Byderhand Pionierstories

Byderhand het die afgelope jaar in samewerking met die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester en vele ander rolspelers getree vir ’n besondere projek. Die Byderhand-Pionierskoolprojek is op 30 Augustus 2018 bekendgestel, en die Byderhand Pionierstories kan nou gelees word op die skoolgronde van die Pionierskool en ook in die koffiewinkel, Blindiana Barista.

Leerders en oud-leerders van die Pionierskool is gevra om verhale en herinneringe te deel vir die versameling van Pionierstories. Sommiges het hul ervaringe as blinde of siggestremde persone deel, terwyl ander oor hul loopbaan vertel het of herinneringe aan hul Pionierskooldae herroep het. “Die drie jaar wat ek op Worcester was, was vir my die hoogtepunt van my skoolloopbaan,” sê Madelene van der Berg. “Dit was goeie tye, en ek is bly ander mense kan nou daarin deel.”

  Pionierstories op die skoolterrein. Links is ‘n storiebordjie in “Niemandsland” en regs is ‘n bordjie langs die hoofdeur van die skoolgebou.

Hierdie stories kan gelees word deur middel van bordjies waarop die titel en naam van die skrywer in gedrukte teks en ook in braille aangebring is. Die braille-teks vir al die bordjies is gedruk met behulp van Pionierdrukkers in Worcester. Getrou aan die plekspesifieke aard van Byderhand, is die bordjies op plekke by die skool aangebring waaroor daar in die storie vertel word: stories oor musiek en koorsang in by die ouditorium opgesit, en koshuisvertellinge is voor die ingange van die koshuis op die gronde te lees. Die versameling bestaan uit 27 stories en verse deur 23 skrywers/vertellers.

     Skrywers om die tafel: Links lees dr. William Rowland instruksies in braille;  regs luister Quinten Pendle en Gustaf Tempelhoff saam na Quinten se storie.

Die skrywers is op die openingsdag genooi om vir die eerste keer na hul stories te luister by ’n kleiner bekendstellingsfunksie by Blindiana Barista. Die Pionierstories sal ook in hierdie restaurant, by die Innovation for the Blind (Instituut vir die blindes), beskikbaar wees vir die mense van die Worcester-gemeenskap om te lees.


Links lê Philip Crouse se gidshond neffens haar eienaar. Regs gesels Gustaf en Nicky Labuschagne oor die toeganklikheid van die koppelvlak.

“In hierdie spesifieke projek sien ek in die eerste plek ’n geleentheid vir gestremde persone om werklikwaar ’n kreatiewe bydrae te lewer tot hulle eie gemeenskappe,” sê Philip Crouse, ook een van die skrywers. “Ook om die breër gemeenskap te beïnvloed deur hulle digkuns en letterkuns.” Philip is die koӧrdineerder van die Tegnologiesentrum van die Innovation for the Blind, en het ’n groot rol gespeel in die toetsfase van die nuwe digitale koppelvlak en hoe om dit vir blindes toeganklik te maak. Sy hulp was van onskatbare waarde vir die multimedia-ontwerper van Byderhand, Gustaf Tempelhoff. Philip noem dat daar nog baie toekomstige moontlikhede uit die projek kan spruit. “Ek dink hierdie is regtigwaar ’n ‘pionier’ – mind the pun – in baie opsigte, en ek dink dis ’n goeie sinergie tussen kuns, tegnologie, die verlede, die toekoms en wat ook al moontlik is in die toekoms.”


Pionierstories in Blindiana Barista. Links: ‘n storiebordjie en selfoon met die storie; regs verwelkom ‘n plakkaat by die deur die besoekers.

Die Pionierstories dien as die literêre nalatenskap van die skrywers, as inspirasie vir huidige en toekomstige Pionierskoolleerders. Deur die stories word daar nou ook vir die jong generasie ’n platform geskep om oor die nalatenskap van vorige leerders te leer. “Ek dink daar is ’n geneigdheid nou dat… elke geslag vergeet die vorige geslag en verloor daardie draad van die geskiedenis van hierdie skool, wat verrykend is en wat deel van jou erfenis is,” sê Dr. William Rowland. Hy is ’n bekende digter en leiersfiguur in die internasionale blinde gemeenskap en ook ’n oud-Pionierskoolleerder. “En dit is hoekom hierdie projek belangrik is. Dit gaan die vorige geslagte aan die huidige geslag en komende geslagte bind.”


Bestel ‘n Pionierstorie saam met jou koffie in Blindina Barista. Links rangskik Rouxné die storiebordjies; regs bedien Annemarie ‘n storie.

Die Pionierstories is nou ’n permanente instelling by die skool en in Blindiana Barista.

  • Rouxné van der Westhuizen – Oktober 2018

Woelige tuinversies en botaniese jongelinge – ‘n toetslopie

Die Byderhand-projek is werklik ‘n eerste vir Clover Aardklop! Om hierdie projek ten volle te ervaar moet jy daar wees. Dit oorbrug die wêreld van skryfkuns en die skoonheid van Potchefstroom se omgewing op so ‘n manier dat nuwe vlakke van ervaring blootgelê word. Hierdie week was die eerste geleentheid waarby spesiaal genooide gaste die Tuinverse gedeelte van die projek kon ervaar. (Jean du Toit, navorser).

toetslopie_plak

Net voor die besoekers Dinsdagmiddag 8 September vir die toetslopie arriveer hoor ons dat die QR-kodes nog nie almal gereed is nie. As student is ek gewoond daaraan dat alles op die nippertjie gebeur (prof Greyling wel nie) en ek klim op my fiets om na Juan Steyn toe te jaag. Daar kry ons gou die laaste paar QR-kodes gereed, druk, lamineer en ek jaag terug na die Botaniese Tuine. Al agter prof Greyling met haar gemaklike tekkies vir die baie stap, plak ons die 20 #Tuinverse op die bankies sommer in ’n japtrap. Alles betyds vir die besoekers om rustig deur die NWU se Botaniese Tuine te stap en die oulik, goed bewoorde, kleurvol geïllustreerde versies te geniet. Dit was die perfekte geleentheid om interaktief te verkeer met tegnologie en natuur. Ek kon selfs vir my eie Instagram-rekening ’n paar mooi foto’s neem vanaf die bankies nadat ek na die versies geluister het: #Byderhand is nou al byderhand op sosiale media en lesers kan ons gerus volg op Facebook, Instagram en Twitter. (DJ Cloete, studente-assistent)

piekniek   toetslopie_piekniek

Vol moed tree die Byderhand-projekleier en assistente die Botaniese Tuin binne vir die eerste Byderhand-toetslopie. Die kontrole-lysie was eenvoudig: Piekniekpakkies – check, QR kodes in die tuin geplak– check, Ouers – check, Jongelinge – check.

Heel gemaklik gaan blom ons toe onder die groot boom met ons piekniekpakkies. Jongelinge se hande en voete nog aan die skoner kant. Sommige ouers sit en vee monde af en die projekleier en assistente effens senuweeagtig oor die tegniese aspekte van die projek. Nadat die projekleier ‘n paar gevleuelde woorde gespreek het, wandel almal in verskillende rigtings om die omgewing te verken en die gepaste verse te beleef. Die jongelinge klou nog effens onseker aan hulle ouers vas, sonder ‘n cooking clue van die avonture wat vir hulle in die tuin voorlê…

   toetslopie_gesin   toetslopie_labirint

Kort voor lank is die ouers se selfone en tablette uit om die QR kodes wat op die bankies al om die tuin geplak is, te skandeer. (Daar was nou wel ‘n paar hiccups met die netwerk, maar aan die positiewe kant sal hierdie “hiccups” dien as die volgende drie weke se Network planning for dummies.)

Die jongelinge het dit baie gou duidelik gemaak dat die ouers toe nou wel daarin geslaag het om die netwerk baas te raak, want dié is toe nou besig om die verse tot ‘n mate toe uit te leef. Die tuinvers wat handel oor die labirint blyk twee jongelinge te inspireer om daarbinne te speel, die vers wat handel oor Anna, ‘n arme plat padda, motiveer twee ander om speels te KWAAK.

Tussen die gewoel deur slaag die projekleier en assistente om onderhoude te voer, waarnemings te maak en self ook bietjie laf te raak.

Die woelige Tuinverse en die botaniese Jongelinge was beslis ‘n aangename manier om voor te berei vir wat voorlê. (Anja Venter, studente-assistent)

toetslopie_marce   toetslopie_groep

Ek dink die Tuinverse subprojek is vir my mooi opgesom toe ek Dinsdag met die eerste toetslopie by die Botaniese Tuin inloop. ‘n Apple Mac laptop het rustig gestaan en wei in die middel van die bosse en blare. Hier is waar natuur en tegnologie geïntegreer word om mense en literatuur nader aan die werklikheid te bring. Die toetslopie het vir ons ‘n paar slaggate oopgemaak, maar is dit nie maar waarvoor toetslopies is nie? Die mense was beïndruk met die projek en het dit geniet om na die gedigte se toonsettings te luister. Die Tuinverse sal ‘n sukses wees. Ek kan dit voel. (Marcé Bester, studente-assistent)

Die projek is werklik ‘n unieke geleentheid om jouself in die tuin te bevind en, deur middel van tegnologie, beide jou ervaring van die Botaniese tuin en die gedigte wat in die tuin geplaas is, te verander. Alhoewel die Byderhand projek eers gedurende Aardklop sal loop, kan jy jouself solank gereed maak om ‘n wonderlike en unieke ervaring tydens daardie week te geniet.” (Jean du Toit, navorser)

  • Jean du Toit, DJ Cloete, Anja Venter, Marcé Bester

Oorsprong van die Byderhandprojek

Waar het die gedagte van Byderhand Aardklop 2015 ontstaan? Soos die meeste skeppende projekte is daar nie net een beginpunt nie. Byderhand Aardklop 2015 kan eerder vergelyk word met ‘n rivier wat deur die samevloeiing van verskeie groter en kleiner systrome ontstaan en ontwikkel het.

In die vakgroep Skryfkuns aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit is ons baie geïnteresseerd in die gebruik en skeppende moontlikhede van media en tegnologie, asook in aspekte van plek en ruimte. Ons is ook by kleiner en groter samewerkingsprojekte betrokke, soos die drie groot interdissiplinêre kreatiewe en -navorsingsprojekte wat sedert 2007 in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte onderneem is. (Op die spoor van kreatiewe kreature, Oor die einders van die bladsy en Weerspieëling en weerklank: Gesprekke oor tipografie, topografie .) Hierdie projekte deur die vakgroepe Skryfkuns, Grafiese Ontwerp en Kunsgeskiedenis het talle oorspronklike kunswerke en insiggewende navorsing opgelewer. So het die skrywer Fanie Viljoen byvoorbeeld in die kunstenaarsboekprojek, Oor die einders van die bladsy, verskeie media, tegnologie en platforms gebruik om variasies van sy verhaal ‘Pynstiller’ te skep en publiseer.

As deel van die Weerspieëling en weerklank-projek het die skryfkunsstudente o.a. fotografie ingespan om Potchefstroom  en omgewing te ontdek. Hierdie opdrag sluit ook aan by een van die opdragte van die tweedejaarstudente in die module kinder- en jeugliteratuur, naamlik om met media en tegnologie te eksperimenteer. In 2014 het die opdrag behels dat die studente ‘n verhaal moes skryf wat op die kampus afspeel en wat deur middel QR-kodes op selfone gelees kon word. Die plek waar die verhaal gelees word, moes deel van die verhaal vorm. Die groep het in die twee weke wat vir die projek gegun is, met ‘n groot verskeidenheid media geëksperimenteer en het met baie interessante projekte vorendag gekom.

  Dscn9546_k Dscn9536

Tydens die verloop van die projek het ons oor verdere moontlikhede gesels. Dalk sou so ‘n projek by Aardklop aangebied kon word?

Ek het met verskeie mense oor die moontlikhede van so ‘n projek gesels, en heelwat  belangstelling  uitgelok en voorstelle ontvang. Al dié insette het daartoe bygedra dat die idees verder ontwikkel het. Met verdrag het vier subprojekte ontstaan, naamlik gedigte in die Botaniese Tuin, kortverhale en kinderstories by die Boeke-Oase, ‘n tienerverhaal by die Hoër Tegniese Skool en strokies op die pendelroete. Die projek vir plekspesifieke digitale literatuur is aan Aardklop voorgelê en is as deel van 2015 se woordkunsprogram aanvaar.

Die klein klasprojek het nou in ‘n grootskaalse interdissiplinêre projek ontwikkel en meer as 50 mense – van organiseerders tot programmeerders, kunstenaars en navorsers – is op een of ander wyse by die projek betrokke. Skryfkunsstudente wat deel van die QR-klasprojek was of wat in vorige jaargroepe met media en tegnologie geëksperimenteer het, help as assistente in Byderhand Aardklop 2015.

Die projek word onderneem in die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks en vorm ook deel van die vestiging van digitale humaniora aan die Noordwes-Universiteit. Die projek word moontlik gemaak deur befondsing van Die Dagbreek Trust, die Navorsingseenheid en die vakgroep Skryfkuns in die Skool vir Tale, NWU.

Franci Greyling

24  Junie  2015