T.T. Cloete: ’n Gelowige intellektueel en groot digter het ons ontval

Dit was vir almal betrokke by die Byderhand-projek hartseer nuus dat T.T. Cloete – een van die bydraers tot die Tuinverse-uitstalling in die Botaniese Tuin van die Noordwes-Universiteit – op 29 Julie vanjaar oorlede is.

bankie_botaniesetuin   profTTCloete

Ek het hom maar ’n handvol kere van aangesig tot aangesig ontmoet. Elke keer was dit ’n opwindende, openbarende ervaring.

Ek onthou hoe hy eendag onthuts opgemerk het dat hy die vorige week ’n Nederlandse vertaling van die Spaanse filosoof José Ortega y Gasset se “Bespiegelingen over leven en liefde” weer ’n slag by die NWU se biblioteek op Potchefstroom uitgeneem het. Wat moes hy ontdek? Die stempelkaartjie voorin daardie boek het gewys dit was nog net een keer tevore uitgeneem – doer in die 1950’s. Deur homself, toe hy ’n jong dosent aan die toenmalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys was!

Cloete was ’n leser (en onthouer van wat hy gelees het) soos min. Sy gestremdheid, ’n uiteindelike gevolg van die poliomiëlitus wat hy in die 1940’s opgedoen het as jong student aan die Universiteit van Pretoria, het hom in ’n belangrike mate ’n lessenaarmens gemaak. So geteister deur siektetoestande was hy dat dokters in die 1970’s al gevrees het vir sy lewe, en hy enkele jare later moes aftree.

Tog het dié intellektueel alles wat buite en bo, selfs binne ons is, ewe liefgehad as boeke. Hy het tuingemaak, met voëls geboer, sterre gekyk, gestap toe hy nog kon, graag in die motor geklim en die wildernis gaan besigtig. Hy het ’n ryklike lewe bly voer tot hy een-en-neëntig geword het.

Vroeër vanjaar was ek teenwoordig toe iemand hom vra hoe hy op dié hoë ouderdom dit regkry om steeds aan meer as een boek gelyk te werk (waarvan hy geesdriftig aan ’t vertelle was). Hy het gesê ons moet hóm nie vra nie. Hy is seker maar ’n witbroodjie van God – ’n opmerking waaroor hy lekker gelag het. Die dag voor hy op 31 Mei 2014 negentig sou word, het hy sy motor gevat en Klerkskraaldam toe gery, ’n stuk of vyftig kilometer noordwes van Potchefstroom geleë. Van daar het hy die pad al langs die Mooirivier af tot weer terug in Potchefstroom gevolg. En Psalm 100 gesing, al vier die strofes, het hy vertel.

Nie die woorde van sy eie 2001-beryming nie; die ou woorde van Totius se omdigting. Dié was mos ook ’n Potchefstromer toe hy aan die Psalms gewerk het, doer in die 1920’s. Die tyd toe Cloete die eerste keer die lewenslig aanskou het op sy ouers se plaas in die Vredefort-distrik.

Daardie woorde van Totius was vir hom soos relieke, het hy verduidelik: konkrete oorblyfsels van die óú mense se vroomheid. In die ry het hy naderhand die ruite afgedraai. “Want goedertieren is die Heer, sy goedheid eindig nimmermeer.” Só het hy die wind in gesing. Hy wat gesukkel het om te verstaan waarom God juis hóm gekies het, hóm werkloos gemaak het om beskikbaar te word om oor God en Sy skepping digterlik te stamel in Afrikaans.

Hierdie “stamel”-tyd wat hom gegun is (hy het eers in 1980, op 56-jarige leeftyd, sy eerste digbundel gepubliseer), het een van Afrikaans se heel belangrikste religieuse digters opgelewer. Beskou ’n mens die eietydse literature in ander tale, byvoorbeeld die Nederlandse, dan lyk dit of religieuse digkuns tans ’n bietjie as ’n randverskynsel geag word. Nie in Afrikaans nie. Daarvoor het T.T. Cloete, saam met veral Sheila Cussons, gesorg.

Die fokuspunt in Cloete se digkuns is die dinamiese eenheid-in-verskeidenheid in die aardse en kosmiese verskynsels. Dít, veral, wou hy verken. Dié toespitsing het gespruit uit sy diepgesetelde Christelike oortuigings. Veral die skeppings-, onderhoudings- en bestierswerk van die goddelike Vader-figuur het hom aangegryp.

Dit was sy oortuiging dat ’n mens in die verweefde verskeidenheid van die skeppingsdinge as ’t ware die vingermerke van God kan waarneem. “Onversadig” en met “heilige nuuskierigheid” (soos twee van sy meer onlangse digbundels heet) het hy daarom as ’t ware deur die komplekse, dikwels teenstrydige werklikheid – ten spyte van die beperkthede van ons menslike vermoëns – op soek na die Godsopenbaringe gegaan. Dit digterlik vertolk. Die dinamiese spel tussen patroonvorming en variasie wat betref klankgebruik, woordgebruik en –skepping, vers- en sinsbou, is stilistiese en verstegniese illustrasies van dié soektog in sy gedigte.

Nie net tot die skatkis van die Afrikaanse religieuse digkuns het Cloete enorm bygedra nie. Ekologiebewustheid en -kommer is ’n tema van toenemende belang in die Afrikaanse poësie, en ook hierin het Cloete ’n sleutelrol gespeel. Van die mooiste liefdesgedigte en verse oor oudword in Afrikaans het uit sy pen gevloei.

Cloete het as Christelik-gelowige digter nooit weggeskram daarvan om ook die skadukante van die lewe en die werklikheid in sy gedigte te vertolk nie – in die later bundels uit sy oeuvre nog meer so. Om dit in terme van sy jongste gepubliseerde bundel te stel: sowel die lyflik-uitspattige en verworde “karnaval”-kant as die geestelik-opbouende en –skeppende “Lent”-sy van ons bestaan het onder sy digterlike loep gekom.

1980, die jaar waarin Cloete met “Angelliera” gedebuteer het, word soms as ’n belangrike datum met betrekking tot die nuwe aansien van die vaster versvorme in Afrikaans gesien. Sy rol hierin kan nie onderskat word nie. Hy is herhaaldelik bekroon vir sy bundels: meer as ’n dosyn keer, waaronder twee maal met die prestigeryke Hertzogprys.

’n Reus het genieters en koesteraars van die Afrikaanse letterkunde ontval.

  • Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool en vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s