Die ‘hoe’ agter ’n gedig vir die Tuinvers-projek

13 Januarie 2015. Dit was ’n sonnige Dinsdagoggend. Ons het besluit om die Botaniese Tuin in Potchefstroom te gaan opsoek. Daar was twee redes daarvoor: a) dit was my beter helfte se verjaarsdag en b) ek is gepols met die vraag of ek ’n gedig vir hierdie projek wil skryf. Ek wou gaan kyk of daar iewers by één van die bankies miskien vir my ’n gedig opgesluit lê. Gewapen met my kamera en notaboekie is ons daarheen.

carinavdwalt_intuin   carinavdwalt_tuin

Wat ’n verrassing! Die Botaniese Tuine was verlate. Dit was net ons tweetjies en dit was prima. Soos Adam en Eva van ouds het ons eers net oë vir mekaar gehad toe ons besef ons is alleen. Daarna het ek begin rondkyk. Ek het dadelik van die bank by die eerste dammetjie gehou, maar met die ligging daarvan en die beskrywing van die vleikurper en muskietvis het ek gedink dat dit Cloete se bank behoort te wees.

Die labirint het my laat terugdink aan die labirinte in die grasperk agter die Katedraal van Chartres en in die vloerteëls van die Katedraal in Amiens. Dit is twee van die vyf grootste katedrale in Frankryk. Laasgenoemde labirint het ek van buite na binne geloop. As jy dit doen, moet jy gekonsentreerd nadink oor die hoogtepunte van jou lewe waarby jou gedagtes jou eintlik ook spontaan langs die laagtepunte neem. Dit werk hipnotiserend. Uiteindelik eindig jy in die sentrum. Halleluja-effek. Ja, oor die labirint met die warm deurdringende geur van knoffelblommetjie sou ek ’n gedig kon skryf.

’n Ander bank het my aandag getrek. Net soos by die eerste dammetjie was dit oorgroei met waterlelies. Dit het my laat terugdink aan die vywer in my geliefde sterrebos, die Oude Warande in Tilburg. Die vinknessies oor die dam het die prentjie afgerond. Vinke met hulle bedrywighede rondom nesbou oor die water is vir ons iets gewoons, maar is ’n verskynsel wat menige Nederlanders vir ure kan bekoor. As die wyfie puntenerig die mannetjie se poging uitmekaar ruk, gaan daar darem geluide van ongehoorde verontwaardiging in hulle geledere op! Ja, oor ’n blik op die dam vanaf hierdie bankie sou ek ook ’n gedig kon skryf. Saamgevat het hierdie klein oase, hierdie paradys, ’n gevoel van verwondering by my agtergelaat.

Maar ’n kortkop vóór hierdie verwondering was my verontwaardiging oor die ontoeganklikheid van die einste Botaniese Tuin. Die toegangsure van agtuur soggens tot vieruur smiddags maak dit onmoontlik vir werkendes om aan die einde van ’n lang dag daar te gaan asemskep. Oor naweke is dit ook gesluit. Hoe mooi ook al – die tuin bied geen inspirasie vir die student met sy kitaar, die skilder met haar esel, die skrywers met hulle notaboeke, die Sondagskoolgroepie met hulle Bybelstudie nie. Hierdie vredige ruimte waarin jy ’n misverstand kan uitpraat of ’n piekniekkombers kan oopsprei, word die meeste Potchefstromers ontneem. Ek was onthuts. Wie deur die week wel tyd hiervoor het en ook toegang, is die mense verbonde aan die universiteit se Skool vir Omgewingswetenskappe. Intussen wil ek vir almal vertel – GAAN, dis só mooi! Maar onbekend maak onbemind. Dit is werklik ’n plek wat vir my as gevolg van hierdie teenstellings genoeg stof vir ’n gedig bied.

Verwondering en verontwaardiging in gelyke maat “wauw” en “au”.

Aan die einde van Januarie ontvang ek die uitnodiging met daarby aangeheg ’n PDF-ie van al die bankies. Die bank by die waterlelies en die vinkneste kry vir my ’n nommer en ’n besondere naam: 4, Paddavywerbankie. Die naam bestaan uit ’n Afrikaanse woord (padda) en ’n Nederlandse woord (vijver) wat redelik onlangs in die Afrikaanse woordeskat opgeneem is met ’n verafrikaanse spelling (vywer).

Vywer verplaas my opnuut na Oude Warande na Vondelpark en na Elisabeth Eybers, gebore in buurdorp Klerksdorp op 26 Februarie 1915. As meesterlike digteres maak beide Nederlands en Afrikaans aanspraak op haar, maar staan daar eintlik ’n standbeeld van haar iewers op die NWU-kampus? Of is een van haar klassieke gedigte êrens in ’n glasdeur van ’n universiteitsgebou gesandstraal? Ek pynig my breinselle, maar ontdek niks nie.

Klerksdorp was die geboorteplek van nog ’n Suid-Afrikaanse ikoon: Desmond Tutu, 7 Oktober 1931.Ek het die voorreg gehad om hom in Den Haag te ontmoet. Wat ’n vriendelike en inspirerende Gods man! Tydens sy openbare gebed by die onthulling van ’n standbeeld vir Mandela, word hy onderbreek deur ’n groepie luidrugtige betogers wat aandag vraag vir die regte saak, naamlik plaasmoorde, maar op die verkeerde plek en die verkeerde tyd. Tutu het ’n paar sekondes stilgebly en toe onverstoord sy dankgebed hervat. Al my respek vir dié Anglikaanse biskop. Ek is seker daar staan nie ’n standbeeld van Tutu langs die ander Gods man Totius voor die NWU-hoofgebou nie. Totius is nog steeds ons psalmdigter wat op wonderbaarlike wyse die onlangse politiek georiënteerde “beeldestorm” oorleef het.

Dus skryf ek ’n gedig waarin Eybers en Tutu langs mekaar sit op dieselfde bankie in die Botaniese Tuin. Vir ’n kort rukkie tydens AADKLOP gun ek vir hulle albei ’n plek op die kampus van die NWU. By sommige mense kan dit miskien nog steeds morele spanning veroorsaak. Ek besef dit. Die kwessie van rassisme kom hierdeur weer onder die publiek se aandag. Eers het ek elkeen se perspektief duidelik afgebaken en identifiseerbaar neergeskryf, maar toe besef ek iets. Ek tree soos ’n plantkundige op, wat alle plante identifiseer en netjies etiketteer. Of ’n bewaker, wat die tuin se hekke net vir sommiges oopsluit of die betogende massa met dranghekke uithou. Of miskien ’n rassis? Toe het ek hulle perspektiewe bietjie geskommel soos dit ook in die regte lewe gaan.

hoe Eybers en Tutu kyk eindig met ’n morele vraag aan die individuele leser of luisteraar op die bank. Die vraag hoef nie hardop beantwoord te word nie. Daar hoef nie ’n openbare reaksie uit voort te spruit nie. Of die leser of luisteraar daaroor gaan nadink op sy eie tyd en op sy eie manier – dís wat die krag van hierdie gedig sal bepaal. As poësie enige krag het.

  • Carina van der Walt (Digter in die tuinvers-projek – Carina woon en werk sedert 2007  in Nederland.)

 

Advertisements

One thought on “Die ‘hoe’ agter ’n gedig vir die Tuinvers-projek

  1. Onbeskryflik leersaam om hierdie skryfstuk te lees. Whau! Dankie. En Auh! Ek het grootgeword in Klerksdorp en leer in hierdie plasing vir die eerste keer dat Elisabeth Eybers en Aartsbiskop Tutu in Klerksdorp gebore is. Ek kan nie wag om die gedig in die Botaniese Tuin te gaan lees/beleef nie. Die#Byderhand-projek by Aardklop is ‘n kwantumsprong vorentoe. Ek sien al hoeveel ek en almal wat deelneem gaan groei in kennis en menswees.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s