Tuin van digters, Breytenbachsentrum, Wellington

Die versameling gedigte in die Digterstuin van die Breytenbachsentrum in Wellington is tydens die Fees van Digters (16-18 September 2016) met ‘n nuwe toevoeging uitgebrei. Nou kan besoekers aan die tuin benewens gedigte op interessante mediums soos teëls, uithangborde en beeldhouwerke, ook digitale gedigte ervaar: Byderhand Digterstuin.

copy_dscn5200_1000  copy-dscn5189_1000
Die Byderhandspan is n.a.v. die Tuinverse in die NWU-Botaniese Tuin genader om nuwe tuinverse vir Tuin van digters te skep. Hierdie uitnodiging bied ook ‘n gulde geleentheid om die navorsing oor plekspesfieke digitale literatuur na ander plekke uit te brei.

Theo Kemp, die uitvoerende bestuurder van die sentrum, het vyf Kaapse digters uitgenooi om deel te word van die projek: Danie Marais, Alfred Schaffer, Zandra Bezuidenhout, Hennie Nortjé en Daniel Hugo. Liam Longland, Ricardo Liut, Cherié Cordier en Philip van Heerden was verantwoordelik vir die treffende animasies van die gedigte. Die QR-kodes van gedigte is op die bankies in die tuin aangebring – elkeen op ‘n plek waar die gedig en die omgewing die beste in gesprek kan tree.

alfredschaffer_1000  copy-dscn5132_1000
Alfred Schaffer se gedig, Die Aandete / Het Avondmaal

 a_hennienortje  copy_dscn5193_1000
Hennie Nortjé met Swartbas – reg by die swartbas wat hy in die tuin geplant het

copy-dscn5249_1000  copy_dscn5222_1000
Daniel Hugo en Die digter se tuin – en gesellige digters in die tuin

copy-dscn5224_1000  copy-dscn5230_1000
Danie Marais met Toy Story 

copy-dscn5169_1000  tuin_1000
Twee kinderverse van Franci Greyling kan ook in die tuin ontdek word: Met die voëls praat en Tuinmaak

Die Fees van Digters vind jaarliks plaas naby die verjaarsdag van Breyten Breytenbach (16 September.) Vanjaar is drie dae lank fees gevier met ‘n uitgebreide program wat vir ieder en elk voorsiening gemaak het.

Die digters het hulle gedigte voorgelees by die gesprek oor digitale literatuur wat as deel van die feesprogram in die woordtent aangebied is. Met: Bernard Odendaal, Diek Grobler, Yves T’Sjoen en Franci Greyling (gespreksleier); voorlesings deur Danie Marais, Alfred Schaffer, Zandra Bezuidenhout en Hennie Nortjé. Byderhand is ‘n projek van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) waarin digitale digkuns en die natuur op vindingryke manier bymekaar uitkom, deurdat jy op jou slimfoon, via ‘n strepieskode in die natuur aangebring, ‘n gedig kan aflaai wat met die tuingegewe te doen het. Hierdie projek is met groot sukses in die NWU se Botaniese Tuin aangebied tydens die Aardklop-fees in 2015. Enkele splinternuwe tuinverse is vir die Tuin van Digters geskryf en digitaal bewerk. Filmverse is op sy beurt ‘n projek waarin digters se verse tot animasiefilms verwerk word. Betrokkenes by beide projekte kom gesels oor wat digitale digkuns behels en hoe ons vergelyk met wat in Europa gebeur. Van die digters wie se werke opgeneem is vir die Byderhand-projek, kom lees hul werk voor. Besoek Byderhand se Digterstuin blad en laai die QR-leser op jou slimfoon hier af om die Byderhand kodes in die tuin te kan benut. 16:45 | 60 min. | Woordtent

copy-dscn5124_1000  copy_dscn5143_1000   Byderhand: Bernard Odendaal. Die Byderhandspan is veelsydige planmakers – Gustaf Tempelhoff en Daniel Hugo in hulle “ateljee” besig met die opname van Daniel se gedig.

bb_banier

  • Franci Greyling – September 2016
Advertisements

Colloquium oor digitale letterkunde

UITNODIGING TOT BYWONING

COLLOQUIUM: DIGITALE LETTERKUNDE

 byderhand_t

6 APRIL 2016

NOORDWES-UNIVERSITEIT (POTCHEFSTROOMKAMPUS)

In aansluiting by die Tweede Nasionale Digitale-Humaniora-Werkswinkel wat op 4-8 April 2016 plaasvind op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), organiseer die vakgroep Skryfkuns aan die NWU ’n Colloquium oor Digitale Letterkunde (voortaan Colloquium) om op 6 April 2016 op dieselfde kampus plaas te vind.

Datum en tyd:

6 April 2016. Registrasie (gratis): 08:30-09:00.

Plek:

Transnetlokaal, grondverdieping van Frans du Toit-gebou (gebou E9), Potchefstroomkampus van die NWU

Die oogmerk met die Colloquium is eerstens ’n fokus op aspekte van die Byderhand-projek oor plekpesifieke digitale literatuur (en waarvan die beplande Colloquium ’n voortsetting is). Die beginfase van die multimodale, interdissiplinêre projek was die Byderhand-leesfeesproduksie wat tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in September 2015 op Potchefstroom van stapel gestuur is. Meer inligting oor die verskillende onderdele van hierdie projek is beskikbaar op die webwerf www.byderhand.net

Prof Yves T’Sjoen, van die Vakgroep Letterkunde in die Fakulteit Letteren en Wijsbegeerte aan die Universiteit Gent in België, sal as gasspreker by die Colloquium optree. Ander sprekers is prof. Susan Smith (Universiteit van Fort Hare), Nita Cronjé (ATKV), Wildrich Fourie en prof. Franci Greyling (NWU), prof. Bernard Odendaal (NWU), Gustaf Tempelhoff (NWU), Roela Hattingh (UJ) en ’n paneel onder leiding van Prof. Hans du Plessis (NWU).

Onderwerpe ter diskussie sluit digkuns in die digitale era, die aanbieding van digkuns in kombinasie met ander kunsvorme, die wisselspel tussen ingeplaastheid en verbeelding van gedigte in die NWU-Botaniese Tuin, die rol en proses van multimedia-ontwerp binne ’n plekspesifieke digitale literatuurprojek soos Byderhand, en die ontwikkeling van die dwaalverhaal as onderdeel van die Byderhand-projek in.

Hiermee ’n uitnodiging aan  belangstellendes om die Colloquium by te woon. Bywoning is gratis. Bevestig asseblief bywoning by onderstaande kontakgegewens voor of op 24 Maart 2016.

Indien u meer te wete wil kom oor die Tweede Nasionale Digitale-Humaniora-Werkswinkel van die hele week van 4-8 April 2016, en waarvan bogenoemde Colloquium ’n onderdeel vorm, kan u van die volgende skakel gebruik maak:  http://www.nwu.ac.za/unit-languages-and-literature-south-african-context-digital-humanities-2nd-workshop.

Prof. Franci Greyling: Franci.Greyling@nwu.ac.za; tel. 018  299 1781

Prof. Bernard Odendaal: Bernard.Odendaal@nwu.ac.za; tel. 018 299 1782

 

Tuinverse leef voort op selfone en rekenaars van studente

Skryfkunsstudente van die Noordwes-Universiteit doen in die eerste semester van hulle tweedejaarstudie ’n module in die skryf van gedigte.

Een van hulle eerste opdragte is om ’n liriese gedig te skryf. Tipies van ’n liriese gedig is die vertolking van die emosies of besinnings wat die “ek” van die gedig self ervaar. Dit gaan heel dikwels oor die stemminge wat by die liriese subjek (die “ek”) opkom by die aanskoue van mense, gebeure of natuurverskynsels.

Die meerderheid van die gedigte wat in die Tuinverse-digitale-installasie in die Noordwes-Universiteit se Botaniese Tuin te sien en aan te hoor is, is juis kenmerkend liries van aard (vertel byvoorbeeld nie ’n verhaal nie). Dié installasie was deel van die Byderhand-leesfeesprojek wat in September 2015 op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees geloods is, en die ATKV-Aartvark-prys vir Grensverskuiwende Werk gekry het na afloop van die kunstefees.

bt_skrk211_k

’n Ideale geleentheid het sodoende vroeg in vanjaar se tweedejaarsmodule in Skryfkuns ontstaan vir die studentedigters om as ’t ware ’n klas oor liriese natuurpoësie in die Botaniese Tuin te gaan beleef.

bt_skrk211_2_k

Deur die QR-kodes wat oral by wyse van plakkers op bankies in die Botaniese Tuin aangebring is, met ’n QR-leser op hulle selfone af te tas, kon hulle digitaal toegang kry tot die installasiegedigte (wat ook kinderverse ingesluit het). Hulle kon die tuinverse lees, na voordragte of toonsettings daarvan luister, of kyk hoe die gedigte digitaal geanimeer en gemanipuleer is. Al die Tuinverse het, soos die installasietitel al sê, met die NWU se Botaniese Tuin en die verskynsels daarin te doen gehad.

bt_skrk211_3_k

Daarna was dit tyd vir die studente om elk self ’n liriese gedig te gaan skryf. Ook in hulle gedigte moes daar iets van die (botaniese) tuingegewe ter sprake kom.

bt_skrk211_4_k
bt_skrk211_5_k

  • Bernard Odendaal
    Februarie 2016

T.T. Cloete: ’n Gelowige intellektueel en groot digter het ons ontval

Dit was vir almal betrokke by die Byderhand-projek hartseer nuus dat T.T. Cloete – een van die bydraers tot die Tuinverse-uitstalling in die Botaniese Tuin van die Noordwes-Universiteit – op 29 Julie vanjaar oorlede is.

bankie_botaniesetuin   profTTCloete

Ek het hom maar ’n handvol kere van aangesig tot aangesig ontmoet. Elke keer was dit ’n opwindende, openbarende ervaring.

Ek onthou hoe hy eendag onthuts opgemerk het dat hy die vorige week ’n Nederlandse vertaling van die Spaanse filosoof José Ortega y Gasset se “Bespiegelingen over leven en liefde” weer ’n slag by die NWU se biblioteek op Potchefstroom uitgeneem het. Wat moes hy ontdek? Die stempelkaartjie voorin daardie boek het gewys dit was nog net een keer tevore uitgeneem – doer in die 1950’s. Deur homself, toe hy ’n jong dosent aan die toenmalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys was!

Cloete was ’n leser (en onthouer van wat hy gelees het) soos min. Sy gestremdheid, ’n uiteindelike gevolg van die poliomiëlitus wat hy in die 1940’s opgedoen het as jong student aan die Universiteit van Pretoria, het hom in ’n belangrike mate ’n lessenaarmens gemaak. So geteister deur siektetoestande was hy dat dokters in die 1970’s al gevrees het vir sy lewe, en hy enkele jare later moes aftree.

Tog het dié intellektueel alles wat buite en bo, selfs binne ons is, ewe liefgehad as boeke. Hy het tuingemaak, met voëls geboer, sterre gekyk, gestap toe hy nog kon, graag in die motor geklim en die wildernis gaan besigtig. Hy het ’n ryklike lewe bly voer tot hy een-en-neëntig geword het.

Vroeër vanjaar was ek teenwoordig toe iemand hom vra hoe hy op dié hoë ouderdom dit regkry om steeds aan meer as een boek gelyk te werk (waarvan hy geesdriftig aan ’t vertelle was). Hy het gesê ons moet hóm nie vra nie. Hy is seker maar ’n witbroodjie van God – ’n opmerking waaroor hy lekker gelag het. Die dag voor hy op 31 Mei 2014 negentig sou word, het hy sy motor gevat en Klerkskraaldam toe gery, ’n stuk of vyftig kilometer noordwes van Potchefstroom geleë. Van daar het hy die pad al langs die Mooirivier af tot weer terug in Potchefstroom gevolg. En Psalm 100 gesing, al vier die strofes, het hy vertel.

Nie die woorde van sy eie 2001-beryming nie; die ou woorde van Totius se omdigting. Dié was mos ook ’n Potchefstromer toe hy aan die Psalms gewerk het, doer in die 1920’s. Die tyd toe Cloete die eerste keer die lewenslig aanskou het op sy ouers se plaas in die Vredefort-distrik.

Daardie woorde van Totius was vir hom soos relieke, het hy verduidelik: konkrete oorblyfsels van die óú mense se vroomheid. In die ry het hy naderhand die ruite afgedraai. “Want goedertieren is die Heer, sy goedheid eindig nimmermeer.” Só het hy die wind in gesing. Hy wat gesukkel het om te verstaan waarom God juis hóm gekies het, hóm werkloos gemaak het om beskikbaar te word om oor God en Sy skepping digterlik te stamel in Afrikaans.

Hierdie “stamel”-tyd wat hom gegun is (hy het eers in 1980, op 56-jarige leeftyd, sy eerste digbundel gepubliseer), het een van Afrikaans se heel belangrikste religieuse digters opgelewer. Beskou ’n mens die eietydse literature in ander tale, byvoorbeeld die Nederlandse, dan lyk dit of religieuse digkuns tans ’n bietjie as ’n randverskynsel geag word. Nie in Afrikaans nie. Daarvoor het T.T. Cloete, saam met veral Sheila Cussons, gesorg.

Die fokuspunt in Cloete se digkuns is die dinamiese eenheid-in-verskeidenheid in die aardse en kosmiese verskynsels. Dít, veral, wou hy verken. Dié toespitsing het gespruit uit sy diepgesetelde Christelike oortuigings. Veral die skeppings-, onderhoudings- en bestierswerk van die goddelike Vader-figuur het hom aangegryp.

Dit was sy oortuiging dat ’n mens in die verweefde verskeidenheid van die skeppingsdinge as ’t ware die vingermerke van God kan waarneem. “Onversadig” en met “heilige nuuskierigheid” (soos twee van sy meer onlangse digbundels heet) het hy daarom as ’t ware deur die komplekse, dikwels teenstrydige werklikheid – ten spyte van die beperkthede van ons menslike vermoëns – op soek na die Godsopenbaringe gegaan. Dit digterlik vertolk. Die dinamiese spel tussen patroonvorming en variasie wat betref klankgebruik, woordgebruik en –skepping, vers- en sinsbou, is stilistiese en verstegniese illustrasies van dié soektog in sy gedigte.

Nie net tot die skatkis van die Afrikaanse religieuse digkuns het Cloete enorm bygedra nie. Ekologiebewustheid en -kommer is ’n tema van toenemende belang in die Afrikaanse poësie, en ook hierin het Cloete ’n sleutelrol gespeel. Van die mooiste liefdesgedigte en verse oor oudword in Afrikaans het uit sy pen gevloei.

Cloete het as Christelik-gelowige digter nooit weggeskram daarvan om ook die skadukante van die lewe en die werklikheid in sy gedigte te vertolk nie – in die later bundels uit sy oeuvre nog meer so. Om dit in terme van sy jongste gepubliseerde bundel te stel: sowel die lyflik-uitspattige en verworde “karnaval”-kant as die geestelik-opbouende en –skeppende “Lent”-sy van ons bestaan het onder sy digterlike loep gekom.

1980, die jaar waarin Cloete met “Angelliera” gedebuteer het, word soms as ’n belangrike datum met betrekking tot die nuwe aansien van die vaster versvorme in Afrikaans gesien. Sy rol hierin kan nie onderskat word nie. Hy is herhaaldelik bekroon vir sy bundels: meer as ’n dosyn keer, waaronder twee maal met die prestigeryke Hertzogprys.

’n Reus het genieters en koesteraars van die Afrikaanse letterkunde ontval.

  • Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool en vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit)

Digkuns dié verkenner van nuwe media

Ons wat boorlinge van die twintigste eeu is, vind dit moeilik om anders aan gedigte te dink as “stellasies” vers, om ’n beeld by die digter D.J. Opperman te leen – as stapeltjies versreëls omgewe van sulke lappe wit op die bladsye van boeke.

Die woorde wat sangers so op wysies sing, gedigte? Nooit gesien nie! Lirieke hoort tot wat ons as populêre kunsuitings kan reken. – Dis tipies hoe veral in die twintigste eeu geredeneer is.

Gaan slaan ’n mens na in histories oorsigtelike poësiebloemlesings, kom jy egter agter die meeste ouer digtekste was juis geskryf om gesing of voorgedra te word. Die teelaarde van die digkuns soos ons dit ken, was die liedkuns.

Dis toe ons digterlike voorouers hulle lirieke en resitasies begin neerskryf het dat hoe gedigte op die bladsy lyk, betekenisvol geword het. Die uitvinding van die boekdrukkuns, en die yking van skriftekenformate en spasiërings wat daarmee gepaard gaan, het die proses beklink. Gedigte se tipografiese voorkoms het net so betekenisvol geword as dit wat jy hoor wanneer hulle voorgedra word.

Trouens, ’n mens kry selfs wat sommige mense kykgedigte wil noem: gerangskikte taaltekens wat eers sin maak as jy na hulle kyk asof hulle beeldende kunswerke is.

Die afgelope eeu en ’n half was die hoogty van wat mediawetenskaplikes die grafosferiese kultuurera noem. Gedrukte media het oorheers as wyse om inligting en kennis oor te dra.

Wat die poësie betref, was die gevolg dat lirieke se eendimensionele (ouditiewe) tekengerigtheid veroorsaak het dat hulle tot die “laere” kunsvorme gereken is. Digkuns, wat betekenis laat voortspruit uit wat lesers hoor én sien, is die “hoër” vorm geag.

Ná die Tweede Wêreldoorlog beleef ons egter ’n oorgang na ’n nuwe mediosferiese era, een waarin die elektroniese media met al rasser skredes vooruitgaan. Gedrukte teks steel steeds die kollig in die digkunsbedryf – maar hoe lank nog?

Gedigte kan nou, deur middel van digitale animasie, “nomadies” word. Voor jou oë op die rekenaarskerm, kruis en dwars geplaas, onderstebo of agterstevoor gekeer, in gedaantes van verskillende lettergroottes en –tipes, kan woordstringe verskyn, verander, verdwyn.

Erger selfs: deur benutting van byvoorbeeld algoritmes kan rekenaars geprogrammeer word om sélf versreëls voort te bring. Party programme laat lésers toe om ’n gedig se vorm en/of verloop te kies.

Ander willekeure as dié van digters domineer.

Of jy kry video- of kine-poësie, waarin woord, beeld en klank saamstaan tot gedigte. Voordragpoësie is terug in volle glorie: YouTube bevat hordes sogenaamde “performance poems”.

Daar is al beweer dat dit die poësie geverg het om die volle omvang van betekenisskeppingsmoontlikhede met ink op papier te verken. Nou hoor ’n mens dis asof die digkuns en die digitale media vir mekaar gemaak is.

Die “Tuinverse”-been van die Byderhand-webtuiste sal uiteindelik voorbeelde bevat van verskunsbeoefening wat ’n mens na aldrie die genoemde mediosferiese wêrelde verplaas: daar sal gedigvoorlesings en -toonsettings te hoor (logosfeer), gedigte te lees (grafosfeer) én grafiese, digitale bewerkings te bekyk en te beluister wees (videosfeer).

bernard_odendaal   bernard_odendaal2

  • Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool en vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit) – 22 Julie 2015