodes nog nie almal gereed is nie. As student is ek gewoond daaraan dat alles op die nippertjie gebeur (prof Greyling wel nie) en ek klim op my fiets om na Juan Steyn toe te jaag. Daar kry ons gou die laaste paar QR-kodes gereed, druk, lamineer en ek jaag terug na die Botaniese Tuine. Al agter prof Greyling met haar gemaklike tekkies vir die baie stap, plak ons die 20 #Tuinverse op die bankies sommer in ’n japtrap. Alles betyds vir die besoekers om rustig deur die NWU se Botaniese Tuine te stap en die oulik, goed bewoorde, kleurvol geïllustreerde versies te geniet. Dit was die perfekte geleentheid om interaktief te verkeer met tegnologie en natuur. Ek kon selfs vir my eie Instagram-rekening ’n paar mooi foto’s neem vanaf die bankies nadat ek na die versies geluister het: #Byderhand is nou al byderhand op sosiale media en lesers kan ons gerus volg op Facebook, Instagram en Twitter. (DJ Cloete, studente-assistent)

piekniek   toetslopie_piekniek

Vol moed tree die Byderhand-projekleier en assistente die Botaniese Tuin binne vir die eerste Byderhand-toetslopie. Die kontrole-lysie was eenvoudig: Piekniekpakkies – check, QR kodes in die tuin geplak– check, Ouers – check, Jongelinge – check.

Heel gemaklik gaan blom ons toe onder die groot boom met ons piekniekpakkies. Jongelinge se hande en voete nog aan die skoner kant. Sommige ouers sit en vee monde af en die projekleier en assistente effens senuweeagtig oor die tegniese aspekte van die projek. Nadat die projekleier ‘n paar gevleuelde woorde gespreek het, wandel almal in verskillende rigtings om die omgewing te verken en die gepaste verse te beleef. Die jongelinge klou nog effens onseker aan hulle ouers vas, sonder ‘n cooking clue van die avonture wat vir hulle in die tuin voorlê…

   toetslopie_gesin   toetslopie_labirint

Kort voor lank is die ouers se selfone en tablette uit om die QR kodes wat op die bankies al om die tuin geplak is, te skandeer. (Daar was nou wel ‘n paar hiccups met die netwerk, maar aan die positiewe kant sal hierdie “hiccups” dien as die volgende drie weke se Network planning for dummies.)

Die jongelinge het dit baie gou duidelik gemaak dat die ouers toe nou wel daarin geslaag het om die netwerk baas te raak, want dié is toe nou besig om die verse tot ‘n mate toe uit te leef. Die tuinvers wat handel oor die labirint blyk twee jongelinge te inspireer om daarbinne te speel, die vers wat handel oor Anna, ‘n arme plat padda, motiveer twee ander om speels te KWAAK.

Tussen die gewoel deur slaag die projekleier en assistente om onderhoude te voer, waarnemings te maak en self ook bietjie laf te raak.

Die woelige Tuinverse en die botaniese Jongelinge was beslis ‘n aangename manier om voor te berei vir wat voorlê. (Anja Venter, studente-assistent)

toetslopie_marce   toetslopie_groep

Ek dink die Tuinverse subprojek is vir my mooi opgesom toe ek Dinsdag met die eerste toetslopie by die Botaniese Tuin inloop. ‘n Apple Mac laptop het rustig gestaan en wei in die middel van die bosse en blare. Hier is waar natuur en tegnologie geïntegreer word om mense en literatuur nader aan die werklikheid te bring. Die toetslopie het vir ons ‘n paar slaggate oopgemaak, maar is dit nie maar waarvoor toetslopies is nie? Die mense was beïndruk met die projek en het dit geniet om na die gedigte se toonsettings te luister. Die Tuinverse sal ‘n sukses wees. Ek kan dit voel. (Marcé Bester, studente-assistent)

Die projek is werklik ‘n unieke geleentheid om jouself in die tuin te bevind en, deur middel van tegnologie, beide jou ervaring van die Botaniese tuin en die gedigte wat in die tuin geplaas is, te verander. Alhoewel die Byderhand projek eers gedurende Aardklop sal loop, kan jy jouself solank gereed maak om ‘n wonderlike en unieke ervaring tydens daardie week te geniet.” (Jean du Toit, navorser)

  • Jean du Toit, DJ Cloete, Anja Venter, Marcé Bester

Oorsprong van die Byderhandprojek

Waar het die gedagte van Byderhand Aardklop 2015 ontstaan? Soos die meeste skeppende projekte is daar nie net een beginpunt nie. Byderhand Aardklop 2015 kan eerder vergelyk word met ‘n rivier wat deur die samevloeiing van verskeie groter en kleiner systrome ontstaan en ontwikkel het.

In die vakgroep Skryfkuns aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit is ons baie geïnteresseerd in die gebruik en skeppende moontlikhede van media en tegnologie, asook in aspekte van plek en ruimte. Ons is ook by kleiner en groter samewerkingsprojekte betrokke, soos die drie groot interdissiplinêre kreatiewe en -navorsingsprojekte wat sedert 2007 in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte onderneem is. (Op die spoor van kreatiewe kreature, Oor die einders van die bladsy en Weerspieëling en weerklank: Gesprekke oor tipografie, topografie .) Hierdie projekte deur die vakgroepe Skryfkuns, Grafiese Ontwerp en Kunsgeskiedenis het talle oorspronklike kunswerke en insiggewende navorsing opgelewer. So het die skrywer Fanie Viljoen byvoorbeeld in die kunstenaarsboekprojek, Oor die einders van die bladsy, verskeie media, tegnologie en platforms gebruik om variasies van sy verhaal ‘Pynstiller’ te skep en publiseer.

As deel van die Weerspieëling en weerklank-projek het die skryfkunsstudente o.a. fotografie ingespan om Potchefstroom  en omgewing te ontdek. Hierdie opdrag sluit ook aan by een van die opdragte van die tweedejaarstudente in die module kinder- en jeugliteratuur, naamlik om met media en tegnologie te eksperimenteer. In 2014 het die opdrag behels dat die studente ‘n verhaal moes skryf wat op die kampus afspeel en wat deur middel QR-kodes op selfone gelees kon word. Die plek waar die verhaal gelees word, moes deel van die verhaal vorm. Die groep het in die twee weke wat vir die projek gegun is, met ‘n groot verskeidenheid media geëksperimenteer en het met baie interessante projekte vorendag gekom.

  Dscn9546_k Dscn9536

Tydens die verloop van die projek het ons oor verdere moontlikhede gesels. Dalk sou so ‘n projek by Aardklop aangebied kon word?

Ek het met verskeie mense oor die moontlikhede van so ‘n projek gesels, en heelwat  belangstelling  uitgelok en voorstelle ontvang. Al dié insette het daartoe bygedra dat die idees verder ontwikkel het. Met verdrag het vier subprojekte ontstaan, naamlik gedigte in die Botaniese Tuin, kortverhale en kinderstories by die Boeke-Oase, ‘n tienerverhaal by die Hoër Tegniese Skool en strokies op die pendelroete. Die projek vir plekspesifieke digitale literatuur is aan Aardklop voorgelê en is as deel van 2015 se woordkunsprogram aanvaar.

Die klein klasprojek het nou in ‘n grootskaalse interdissiplinêre projek ontwikkel en meer as 50 mense – van organiseerders tot programmeerders, kunstenaars en navorsers – is op een of ander wyse by die projek betrokke. Skryfkunsstudente wat deel van die QR-klasprojek was of wat in vorige jaargroepe met media en tegnologie geëksperimenteer het, help as assistente in Byderhand Aardklop 2015.

Die projek word onderneem in die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks en vorm ook deel van die vestiging van digitale humaniora aan die Noordwes-Universiteit. Die projek word moontlik gemaak deur befondsing van Die Dagbreek Trust, die Navorsingseenheid en die vakgroep Skryfkuns in die Skool vir Tale, NWU.

Franci Greyling

24  Junie  2015